Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die Zondo-kommissie gee SA hieroor hoop
Llewellyn Prince

Die Zondo-kommissie het toe sy eerste slagoffer geëis – ’n hooggeplaaste Valke-ondersoeker – en dít kan die land hoop gee dat almal wat betrokke was by die plundering van die staatskas tóg daarvoor aanspreeklik gehou sal word.

Die vinnige optrede deur die Valke kan ook help om vertroue in dié eenheid te herstel. Sy reputasie het erg gely weens onthullings dat dit onder leiding van sy nou afgedankte hoof, lt.genl. Berning Ntlemeza, alles moontlik wou doen om enige ondersoeke na staatskaping in die kiem te smoor.

Mcebisi Jonas, oud-adjunkminister van finansies, het voor die kommissie onthul hoe genl.maj. Zinhle Mnonopi, hoof van die Valke se korrupsietaakspan, probeer het om die ondersoek na Ajay Gupta se beweerde omkoopaanbod van R600 miljoen aan Jonas om minister van finansies te word, “dood te maak”.

Die nuwe Valke-hoof, lt.genl. Godfrey Lebeya, het dae later aangekondig Mnonopi is hangende ’n interne ondersoek geskors.

Die kommissie se getuienisleiers het dit verlede week pertinent gestel dat daar uit die getuienis reeds ’n patroon te sien is van hoe Valke-ondersoekers destyds probeer het om hul eie ondersoeke na staatskaping onder die mat te vee.

Brig. Hangwani Mulaudzi, Valke-woordvoerder, het in ’n televisie-onderhoud wéér die versekering gegee dat die Valke-bestuur sal optree teen enige van sy lede wat by staatskaping betrek word.

Opvallend is dat Zuma sr. nog nie formeel aansoek gedoen het om getuies te kruisondervra nie.

Die Valke se optrede teen Mnonopi is wyd verwelkom, met Francois Beukman, voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie, wat gister gesê het die komitee is verheug, veral omdat die Valke op die voorgrond moet wees om op te tree teen georganiseerde en ernstige ekonomiese misdade.

Intussen het die Zondo-kommissie ook gehoor dat die voortvlugtige Gupta-broers, sowel as Duduzane Zuma, oudpres. Zuma se seun, en die sakeman Fana Hlongwane almal aansoek gedoen het om getuies soos Jonas, Vytjie Mentor, voormalige ANC-LP, en Themba Maseko, voormalige GCIS-hoof, wat reeds getuig en hulle by staatskaping betrek het, te kruisondervra.

Ajay Gupta het luidens berigte selfs die vermetelheid gehad om die kommissie te versoek om getuies deur ’n videoskakel vanaf sy wegkruipplek in Dubai te kruisondervra “weens sy wantroue in die polisie en die nasionale vervolgingsgesag”. Dit kan aangeneem word dat hy vrees hy sal in hegtenis geneem kan word die oomblik as hy in Suid-Afrika land.

Opvallend is dat Zuma sr. nog nie formeel aansoek gedoen het om getuies te kruisondervra nie.

Die kommissie se voorsitter, adjunkhoofregter Raymond Zondo, het vroeër aangedui die kommissie is bereid om almal wat deur getuienis geïmpliseer word die geleentheid te bied om voor die kommissie te getuig as hulle enige getuienis wil betwis.

Dit wys duidelik dat Zondo deeglik agter die kap van die staatkapingsbyl wil kom. Dit is noodsaaklik, veral as sy kommissie nie dieselfde pad wil loop as talle vorige kommissies wie se bevindings op die ou einde net warm lug was nie.

  • Prince is Netwerk24 se parlementêre verslaggewer.
Meer oor:  Llewellyn Prince  |  Staatskaping  |  Sa  |  Zondo-Kommissie  |  Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.