Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
#DieLand: Dis ’n storm in ’n glasie water
Gerhard van Huyssteen

As ek en my een hondjie soggens nog so ’n bietjie in die kooi lê en wag op die hoenders om wakker te word, is dit Twitter-tyd.

Verlede Woensdag, 17 April, ontwaak ek midde die oog van (nog) ’n Afrikaanse Twitter-storm: die #DieLand-en-#Ghoemas-debakel. Genoeg om my met die verkeerde voet uit die bed te laat klim.

Ek loop ’n paar dae met ’n grys wolk oor my kaal kop rond.

Sien, ek is onbeskaamd ’n liefhebber van Afrikaanse popmusiek: van Gé tot Elandré en anderkant uit. Ek luister ook by geleentheid graag na Coenie en Anna en Willim, maar as ek oefen of stap of in my swembad dryf, soek ek popmusiek. Onbeskaamd, want net omdat iets kommersieel, populêr of in-die-stort-singbaar is, beteken nie dit is van die Bose nie.

Net so min soos wat dit beteken dat ek enigsins ’n aptyt het vir die wapper of sing van apartheidsimbole . . .

Om die Babalela aan te haal: “Los my uit!”

Om die Babalela aan te haal: “Los my uit!”

As daar nou een ding is wat my dwars in die krop steek, dan is dit dese en gene wat Afrikaans misbruik vir hul eie (politieke) agendas.

Praat ons oor kwotastelsels in sport, dan word Afrikaans aan die hare bygesleep. Grondonteiening en plaasmoorde? Afrikaans is een van die slagoffers. Swak onderwysstelsel? Afrikaans. Beurtkrag? Afrikaans.

En só word Afrikaans die tou in al wat ’n (politieke) toutrekkompetisie is, veral ook onderling in die Afrikaanssprekende gemeenskap. Woon jy Afrikaans is Groot by, is jy ’n laertrekkende Afrikaner-Boer; gaan jy nie, is jy ’n uitverkoopte Hensopper-Hanskakie. Gaan jy nié Ghoemas toe nie, skaar jy jou by die wit enklave van Afrikaanse popmusiek; gaan jy wel, is jy ’n Guptabroertjie wat verdien om in die veroordelendste taal uitgeskel en uitgekryt te word.

Is dit dus werklik ’n storm of maar net ’n storm in ’n glas water?

Oor die Twitter-storm: 242 oorspronklike twiets is van 16 tot 19 April op Twitter gemerk met #DieLand; 97 gebruikers het dié twiets gegenereer. Drie gebruikers is verantwoordelik vir 31% van daardie twiets en twee van die drie kruip weg agter skuilname en profielprentjies (nie foto’s nie).

In totaal bestaan die “storm” uit ’n raps minder as 6 000 aktiwiteite (ingesluit antwoorde, hertwiets en likes), met ’n geraamde reikwydte van ongeveer 315 000 rekeninge. (Om dit in perspektief te plaas: Die afgelope Saterdag het die rugbywedstryd #STOvBRU in drie uur se tyd ’n reik-wydte van meer as 1 500 000 rekeninge gehad.)

Is dit dus werklik ’n storm of maar net ’n storm in ’n glas water?

Die grys wolk om my kop kwyn. In die middel van hierdie klein ou glasie sit die meeste mense wat soos ekke maar net Afrikaans praat, lees en skryf, en van Corlea se stem en Hemelbesem se kletsrymlirieke hou. Namens ons almal roep die Babalela: “Los ons uit!” Van

Huyssteen is ’n taalkundige aan die Noordwes-Universiteit. gerhard.vanhuyssteen@nwu.ac.za

Meer oor:  Gerhard Van Huyssteen  |  Taal  |  Afrikaans  |  Woorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.