Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die waterperk bring ons terug na die ou dae

In die ou dae, voordat ons wasmasjiene kon bekostig, is die week se vuil wasgoed sommer in die bad getrap. My ma het omtrent alles met die hand gewas. Wanneer groter stukke, soos matte, ter sprake was, is my pa ontbied om hand by te sit.

Wel, eintlik voete by te sit, want hy moes dan letterlik – onder ’n wakende ogie, natuurlik – in die bad klim en die matte trap totdat die waspoeier nie meer kon skuim maak nie.

As my pa dit nie na haar sin gedoen het nie, het sy eenvoudig self in die bad geklim en die matte soos die halleluja-trein gery.

Jare lank was dít op ’n Saterdagoggend die roetine in ons huis, en douvoordag, want my ma het steeds die reël dat ’n vrou se wasgoed die eerste sonlig moet vang.

Teen middagete lê en loer daardie klere uit die kas, netjies gestryk en gevou.

Die matte ruik en lyk ook weer soos die dag toe dit afgelewer is.

Onlangs kuier ek weer oor ’n naweek in die Kaap. Dis nou net my ouers in die huis oor, en teoreties behoort dit dus stiller te wees. Maar dis ’n Saterdagoggend en wasdag; en met mý ma is enigiets moontlik.

Daar is ’n vreeslike gesteun en gewoel in die badkamer. Later, toe ek my nuuskierigheid nie meer kon hou nie, klim ek uit die bed om ondersoek te gaan instel.

En wragtag, daar sit sy op haar knieë voor die bad.

En wragtag, daar sit sy op haar knieë voor die bad, net soos in die dae toe sy haar hande soms stukkend gewas het om te sorg dat ons nie lyk soos die arm mense wat ons was nie.

“En nou?” vra ek.

“Sê jy nie ‘môre’ nie?” antwoord sy.

Dit lyk of sy al ’n paar bondels kafgedraf het, want die emmer neffens haar het miskien nog net plek vir ’n paar kouse.

Ek durf nie daarop wys nie, want ’n mens mors nie met my ma wanneer sy ’n bondel wasgoed (of ’n besem!) in haar hande het nie. Die duiwel sit egter vanoggend op my regterskouer – en noudat 40 nader kruip, verbeel ek my ek is groot.

“Môre. Is die wasmasjien dan stukkend?”

“Waterbeperkings,” sê sy.

Met dié dat die Moederstad nou net meer as 100 dae se drinkwater oor het, het sy en my pa aan interessante maniere gedink om water te help bespaar. Die wasmasjien staan en stof vergaar, en daar is ’n skotteltjie water in die kombuiswasbak waarin die dag se glase vinnig uitgespoel kan word – sonder dat ’n kraan oopgemaak hoef te word.

My pa het tot ’n halwe baksteen in die toiletbak gesit sodat minder water gebruik word wanneer die toilet gespoel word. En behoede jou siel as jy te lank in die stort staan en dagdroom . . .

Dis mos eintlik hoe dit oral gedoen moet word, besef ek toe ek terug in my eie huis in Johannesburg is – selfs in ’n provinsie waar die waterbeperkings pas opgeskort is.

  • Price kan op Twitter by @ivorprice gevolg word.
Meer oor:  Ivor Price  |  Rubriek  |  Water
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.