Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dié winter eet ons groentesop en dommelinge
Jana Luther

Aan die einde van die eerste jaar n.c., ná die koms van Covid-19, baar die Covid-19-pandemie steeds nuwe woorde. Letterlik honderde van die woorde wat ons vandag gereeld in die hoofstroommedia lees, het ons ’n jaar gelede, in die tyd v.c., nie geken of ooit gebruik nie.

In die Woordeboek van Afrikaans Vandag word baie van dié, maar ook ander hedendaagse én ouer woorde opgeneem. Hier is ’n paar van Desember tot Februarie se nuwe inskrywings (meer op afrikaans-vandag.co.za en op Pharos Aanlyn):

Soos gewoonlik hou heelparty aanwinste met eet verband. Op die tafel is geregte van elders, soos Italiaanse calzone (dubbelgevoude pizza met ’n vulsel), Sentraal-Amerikaanse tamale (mieliedeeg in blare gestoom) en piñatakoek (waaruit lekkergoed rol wanneer dit gesny word), maar daar is ook eg Suid-Afrikaanse troos- en straatkos.

Uit die Kaap kom dommelinge. Lize Lübbe skryf: “Ek pak eendag my inkopies by die kasregister uit. Die kassiere merk toe op: ‘Ek sien mevrou gaan sop kook. Dis die regte weer daarvoor. Sop met dommelinge in.’ Ek dink vinnig. ‘Bedoel jy kluitjies, soos die Engelse dumplings?’ ‘Ja,’ antwoord sy, ‘maar die Afrikaanse woord is dommelinge.’ ”

Die Afrika-vetkoek, so groot soos ’n appel, ook “amagwinya” genoem en soms tot “gwinya” verkort, is KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap se gewildste wegneemkos.

Op pad werk toe in Johannesburg stop Karien Brits, in 2020, op haar fiets soms by ’n ouma wat magwinya (vetkoekies) verkoop. Die Afrika-vetkoek, so groot soos ’n appel, ook “amagwinya” genoem en soms tot “gwinya” verkort, is KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap se gewildste wegneemkos.

In Gauteng, Limpopo en Mpumalanga maak die kota, die townshipburger, meer mae vol. In die kotawinkel van ene John word daagliks tot 600 brode in 2 400 kotas – kwarte – gesny, uitgehol en met bestanddele soos slaptjips, polonie, eier, kaas, atjar en tamatiesous gevul.

In Namibië word kapana, stukkies beesvleis, op informele markte gebraai en direk van die braai af verkoop. Ten tyde van die inperking word menige kapana-onderneming van die huis af bedryf, berig Republikein, Windhoek se Afrikaanse koerant.

In repies gesny sodat niemand hoef te njarra, hoef te sukkel om die vleis met die tande van die been af te kry nie.

Die woord “kapana” behoort tot Oshiwambo, een van Namibië se sowat 30 nasionale tale. Dit kom oorspronklik van die Afrikaanse “pan”, of dalk die Duitse “Pfanne”, waarin die vleis gebraai word, maar ná leksikale wysiging verwys “kapana” nou na die lekkerny self. In repies gesny sodat niemand hoef te njarra, hoef te sukkel om die vleis met die tande van die been af te kry nie. (“Geelsuiker njarra die sagte vleisies tussen die skaapstertbeentjies uit”, skryf Lize Albertyn-du Toit in Die kinders van Spookwerwe, 2019.)

En terwyl die vleiseters hul vleislus bevredig, bemeester laboratoriums al hoe vinniger die kuns van vleiskweking. Hoe lyk dit met ’n stukkie kweekvleis? Gekweekte vleis, laboratoriumvleis, in vitro-vleis; vleis wat in ’n fabriek uit stamselle van diere gekweek word – teenoor natuurlike vleis van diere wat geslag word. Kweekvleisburgers smaak vorentoe, sê dié wat dit al geproe het glo.

  • Luther is ’n mederedakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.
Meer oor:  Jana Luther  |  Taal  |  Afrikaans  |  Vetkoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.