Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Diensbaarheid hoort kern van demokrasie te wees

Die dood van eerw. Chris Wessels het hom weer laat dink aan ’n tyd toe mense sonder die ANC die stryd teen apartheid moes voer, skryf Danny Titus.

Danny Titus

Dit gaan seker nog lank duur voordat Suid-Afrikaners mekaar verstaan.

Diversiteitspesialiste nooi ons gereeld uit om groter begrip te toon vir mekaar se onderskeie kulture. Dit skep soveel ruimtes vir die volle meelewing van Suid-Afrikanerwees.

Ek moes weer aan hierdie ruimtes dink met die onlangse dood van eerw. Chris Wessels van Genadendal. Baie mense – veral in die Wes-Kaap, Oos-Kaap en in Gauteng – sal weet wie hy was en waarvoor hy gestaan het.

Maar dan is daar natuurlik miljoene wat nie sal weet wie Wessels was nie.

Hy was die kerkman van die Morawiese Kerk in Suid-Afrika. Die man wat die onmoontlike keuse moes maak tussen kerk en politiek toe apartheid hom in Port Elizabeth se selle gegooi het in die tyd dat sy vriend en kollega, Steve Biko, gesterf het.

Dit is een van die praktyke by kerke om voor begrafnisse nagwake te hou. Dan word die familie ondersteun met sang, gebede, salige koekies en tertjies.

Sy kom uit dieselfde tyd van die struggle, uit die selle, uit die marteling waarvan sy steeds letsels het.

In die apartheidsdae onder die kille oë van die veiligheidspolisie is die nagwake ook gebruik om politieke boodskappe oor te dra.

Hierdie keer was dit anders. Die mense sing en bring huldeblyke. Van die oomblikke wat my die meeste getref het, was toe die gevierde joernalis en aktivis Zubeida Jaffer ook haar huldeblyk gebring het.

Sy kom uit dieselfde tyd van die struggle, uit die selle, uit die marteling waarvan sy steeds letsels het. En dan kom hierdie besonderse vrou, uit die grondveste van die Islam en sy kom gee Wessels haar huldeblyk met een van die Christendom se geliefde gesange. Sy sing vir hom “How Great Thou Art”.

Waar Christene en Moslems saamleef

Ek sit in Johannesburg en sy sing in Kaapstad. Toe ek daarvan lees, voel ek die impak, die ironie, die krag van Jaffer se sang.

Ek bel haar later die week. Sy is vriendelik en praat maklik. Sy is ietwat verras oor die belangstelling. Sy ken heelwat gesange, sê sy, “Amazing Grace” byvoorbeeld. Sang bring vir haar soveel genesing veral uit die nagmerries van die polisieselle waarin sy en Wessels weens hul geloof aangehou is.

Ons wil dit so graag vergeet, agter ons sit en vorentoe loop asof dit niks was nie. Maar dit is byna asof ’n dubbele porsie marteling in ’n demokratiese Suid-Afrika uitgedeel word deur ’n onsensitiewe ANC en ANC-regering.

Sal die Suid-Afrika van 2018 onthou dat daar ’n era in die land was toe die stryd teen apartheid sonder die ANC plaasgevind het?

Jaffer vertel van haar ouers wat reeds uit ’n samelewing gekom het waar Christene en Moslems ondanks geloofsverskille vreedsaam saamgeleef het. Dit in ’n wêreld waar die twee gelowe in voortdurende, moordende konflik met mekaar staan. Die Nederlanders praat van “twee geloven op een kussen, en de duivel komt ertussen”.

Jaffer se dogter is in ’n hoërskool in Kaapstad waar die skoolhoof heel sensitief vra dat die Moslem-leerlinge teen die muur moet staan terwyl die Christen-leerlinge ’n Christen-lied sing.

“En wat het jy gedoen?” vra moeder Zubeida aan haar dogter. “Ek het saamgesing, Mammie.”

Nou soe hoort dit.

’n Stryd sonder die ANC

Sal die Suid-Afrika van 2018 onthou dat daar ’n era in die land was toe die stryd teen apartheid sonder die ANC plaasgevind het? Dat daar ’n tyd was toe John Vorster in volle beheer van die polisie was wat apartheid in stand gehou het, sogenaamde intellektuele en die kerk wat hom ondersteun het, toe Botha en sy weermagmasjien bulderend die land met sy wysvinger en enorme krag regeer het.

Teen hierdie mag moes Wessels en ander die ander stem van die kerk laat hoor. Jaffer en haar joernalistiek moes teen die magtige Naspers en “Die Party” opstaan.

Hulle het die UDF-aktiviste vriendelik bedank en ’n neo-kolonialistiese bedeling gevestig.

Die ANC het nie die land van buite kom bevry nie. Dit was die interne stemme wat bewend die verdrukker tot orde moes roep.

Dit het later die United Democratic Front (UDF) geword. Thandeka Gqubule skryf in haar biografie oor die voormalige openbare beskermer, adv. Thuli Madonsela, daar was reuse-verskille tussen die “exiles” en die UDF: Die “exiles” het gevoel hulle het die toppunt van die stryd bereik en moes nou die vrugte van die struggle kom pluk. Vir die ander kant was dit die begin van die bou van die demokrasie. Die hegemonie wat in Lusaka gevorm is, wou die staat oorneem. Die ou ANC manne het hul Kodesa bereik. “Hulle het die UDF-aktiviste vriendelik bedank en ’n neo-kolonialistiese bedeling gevestig.”

Madonsela was nie deel van die elite-groepie nie. Wessels nog minder. Tot sy laaste asem was hy diensbaar aan sy mense en by uitstek ’n volgeling van Christus.

* Dr. Danny Titus is die uitvoerende hoof van korporatiewe aangeleenthede van die ATKV.

Meer oor:  Anc  |  Steve Biko  |  Apartheid  |  Demokrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.