Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mishandeling van diere wys ons morele kompas lol

Die afgryslike mishandeling van perde in besit van die weermag in Potchefstroom, is een van talle voorbeelde van ’n gebrek aan ’n morele kompas in Suid-Afrika rakende diereregte en die omgewing, skryf Elsabé Brits.

Dr. Jane Goodall, primatoloog en omgewingsaktivis, in Mei 2015 op 'n mediakonferensie by die Universiteit van Kaapstad, waar sy ook 'n lesing aangebied het. Foto: Lerato Maduna

Is mense van nature wreed, ongevoelig of net onkundig oor die pyn en emosies wat diere kan ervaar? Of dink ons dit is reg om te maak en breek soos ons wil, omdat daar ’n blinde geloof in ’n veronderstelde posisie as “die kroon van die skepping is?”

Altesame 25 uitgeteerde perde in besit van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag moes geskiet word omdat hulle só verhonger was dat hulle grond en hul eie mis geëet het.

Dit is nie asof die perde net onlangs onversorg gelaat is nie, nee. Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het reeds in 2012 ’n hofbevel in die hooggeregshof in Pretoria bekom sodat hulle wettig toegang tot die basis kon kry.

Die weermag het nie saamgespeel nie, maar hy wys nou die vinger heen en weer. En hy doen glo stappe om beter te kyk na die ander 40 perde wat nog in sy besit is – diere waarmee die landsgrense gepatrolleer moet word.

Die wetgewing in Suid-Afrika wat diereregte beskerm, is ook verouderd en onvoldoende.

Wat die afgelope paar jaar besig is om toenemend met diere in Suid-Afrika te gebeur, behoort ons wyer te laat dink.

Daar was nog altyd mishandeling, ja, maar die aantal gevalle en die graad van wreedheid neem toe.

Die wetgewing in Suid-Afrika wat diereregte beskerm, is ook verouderd en onvoldoende. Dit dateer uit 1962 en gemeet aan internasionale standaarde het ons ’n “D” op die rapport.

Dit behoort nie die DBV se werk te wees nie, maar dié van ’n statutêre instelling wat mense kan vervolg. En genoegsaam ook, oortreders behoort tronk toe te gaan en baie op te dok.

Mense is wreed teenoor vee, met wild en met diere wat ons troeteldiere noem. Daardie getroue hond of kat.

Diere geniet dit ook om te speel en hulle ervaar emosie. Foto: Pixabay

Mense van alle rasse en inkomstegroepe behandel diere soos gemors. Buitengewone geweld en die vertrapping van alles en almal, tot die laaste mens, dier, insek en boom is ’n tragedie.

Alles moet dood. Sommer op Suid-Afrika se eie Survivor word daar nie gedink oor ’n slang nie, of die vervaardigers se hulp word nie ingeroep nie. Nee, sy kop word dadelik verbrysel. “Ek, ek, ek”, kom altyd eerste.

Of mense val ’n vasgekeerde swartwildebees aan en verbrysel die dier lewend met klippe en grawe. Honger? Nee.

Ek sal my nie laat vertel dat onkunde en armoede die groot dryfvere is nie. ’n Gebrek aan ’n morele en etiese kompas, het die naald van daardie kompas van noord na suid laat swaai.

Dr. Jane Goodall het dekades gelede al wêreldwyd suksesvolle programme in werking gestel waar arm mense in konflik met bedreigde sjimpansees is. Deur hulle respek vir alle lewe, die natuur en hulself te leer, en volhoubare ekonomiese alternatiewe daar te stel. Dit werk.

Dit was Goodall wat vir ons geleer het dat sjimpansees verstommende intelligente diere is. Kognitiewe wesens wat altruïsties is en dit het uiteindelik daartoe gelei dat ons heeltemal anders na diere kyk.

Ek het haar al twee keer ontmoet en haar standpunt is: Werk met klein groepies vroue, gee mikrolenings (95% van die lenings word terugbetaal) en vertel hoekom skade aan die natuur sleg is.

Dit (Roots & Shoots) het uitgebrei na 97 lande in die wêreld, maar dit sal nooit genoeg wees nie tensy almal so dink.

Haar opvoedingsprogram wys ook hoe meer vroue bemagtig word, hoe beter vir die omgewing waarin hulle woon.

Dit was Goodall wat vir ons geleer het dat sjimpansees verstommende intelligente diere is. Kognitiewe wesens wat altruïsties is en dit het uiteindelik daartoe gelei dat ons heeltemal anders na diere kyk.

In die jare wat kom, dalk nou reeds, gaan die mens sy kop in skaamte laat sak oor wat ons gaan uitvind oor die kognisie, leefwêreld en ervarings van diere.

Elsabé Brits

Mense probeer om wilde diere “mak te maak” en vir hulle eie vermaak aan te hou, of om geld uit hulle te maak. Sogenaamde “parke” waar almal na die diere in hokke of kampe kan kom kyk en aan hulle vat.

’n Tier is nie ’n troeteldier nie.

Moenie huil as hy jou byt nie.

Ek het jare gelede opgehou om dié plekke te besoek, maar toe ek dit nog uit onkunde gedoen het, was daar nie een geleentheid by so plek waar die kinders nie die duiwel uit die diere geterg het nie. Nie een keer nie. Want sien, die diere moet vir ons optree, soos akteurs.

Hul ouers het hulle eenvoudig nie behoorlik geleer nie.

Of, ’n spesifieke honderas wat ons geteel het om aggressief te wees, word buite aan ’n ketting gehou, ontvang onvoldoende kos en liefde en ’n kind word gebyt. Dan is dit die hond se skuld.

Of ’n dier in ’n sirkus – wat ’n onetiese bedryf is – vermorsel iemand. Ander wonder hoekom byt ’n seekoei of enige ander wilde dier iemand. Binne-in ’n natuurreservaat waar mense uit hul motors klim om “beter te kan sien”.

Dan roem die mens daarop dat hy die “slimste spesie” is. Maar net wanneer dit ons pas.

Hoe gouer die mens ontslae raak van die opvatting dat hy boaan die leer geplaas is as die 'kroon van die skepping' hoe beter.

Alle diere het ’n ryk interne lewe en hulle ervaar verskeie emosies en hulle is bewus. Hulle onthou. Hulle hou van speel, het empatie, liefde, woede en kan verleë raak. Diere kommunikeer en kan trauma beleef.

Daar bestaan nie iets soos ’n “dom dier” nie. Dit is verouderd en verkeerd om te dink diere oorleef en leef net “op instink”.

Wreedheid en tirannie jeens diere floreer nie omdat die oortreders bloot oningelig is nie. Jy weet, diep binne jouself wanneer jy iets wreed doen, dit is verkeerd. Jy gee net nie om nie.

Moraliteit en etiese optrede is iets wat jy binne-in jouself ontdek. Jy besluit om op so ’n inwaartse reis te gaan. Daar is nie grense nie – almal van ons kan die regte ding doen.

Hoe gouer die mens ontslae raak van die opvatting dat hy boaan die leer geplaas is as die “kroon van die skepping” hoe beter.

Ons is allesbehalwe die kersie op die koek. Ons is maar net een van die klein krummels – die wrede een – in die brood.

* Elsabé Brits is Netwerk24 se wetenskapjoernalis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.