Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die wit lig van ’n lantern bly in ons lewe brand
Annelie Botes

Dis al jare dat ek aan die gryse torring om iets te patenteer.

Hy is ’n handige man wat slim is met drade en konneksies, want dit is wat hy vir 43 jaar by Telkom gedoen het. Eintlik wil ek hê hy moet ons stinkryk boer uit die een of ander patent.

Alhoewel ek nie ’n vrou is wat geld najaag nie, is dit ’n faktor wat ingetel moet word. Het jy dit nié, en jy moet pienk polonie eet terwyl jy kwyl vir ’n mootjie salm, kan dit ’n gesukkelte afgee. ’n Paar miljoen uit ’n patent kan handig inpas.

Só kom ek week vir week, terwyl ons ons oggendkoffie op die stoep drink, vorendag met ’n plan vir ’n patent. Planne soos watersirkulerende sproeiers op die daknok. Vensters wat met die druk van ’n knoppie self was en afdroog. ’n Matras wat jou snags koel hou. ’n Skokstok om kikoejoegras uit te roei. ’n Geprogrammeerde tokkelossie wat met platgetrekte ore in die huis rondhardloop terwyl die huismense weg is.

Hy is nie ’n man wat maklik geroer word nie. Telkens sê hy net: “Hmmm . . . Dit bestaan klaar.” Help nie ek vra internet­bewyse nie, dan moet ek hoor ek hou my slim, of ly aan jeuksiekte. Boonop is hy afgetree en ek moenie vir hom ’n skroppie (dis ’n ander woord vir ’n deeltydse joppie) soek nie.

Aanváár ek het die IK van ’n muf bruin brood. En wees dankbaar ek het die lanterns raakgeloop.

In die tyd van benouende beurtkrag voor Kersfees kom hy by die huis met drie wonderligte wat hy by ’n ysterwarewinkel gekoop het vir R200 stuk. Een vir elk van ons huis se kamers, een vir die leefarea. Dis ’n herlaaibare LED-lantern met drie kragstrome – flou, medium, sterk. Dit bly ingeprop en laai terwyl die krag aan is. Skop die krag af, skakel dit self aan. Op volsterkte kan dit 20 uur hou; op flousterkte 80 uur. En dit het die kapasiteit om ’n selfoon te herlaai.

Mensig, dit brand met die wit lig van ’n gaslamp, soos wat ek in my kinderjare geken het. Ons loop ons nie meer vas in lessenaarhoeke en toe deure nie. Of struikel oor die slapende kat nie. Die huis ruik nie na gesnuite kers nie. Ons kan moeiteloos lees. Ek kan brei en kraletjieswerk doen. Die rekenaar se toetsbord is nie in skadu gehul nie. Ons selfone word nie pap nie.

Dis asof ek uitsien na beurtkrag, want dan voel dit asof ons huis die Betlehemslig van die meenthuisstraat is. ’n Lig sonder motte.

“Jý kon dit gepatenteer het,” slinger ek ’n verwyt na die gryse. “Veronderstel jy kry R20 pantentgeld op ’n lantern, en daar verkoop ’n miljoen lanterns . . .”

“Wens in jou een hand en akkies in die ander hand,” sluk hy aan sy stoepkoffie, “en kyk in watter hand is die meeste. Aanváár ek het die IK van ’n muf bruin brood. En wees dankbaar ek het die lanterns raakgeloop.”

Is waar. Al is ons land driekwart aan flarde, leef die hoop voort dit sal verander. Soms eet ons salm. En leef in donkermaantye in die lig van ’n lantern, met of sonder motte.

Vir nou is dit genoeg.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Latern  |  Selfone  |  Kerslig  |  Kragonderbreking  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.