Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dié week was ons tsotsilitici die groot nuus
Jana Luther

In die Woordeboek van Afrikaans vandag word weekliks nuwe woorde bygevoeg. Hier is ’n paar van April tot Junie se nuwe opnames (meer by afrikaans-vandag.co.za en in Pharos Aanlyn).

Vir diskriminasie teen gestremdes het Engels die woord “ableism”. Yvette den Brok, self gestrem, noem dit “validisme”. In haar boek Validisme en gender verduidelik sy die dubbele betekenis van “validiteit” (van Latyn “validus”, “sterk, aktief”). Letterlik beteken dit “waardigheid; om van waarde te wees”, maar wanneer ’n mens na iemand as ’n “invalide” verwys, kry “validiteit” ’n tweede betekenis: “iemand se liggaamlike, verstandelike en/of psigiese gesteldheid”. Daaroor gaan validisme: marginalisering en stigmatisering van mense as “onwaardig” teenoor “waardig”.

Nancy Ries, ’n antropoloog, munt die woord “thugocracy”; Hans Pienaar vertaal dit met “boewekrasie”: ’n “mafiastaat waarin boewekrate, in Suid-Afrika tsotsilitici, misdaad wetlik maak”.

Ander opnames bly met die covidpandemie verweef, wat die media hardnekkig met ’n hoofletter bly skryf. In Afrikaans is daar geen rede vir dié hoofletter nie: Die akroniem “covid” (met kleinletters) is, nes “vigs” (met kleinletters), ’n soortnaamwoord; nié ’n eienaam nie.

Trooskos en min oefening bring virusvetjies. Help-my-sterk-lyk-hempies hang in die kas of span om die bas; tuis kan ’n mens so bestakel lyk as wat jy wil.

Letterafkortings aan die ander kant, soos “WVH” (“werk van die huis af”), kry wel hoofletters, en dit lyk of dié een gaan bly. Suipsafari’s behoort tot die verlede. Voorlopig ook uiteet. Aan die orde is afhaalkoop. Vanuit bioborrels betaal dié wat kan vir aanlyn inkopies en dienste met wolkkaarte. Ons smag na aangesigtyd (direkte kontak, interaksie van mens tot mens), maar moet met afstandsgesprekke volstaan. In intimiteitsvakuums vind zoomzombies troos in kook en geniet.

Hoe lyk dit met akhni? Tradisionele hoenderkerrie-en-rys, soortgelyk aan brijani, of bollas, die kleiner weergawe van die tradisionele Kaaps-Maleise koesister. Faloeda is ’n koue nagereg van melk met roosstroop, vermicelli en soet basiliesaad; sriracha, ’n dik rissiesous met knoffel en asyn . . .

Trooskos en min oefening bring virusvetjies. Help-my-sterk-lyk-hempies hang in die kas of span om die bas; tuis kan ’n mens so bestakel lyk as wat jy wil. Grotsindroom (angs en sielkundige probleme by mense wat ná ’n lang tyd van isolasie sosiale aktiwiteite moet hervat) is anderjaar se kwelling.

In die derde golf janter ons aan, terwyl die meeste nog op ’n koronaprik wag, en anderjanstories ons geduld beproef. Gaan lees maar in die sosiale media Rappe se leëblikgerammel oor die elektroniese vaksineringsdatastelsel (EVDS). Hayibo. ’n Mens weet nie of jy oor soveel onkunde en wetenskapvrese moet xhoulag (hard, uit die maag uit, soos hulle in die Noord-Kaap doen), en of jy moet huil nie.

Gefrustreerde Hollanders is bekend daarvoor dat hulle in growwe taal ander maklik ’n siekte toewens. As voorbeelde noem die Dikke Van Dale: “Krijg het klere (cholera), heen-en-weer (papelellekoors), tering, pest!” Ons is mooier geleer. Maar wanneer Janne en Sanne met begailike bog kwesbare mense van inenting weerhou, begin ’n mens dié soort verwensing dalk net verstaan.

  • Luther is ’n mederedakteur van die WAT. Die mening van die skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
Meer oor:  Jana Luther  |  Woorde  |  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.