Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Onthullings oor Zuma gaan nog kom
Pres. Jacob ZumaFoto: leon botha

Die stryd om van Jacob Zuma ontslae te raak is ’n halfmarathon, nie ’n resies nie.

Ten spyte van sy oënskynlike oorwinning op die vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) die naweek lyk dit steeds toenemend onwaarskynlik dat hy dié tyd volgende jaar steeds president van Suid-Afrika gaan wees.

Die eerste prys vir diegene in en buite die ANC wat meen dit is in nasionale belang om van Zuma ontslae te raak, bly dat sy voorkeurkandidaat nie in Desember die paal op die ANC se verkiesingskonferensie haal nie.

Dit sal dit moontlik maak om Zuma vroeg in 2018 te “herontplooi”, soos met Thabo Mbeki gemaak is.

Die naweek se konfrontasie, sê iemand uit die anti-Zuma kamp vir my, was nie heeltemal onverwags nie, maar was suksesvol in die sin dat dit die druk op hom verder geëskaleer het. “Anders as in November (die vorige keer toe so ’n mosie voorgestel is) het hy dié keer gewys ons kan deur sy mondering dring. Hy het vuur gespoeg.”

Naakte vrees is ’n groot rede waarom soveel lede van die NUK nie teen Zuma wou opstaan nie.

Zuma was immers in die lokaal waar die mosie van wantroue bespreek is en het elke deelnemer aan die debat in die oë gestaar. Mense in die ANC-binnekring wéét waartoe hy en sy bulhonde in staatsveiligheid in staat is, en baie van hulle vrees vir hul daaglikse brood.

Zuma se kragdadige optrede voor die NUK gaan ANC-parlementslede wat oorgehaal was om vir ’n parlementêre mosie teen hom te stem dalk twee keer laat dink.

Naakte vrees is ’n groot rede waarom soveel lede van die NUK nie teen Zuma wou opstaan nie.

Maar een ding is vandag baie seker: Die konstante drup-drup van oopgevlekte skandale gaan nie net voortduur nie, dit gaan ’n sterk stroom word.

Die skandale kom uit drie bronne: ondersoekende joernaliste en boekskrywers wat diep grawe; senior politieke teenstanders wat op verdoemende getuienis sit en dit bietjie vir bietjie bekend maak; en ’n paar fluitjieblasers wat uiteindelik hul gewete vind.

Ek dra persoonlik kennis van inligting oor Zuma-skandes wat al meer as ’n jaar gelede deur ondersoekers in diens van die staat aan senior ministers en ANC-leiers gegee is.

Die meeste hiervan is nog nie bekend gemaak nie.

Die probleem is dat die burgery al so vuisvoos van skandaal op skandaal is dat niks juis meer op ons Richterskaal registreer nie.

Boonop was die Zuma/Gupta-kamp nogal suksesvol om, met die hulp van ANN7 en betaalde agente op sosiale media, alle kritiek op Zuma as ’n veldtog van “witmonopoliekapitaal” en skelms in hul diens af te maak.

Uiteindelik gaan van die skandale in die hof draai, maar dit duur partykeer maande. Zuma se span is briljant om die regstelsel te speel en tyd te wen, maar dié speletjie se tyd is ook besig om uit te loop.

Zuma en sy binnekring weet dit, vandaar Plan B om skielik op ’n vliegtuig te klim en in Dubai te gaan woon waar sy blessers, die Gupta-familie, reeds ’n paleis besit.

Daar is genoeg aanduidings dat daar reeds voldoende geld vir Zuma in Dubai is om in groot luukse te woon.

Terloops, onthou jy nog dat die destydse Ugandese diktator Idi Amin in 1979 eers Libië en toe Saoedi-Arabië toe gevlug het en tot sy dood soos ’n koning daar gewoon het?

Maar daar is nog gróót geld vir die Zuma-hiënas om in Suid-Afrika te maak, en daarom word Plan B tot die laaste uitgestel. Die Russiese kernkragstasies is ’n voorbeeld.

Die Zuma-spookstaat spook voort, want die skrif aan die muur is nog maar dof.

Meer oor:  Max Du Preez  |  Menings  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.