Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Digi-taal: Maak gebruik van geleenthede
Jana Luther

In Suid-Afrika is daar vandag meer as 30 miljoen aktiewe internetgebruikers.

Informeel, speels, op rekenaars, slimfone en tablette, snapchat en whatsapp, facebook en twiet skoliere en studente in nuwe variëteite van hul tale wat van die standaardvariëteit verskil. Koebaai leestekens, stopwoorde. Hallo afkortings, hoofletterwoorde, fonetiese spellings, emotikons, emoji’s.

Vir die gebruiker is so ’n digi-taal gewoon ’n middel tot kommunikasie; vir niegebruikers daarvan dikwels ’n bron van frustrasie. Soos vir Wilhelm Jordaan, wat Woensdag in Beeld skryf (“Studente én dosente sukkel weens ‘kodetaal’”): “Die onvoorbereidheid vir universiteitstudie het daarmee te doen dat te veel leerlinge – weens die invloed van SMS-taal, emoji’s wat woorde vervang en die stotterende halfsinnetjies eie aan die sosiale media (my kursivering) – nie werklik in staat is om beredeneerd met ingewikkelde vakinhoud op universiteit om te gaan nie”.

Interessant was dit dus, vir my, toe ek dieselfde middag in die aanlyn tydskrif Neerlandistiek die volgende opskrif sien (in Afrikaans vertaal): “Whats­App lei nié tot taalagteruitgang nie.”

Nuwemediagebruikers steur hulle nie meer aan die reëls vir spelling en grammatika nie, word gesê.

Want, ja, ook elders in die wêreld klink die stemme teen digi-taal op: Nuwemediagebruikers steur hulle nie meer aan die reëls vir spelling en grammatika nie, word gesê.

Om vas te stel hoe gegrond dié vrese is, pak ’n jong taalwetenskaplike, Lieke Verheijen, wat op 25 Januarie in Nijmegen promoveer, ’n korpusstudie aan. Eers ontleed sy ’n klomp teksboodskappe wat deur jong mense via sosiale media gestuur is: SMS’e, WhatsApps, twiets. Daarna beoordeel sy van hul skryfwerkstukke. Haar bevinding?

Tussen die gebruik van sosiale media en goeie skryfwerk is meer positiewe as negatiewe verbande aantoonbaar, veral by leerlinge in die laer grade.

In ’n tweede eksperiment vergelyk sy twee groepe se skryfvaardigheid. Die eerste groep whatsapp 15 minute, terwyl die tweede mandalas inkleur. In ’n skryfoefening daarna maak die inkleurders meer spelfoute as die whatsappers. Weer stof die skoliere die studente uit. Haar gevolgtrekking?

Eerstens, dat aktiewe taalgebruik, selfs Whats-App-taal, taalvaardigheid by kinders stimuleer. Dat leerlinge wat passief ander se taalgebruik ontvang, swakker presteer. Tweedens, dat nes die beswaardstes onder die beswaardes vandag ook nie meer skryf soos daar eeue gelede geskryf is nie, is digi-taal gewoon net nog ’n bewys dat taal verander. Taalverandering word nie noodwendig deur nuwe media veroorsaak nie. Omdat baie meer informeel getikte tekste as in die verlede rondgestuur word, maak die sosiale media taalverandering vandag net baie meer sigbaar.

“Taalonderrig op skool is in ’n krisis,” sê Jordaan. Dit gee ek hom gelyk. Maar goed gebruik – deur goed opgeleide, digitaal geletterde onderwysers – kan digitale kommunikasie op velerlei maniere taalvaardigheid aanhelp.

Laat ons dus werk maak van digitale geletterdheid sodat ons dié geleenthede kan aangryp.

Meer oor:  Jana Luther  |  Digitaal  |  Menings  |  Internet  |  Taal  |  Sosiale Media  |  Web
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.