Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dié wit mense leer net nie
Amanda Gouws

Daar was Penny Sparrow, Vicki Momberg en nou is daar Adam Catzavelos.

Daar is blykbaar wit mense wat ’n onvermoë het om uit ander se ervarings te leer of om te verstaan hoe die teikens van rassisme benadeel word. Dit gee ook alle wit mense ’n slegte naam.

In die boek Race Trouble (2011) skryf die outeurs dat al ons rasse moeilikheid ervaar, maar dit speel op verskillende maniere vir swart en wit mense uit.

Vir swart mense is daar die stigma wat gegrond is op vooroordeel soos byvoorbeeld luiheid, onbekwaamheid en onnoselheid.

Vir wit mense is daar die stigma van rassisme – dat alle wit mense rassisties is en dat dit nie saak maak wat jy doen nie, hierdie etiket kan nie ontsnap word nie.

Wanneer een mens soos Catzavelos ’n rassistiese video die wêreld instuur, raak dit sowel swart as wit mense.

Vir albei groepe is dit dus ’n deurlopende stryd om hierdie stereotipes verkeerd te bewys. Wanneer een mens soos Catzavelos ’n rassistiese video die wêreld instuur, raak dit sowel swart as wit mense.

Baie sou redeneer dat ons die video behoort te hanteer met die minagting wat dit verdien, maar dit is nie so eenvoudig nie.

Eusebius McKaiser in Run Racist Run (2015) praat van “rassisme-kwitansies” wat swart mense moet gee om te bewys dat hulle regtig deur rassisme geraak word, of dat hulle werklik benadeel is.

Hy skryf die volgende:

“But imagine, as absurd and even callous as the thought might be, that I got a receipt as a victim of sexual violence which I could keep and produce every time I doubted myself or someone else doubted me . . . imagine that some authority . . . concluded I was a victim issues me with a receipt for the violation.”

Elke keer wat ’n wit persoon iets sê of doen wat alle swart mense beledig, vra ons eintlik vir swart mense om vir ons ’n kwitansie te gee om te wys dat hulle beledig is. Dit is die probleem met diegene wat dink dat Catzavelos se oortreding nie so erg was nie.

Sara Ahmed, ’n feministiese teoretikus, redeneer dat ’n voorval van seksisme of rassisme nie beoordeel kan word sonder om dit te sien in die kollektiewe geskiedenis van pyn waaraan mense vir baie lank blootgestel is nie.

Die geskiedenis van kolonialisme en apartheid posisioneer swart mense op ’n sekere manier in Suid-Afrika wat hulle baie meer vatbaar maak vir die pyn van rassisme.

Ek is moeg van wit mense wat die vertroue afbreek wat ander wit mense met moeite probeer opbou sodat hulle nie met die stigma van rassisme moet saamleef nie.

Hulle hoef nie kwitansies uit te haal om te wys dat Sparrow, Momberg of Catzavelos daardie rou wond oopgekrap het nie. Maar elke keer wat ’n rassistiese voorval plaasvind, word alle wit mense as aandadig beskou.

Ek stel nie in Catzavelos se verskoning belang of hoe sleg dinge vir hom uitgedraai het nie. Dat die rassistiese video in die eerste plek gemaak is, spreek van óf die ongelooflikste onkunde óf arrogansie.

Ek is moeg van wit mense wat die vertroue afbreek wat ander wit mense met moeite probeer opbou sodat hulle nie met die stigma van rassisme moet saamleef nie.

Die Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdaad en Haatspraak is in Maart 2018 in die parlement ingedien met die oog daarop om onder meer rassisme te bekamp.

Dit is volgens die meeste ontledings ’n drakoniese wetsontwerp wat vrye spraak sal inperk en oortreders kan selfs tronkstraf opgelê word.

Die logiese gevolg van hierdie wet sal wees dat ons mense se verhoudings met mekaar met ’n wet gaan bestuur eerder as om met mekaar in gesprek te tree.

Hoe gaan ons rassisme só verminder?

  • Prof. Gouws doseer politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Amanda Gouws  |  Rassehaat  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.