Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die wonder van deesdae se puik weervoorspellings

’n Mens kan nie help om te hoor wat mense om jou sê nie, soveel so dat ek nou al ’n hele lys kan maak van dinge wat deesdae glo nie meer so goed as destyds is nie.

Foto:

Hier is ’n paar: Kitskoffie, foksterriërs, klubrugby, hoesstroop, muntstukke, die Top 20, strokiesprente, potlode, Rice Krispies, braaihout en sinkplaat . . . En dit net die dinge wat nié die ANC of ou NP se skuld is nie.

Een ding wat wel die afgelope klompie jare verbeter het, is weervoorspellings. Dit het ek besef toe ek ongeveer tien jaar gelede my kinders na ’n lugskou op Bredasdorp geneem het.

Op pad soontoe het ek hulle begin opwerk oor die skouspel wat hulle kon verwag – die Silwer Valke, valskermspringers, ’n skynaanval, lae verbyvlugte en dalk ’n paar Harvards of ’n Tiger Moth.

Toe ons negeuur die oggend daar aankom, het dit gereën en al die vliegtuie het eenkant gestaan. Die teleurstelling was groot en die verwyte pertinent.

Toe kom die aankondiging oor die luidsprekers: Die vliegskou sal om 11:35 hervat word, want die YR-weerdiens sê dit sal dan ophou reën. En twee ure later, om presies 11:35, het dit inderdaad oopgetrek en kon die vliegtuie opstyg.

Ek het toe gaan uitvind oor YR. Dit beteken “motreën” en is ’n Noorweegse diens wat met behulp van satellietdata en 500 weerstasies voorspellings kan maak vir enige blok van 2,5 km² op die aardbol.

Dit is merkwaardig, want ek kom nog uit ’n era toe weervoorspellings dikwels ’n effense raaiskoot vir ’n hele streek was. “Gedeeltelik bewolk tot bewolk aan die kus en mooiweer en matig in die aanliggende binneland,” onthou ek die radio-omroepers se voorspellings van destyds.

Elke dorp en elke plaas het sy eie formule gehad om sy weer te voorspel.

Elke dorp en elke plaas het sy eie formule gehad om sy weer te voorspel. Kapenaars sou vir jou met selfvertroue sê dit gaan reën, want daar lê ’n wolkkombersie oor Leeukop se kruin. Op ander plekke sou iemand na die hoë vlieswolkies beduie en sê: “Perdesterte . . . Die wind steek op, die weer kom aan.”

In baie huise was daar ’n barometer teen die leefkamer se muur. “Die glas val,” sou iemand afkondig, en as tant Baby se knieë boonop begin pyn, was dit ’n teken dat meer as net ’n stofreëntjie sou uitsak.

Dertig, veertig jaar gelede het my surfer-vriende altyd eers die Springbok-kafee in die Strand gebel om by die man agter die toonbank te hoor hoe lyk die wind en branders daar by hom.

Op grond van wat hy sê, sou hulle dan besluit Koeëlbaai is die plek waar die branders vandag sal pomp.

Deesdae voorspel Windguru vir seilplankryers die windsnelheid, golfhoogte én tydsinterval tussen golwe by Melkbosstrand. Op Kobus Botha se webwerf kry jy pragtige Eumetsat-foto’s, infrarooibeelde en weerligkaarte. Op CNN sien jy hoe die siklone soos groot wit tolbosse na Kuba en Florida aangerol kom.

Maar in billikheid teenoor die weermanne van vroeër, van die avonture wat ek die langste onthou, was weens onbetroubare weervoorspellings.

Die kere toe ons niksvermoedend gaan kamp het en die hele naweek in ’n tent vasgekeer is, of die talle kere toe ek amper op ’n motorfiets verkluim het.

Onvergeetlik!

  • Booyens is ’n vryskutskrywer.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.