Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Diere het ook tale, nie net ‘kommunikasie’

Wat maak die taal van mense – menslike taal – anders as die kommunikasiesis­teme van ander wesens?

Jana Luther

In Human Language: From Genes and Brains to Behavior, wat verlede jaar onder redaksie van Peter Hagoort verskyn het, wys die bioloog T.W. Fitch op drie verskille tussen die mens se taalvermoë en die kommunikasievermoë van groot ape, soos sjimpansees en orang­oetangs.

Terwyl ons tienduisende woorde kan vorm, bring ape slegs ’n beperkte aantal geluide voort. Die mens bou met taal hiërargiese strukture: groepeer klanke saam tot woorde, woorde tot frases, frases tot sinne. Ons kommunikeer in fyn besonderhede: dra boodskappe oor; druk wense uit; sê wat ons dink, ervaar; formuleer, sit ingewikkelde gedagtes, idees uiteen. Met ons monde, met gebare. Ons skryf. Wat taalvermoë betref, is ’n aap dus nie die mens se gelyke nie.

Maar, sê Leonie Cornips, ’n taalkundeprofessor en navorser in taalvariasie: Ons kyk te eng na taal. Cornips doen antropologiese navorsing oor die kommunikasie tussen diere en mense, spesifiek die “taal” van beeste. Aan NRC Handelsblad sê sy: By diere word byna altyd na “kommunikasie” verwys, nie na “taal” nie. Dis tyd, sê sy, “dat ons dié digotomie opsy sit en verstaan dat diere hul eie tale het. Selfs al is daar geen grammatika wat ons herken nie.”

Op boer Jan se plaas stap die koeie na die weiveld. Hulle gewaar vreemdelinge van die universiteit, steek vas, skud hul koppe. Hulle stap eers verder wanneer die besoekers eenkant toe staan. ’n Koei steek vas, snuffel aan hulle, lek aan ’n broekspyp. Sê Cornips: Ruik is ’n belangrike deel van koeie se taal. Die dier vra: Wie is julle?

Deur diere te verdinglik, word dit maklik om hulle te mishandel, te misbruik, te slag, te eet.

Beeste is vir haar ’n onbekende kultuur, wat sy wil leer ken. Al om die ses weke besoek sy die koeie in hul stalle. Sy borsel hulle, hou dop hoe hulle op haar, die boer, op mekaar reageer, hoe hulle hul ore roer. Sy luister hoe hulle bulk.

Op ’n keer het ’n koei die boer se hulp nodig. Sy het “al hoe intenser, langer, hoër” geloei. Nes ’n mens wat om hulp roep: “Help. Help! Hélp!”

As iemand die stal binnekom, maak die koeie ’n lae, byna zoemende gelui. ’n Soort groet. Buite, tussen ander beeste en mense, doen hulle dit nie. Cornips vergelyk dit met mense in ’n stad: “As jy daaraan gewoond is om baie mense te sien, groet jy minder.”

Bloot ’n kwessie van interpretasie? Natuurlik, sê Cornips. Maar ’n oop gemoed is belangrik. “Wetenskaplikes sê: Diere verwerf nie taal nie, want sjimpansees leer nie menslike taal aan nie.” Sê Cornips: “Na my wete het geen mens ook nog ooit die taal van sjimpansees geleer nie. Ons eie verstaan van taal is dus net so beperk.”

Deur die onderskeid wat ons tussen mense en diere tref, deur die woorde wat ons gebruik wanneer ons van hulle praat, byvoorbeeld wanneer ons sê skape is dom, of dat ’n vrou swanger is, maar ’n koei dragtig, hou ons ’n bepaalde wêreldbeskouing in stand en skep ons afstand, sê Cornips.

Deur diere te verdinglik, word dit maklik om hulle te mishandel, te misbruik, te slag, te eet.

  • Luther versamel woorde by www.afrikaans-vandag.co.za.
Meer oor:  Kommunikasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.