Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dié wenresep nog geldig

Hoekom het die aanbied van die Wêreldbeker-sokkertoernooi so ’n groot impak op ’n land, sy infrastruktuur, ekonomie, psige en trots – trouens, sy plek in die wêreld? En watter lesse uit 2010 is vandag steeds vir Suid-Afrika geldig? vra Pieter Cronjé.

’n Suid-Afrikaanse ondersteuner tydens 2010 se Wêreldbeker-sokkertoernooi in Suid-Afrika.Foto: liza van deventer

Vandag gooi Rusland sy deure, stadions en sokkerharte oop vir die wêreld.

In die Loezjniki-stadion in Moskou sal ’n skare van nagenoeg 80 000 die luisterryke openingseremonie om 14:30 (SA tyd) gadeslaan. Net 30 minute daarna speel Rusland en Saoedi-Arabië teen mekaar in die eerste wedstryd van die 2018- Wêreldbeker-sokkertoernooi.

Meer as die helfte van die wêreld se 7,6 miljard mense gaan oor die volgende 30 dae iets van die toernooi in Rusland op televisie sien.

Altesaam 32 spanne gaan 64 wedstryde in 12 stadions in 11 Russiese gasheerstede speel.

Suid-Afrika is, helaas, afwesig. In 2010 was dit “Ke Nako” (“Ons tyd”), maar nie weer in Brasilië in 2014 of nou in Rusland nie.

Nogtans gaan miljoene Suid-Afrikaners opgewonde en met heimwee en wonderlike herinneringe aan ons eie 2010-Wêreldbekertoernooi die aksie volg.

Suid-Afrika is, helaas, afwesig. In 2010 was dit “Ke Nako” (“Ons tyd”), maar nie weer in Brasilië in 2014 of nou in Rusland nie.

Sokkerliefhebbers gaan hierdie name leer ken: Moskou, St. Petersburg, Sotsji, Kazan, Nizjni Nowgorod, Samara, Rostof-aan-Don, Wolgograd, Kaliningrad, Jekaterinboerg en Saransk.

Dié gasheerstede lê versprei oor die land met die grootste landoppervlak ter wêreld – 17,1 miljoen km² en ’n bevolking van 144 miljoen.

Dis ’n land met ’n lang, soms wrede geskiedenis, maar wat komponiste soos Tsjaikowski, Rachmaninoff en Sostakowitsj, ’n ruimtevaarder soos Gagarin, politieke leiers soos Lenin, Stalin en Trotski, en sokkergrotes soos Jasjin, Iwanof en Dasa­jef opgelewer het.

Ja, maar . . .

Rusland se tema vir sy toernooi is “Sokker vir vriendskap”. Dit herinner aan Duitsland in 2006 se “Tyd om nuwe vriende te maak”.

Dít is die krag van ’n Wêreldbekertoernooi. Televisiekykers en besoekers sien en ervaar baie meer van die land en sy mense as die aksie in die stadions.

Die drama en opwinding in die stadions het ’n beproefde sukses­resep en reëls. Fifa sorg daarvoor.

Lank voor die toernooi en lank daarna kom besoekers, sakelui en beleggers in jou land aan. Hulle soek ’n unieke ervaring, ’n sake- of beleggingsgeleentheid.

Die drama en opwinding in die stadions het ’n beproefde sukses­resep en reëls. Fifa sorg daarvoor.

Dis die gasheerland se verantwoordelikheid – en geleentheid – om ongunstige indrukke of stereotipering van jou land nie net te weerlê nie, maar te verplaas met jou eie, unieke en egte gasvryheid, hartlikheid, diens, kultuur, musiek, bly- en eetplekke, tradisionele kos en drank. Geen ander land kan jou dit nadoen nie.

Bemarking, ook vir ’n land, is in wese differensiasie: Hoe is jy anders en/of beter as vergelykbares?

Daar is baie ekonome, kritici, politici, aktiviste, ontleders, kommentators en joernaliste wat sinies en krities is.

Hulle sê die Wêreldbekertoernooi bevoordeel net die korruptes in die regering, die Blink Stefaanse van Fifa, kaap lande se begrotings vir vertonerigheid, pleks van armes se behoeftes. En die armes wat straatsokker moet speel, kan nie duur wedstrydkaartjies bekostig nie.

Gasheerlande sit agterna met wit olifante wat verval of duur instandhouding verg.

Gasheerlande sit agterna met wit olifante wat verval of duur instandhouding verg.

Sommige staaf hul argumente met syfers. Korrupsieklagtes en die vertrek van Fifa-hoës het dié argumente gesterk.

Baie mense koester té hoë verwagtinge van die toernooie en word dan teleurgestel. Die toernooie is en was nog nooit ’n towerstaf wat armoede wegvee en skole, hospitale en huise bou nie.

