Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Diegene besluit intelligent oor hul gevoelens
Annelie Botes

Ten tyde van die inperkingstilte vanjaar was daar tyd om na te lees oor sake waaroor ek weetgierig is. ’n Saak wat my fassineer, is emosionele intelligensie (EI).

Watter eienskappe maak jou emosioneel intelligent? Wat is tekens dat jou EI op ’n krakerige stasie is?

Die internet gee die definisie as “die vermoë om bewus te wees van jou emosies; dit te beheer en sinvol uit te spreek; om interpersoonlike verhoudinge met verstandigheid en empatie te hanteer”.

Nogal ’n bek vol. Want waar begin jy? Dis ’n wye veld en onbegonne om aan die volle omvang reg te laat geskied in ’n kort rubriek. Dus gaan ek stilstaan by enkele aspekte wat mý grensloos irriteer.

Emosioneel intelligente mense neem verposings. Hulle dínk voordat hulle onnosele besluite neem of bitsige antwoorde gee gegrond op driftige emosies van die oomblik. Soos tel tot by tien. Sodoende vermy hulle wrang vyandskappe en stapel nie duisende pligte op hul skouers nie.

Hulle is nie people pleasers wat vir alles ja sê en dan blyk dit onmoontlik om die ja’s na te kom nie. Hulle ken hul grense en weet hulle gaan dié wat op hulle staatmaak, teleurstel en hul woord van eer skade aandoen.

Dis ook hulle wat – deur vorentoe te dínk – nie toelaat dat hulle gekaap word deur bloed­suiers, skinderbekke en swendelaars nie.

Hul waardestelsel verseg om mense te bevark. Eerder as om te skuil agter die skuiwergate wat vir hulle ’n hofsaak kan wen, is dit ’n opregte prioriteit om andere se vertroue te wen.

Mense wat boodskappe eindeloos laat ophoop, tot algar se frustrasie, is emosioneel nat agter die ore.

Hulle speel nie spook-spook met ydele beloftes nie. As hulle sê hulle gaan die vergadering bywoon of hulle ontmoet jou 13:00 by ’n koffieplek, kan jy daarop reken. Iemand wat alewig op die nipper ’n afspraak kanselleer, of nie opdaag nie of voorgee daar was al wéér ’n krisis met skoonma se heuppotjie wat uitgehaak het, is ’n emo­sionele groentjie. Met zero respek vir iemand anders se dagboek. Net sýne tel.

As jy aan ’n emosioneel intelligente mens ’n antwoordvergende WhatsApp of e-pos stuur, of ’n boodskap los, antwoord hy getrou.

Mense wat boodskappe eindeloos laat ophoop, tot algar se frustrasie, is emosioneel nat agter die ore. Hulle het beheer verloor in die rotresies wat hulle self skep. Dan fabriseer hulle gladdebek-leuens wat jy ’n myl ver kan ruik. Skynbaar besef hulle nie leuens en strooistories het ’n onmiskenbare reuk nie. Hulle glo jý is die dom een wat hul slimstories vir soetkoek opslurp.

Ons almal maak soms ’n glips, vergeet iets, maak ’n dubbele afspraak of vererg ons op die ingewing stink. Niemand is ’n volmaakte engeltjie nie. Maar meestal erken ons ons dwaling en probeer dit herstel.

In 2021 wil ek meer bedag wees op mense met ’n lae EI en my lyf skaars hou by diesulkes. En ek wil allerdringend my eie EI onder die vergrootglas betrag.

Meer oor:  Menings  |  Stemme  |  Annelie Botes  |  Van Alle Kante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.