Dit is ’n reuse-sportbyeenkoms wat stadions en oefen- en blyplekke nodig het. Dan moet daar vervoerstelsels wees om die skares by die wedstryde en terug te kry, en natuurlik moet almal veilig voel.

Die res is ’n bonus.

Die positiewe keersy

Die gasheerland het die geleentheid én verantwoordelikheid om die toernooi te gebruik as ’n slim hefboom en katalisator om sy land positief te bemark, nuwe infrastruktuur te skep, bestaande infrastruktuur op te knap, toeriste, sakelui en beleggers te lok en te beïndruk, en die hele proses te beplan vir ’n maksimum bydrae tot sy ontwikkelingsdoelwitte.

Suid-Afrika het onder meer gebaat by beter openbare vervoer.

Die eertydse minister van finansies, Pravin Gordhan, het bereken dat Suid-Afrika se 2010-toernooi R38 miljard (’n 0,4%-toename in die bruto binnelandse produk) tot die ekonomie bygedra het.

Die regering het meer as R33 miljard belê in infrastruktuur en voorbereiding, waarvan R12 miljard aan stadions en R11 miljard aan vervoerinfrastruktuur bestee is.

Baie mense verlang terug na daardie wonderlike 30 dae en die aanloop en opbou van die gees.

Die land was ’n miernes van hyskrane, paaie, verfraaiing en sokker-Vrydae. In sakeondernemings is sokkertoernooie gespeel en kinderpartytjies was sokker speel, koek en koeldrank.

Suid-Afrikaanse vlaggies op motors, Bafana-klere, allerlei aandenkings, sokkermanie in skole, maatskappye, gemeenskappe – ja, selfs kerke – het ons land en mense ’n nuwe, heerlike sy van onsself laat sien.

In Kaapstad was die totale belegging uit die owerheidsektor R12,4 miljard.

En die wonderlike/verpeste vuvuzelas is ’n weghol-uitvoerproduk wat ’n fassinerende, kleurryke, ryke en prettige Suid-Afrika versinnebeeld.

Ons vergeet soms watter infrastruktuur, opknappings en nuwe dienste regstreeks uit die aanbied van die Wêreldbekertoernooi gespruit het of daardeur werklikheid geword het.

In Kaapstad was die totale belegging uit die owerheidsektor R12,4 miljard.

Hieronder tel die Kaapstad-sta­dion, die MyCiTi-busdiens, die Groenpunt Stedelike Park, die M5- en Hospitaaldraai-padwisselaars, voetganger-oorbrûe, opknappings aan die Athlone- en Philippi-stadions, die Parade, die Kaapstad Interna­sionale Lughawe, Kaapstad-stasie en die verfraaiing van verskeie dele.

Daar was duisende vrywilligers wat met opleiding, blootstelling en wêreldvlak-ervaring meer bemarkbaar in die arbeidsmark was, township-toerisme het ’n hupstoot gekry en plaaslike artikels en handewerk was hoog in aanvraag.

In die Kaap is 3 000 aspirant-kunstenaars vir sukses op die verhoog afgerig. Uit hul geledere is 160 gekies om op te tree op die Wêreldbeker-verhoë in Kaapstad en het só ’n loopbaan begin.

SA se suksesresep

Wat was Suid-Afrika se suksesresep wat doemprofete verkeerd bewys het?

  • Die droom om die wêreld se grootste sportgebeurtenis ná jare se uitsluiting weens apartheid aan te bied – die eerste keer in Afrika;
  • Die aanloklike vrugte van sukses was nuwe of opgeknapte stadions, vervoerstelsels, paaie, lughawens en openbare ruimtes; ’n internasionale bemarkingsgeleentheid van ses jaar wat geen geld kan koop nie; en die kans om 1994 se reënboognasie werklik te verenig;
  • Die straf vir mislukking was te aaklig om te bedink – as Fifa die toernooi weens ons gebrou weggeneem het, sou ons vandag nog ons koppe in skaamte laat sak het;
  • Ons politici het vir ’n kosbare tydperk steeds oor ander sake baklei, maar vir die Wêreldbekertoernooi saamgewerk;
  • Nasionale, provinsiale en plaaslike regerings het saamgewerk en hul begrotings, planne en werk belyn. Dié ekonomiese vonk het die private sektor oorreed om te belê; en
  • Dalk die belangrikste was dat Suid-Afrikaners trots was, mekaar gevind het soos in 1994 se verkiesingstoue, en geweet het: Ons kán.

Hierdie wenresep is nog geldig – dit kort net leierskap.

Cronjé is ’n onafhanklike internasionale konsultant en was ook Kaapstad se kommunikasie­direkteur en Wêreldbeker-woordvoerder. Hy is ná die 2010-toernooi na Brasilië en twee maal na Rusland genooi om daardie lande met hul voorbereiding vir 2014 en 2018 te help.

Meer oor:  Rusland  |  Wêreldbeker-Sokkertoernooi  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.