Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Digitale ‘diens’ sonder grense laat my wonder

Onlangs woon ’n lid van my gesin die Nampo-landbouweek by Bothaville in die Vrystaat by.

Bun Booyens

’n Paar minute nadat sy daar aankom, kry sy ’n selfoonboodskap: “Visit our new Vodacom home at Nampo row E13 B & C for an amazing experience,” en daarmee saam ’n paar “great data offers”. Sy laat weet my: “Hoe weet Vodacom ek is by Nampo? Hierdie is spioenasie. Onaanvaarbaar.”

Nie te lank daar nie koop ’n vriend aanlyn vir ons kaartjies om die fliek Avengers: Endgame te gaan kyk. Kort daarna piep sy selfoon. Die fliek se begintyd is skielik op sy selfoon se kalender aangeteken.

Hmmm . . . Nie ’n “diens” waarvoor hy gevra het nie. Iewers tussen sy bank en die fliek het ’n derde party homself by die transaksie ingewurm.

’n Vriend van een van my kinders kom kuier by ons. Sy selfoon piep. Dis ’n teksboodskap van Google. Hulle sê daar lê ’n onbetaalde rekening in sy e-pos.

Vir my is dit ’n “Wat de hel!”-oomblik, soos daardie frase uit Kris Kristofferson se liedjie “To beat the devil”: “You’ve been readin’ my mail.”

Ja, ons leef in ’n era waar die grense van privaatheid opnuut getrek moet word, maar wat het my geldsake te doen met enigiemand buiten myself en die ou wat die rekening gestuur het?

Die internetmaatskappy gaan waarskynlik sê hierdie gesnuffel is ’n “diens” – terwyl jy voor jou siel weet dat as daardie rekening ná, sê maar ’n maand steeds nie betaal is nie, hulle jou besonderhede aan ’n paar mikroleners gaan verkoop. “Diens” sonder grense, maar soos die spreekwoord dit stel: Wanneer ’n produk gratis is, moet jy weet jý is die produk.

Jou digitale voetspore lê tree vir tree op ’n ander party se rekenaar en daar is eintlik niks wat jy daaraan kan doen nie.

Die wêreld daar buite weet hoe oud jy is en hulle gaan op grond daarvan probeer om enigiets van ’n nuwe brilraam tot ’n stel gholfstokkie of Russiese bruid aan jou te verkoop. Hulle weet op grond van jou supermarkkaart watter kruideniersware jy koop én op watter dag, hoe laat en hoeveel keer per maand.

Jou digitale voetspore lê tree vir tree op ’n ander party se rekenaar en daar is eintlik niks wat jy daaraan kan doen nie. Jy kan jouself hoogstens (tydelik) teen die ewige telefoonbemarkers beskerm deur hul nommer te blokkeer, maar jou digitale profiel behoort nie meer aan jou nie.

Iewers is daar ’n grens oorgesteek. As ’n maatskappy homself die vryheid veroorloof om deur jou data te sif vir onbetaalde rekeninge, wat keer hom om ander soekwoorde in te tik? Soos Alzheimer, Parkinson of depressie.

Onlangs het ek ’n drukker vir my rekenaar gekoop. Drie maande daarna het daar nie ’n dag verbygegaan waarop ek nie ’n stuk of vyf advertensies vir drukkers ontvang het nie. “Maar ek het kláár een!” wil jy later gil.

Dis dalk aanvaarbaar as die digitale wêreld sy neus in my sake druk, maar dit raak te erg wanneer hulle begin om hul sake in my neus te druk. Selfs my Russiese bruid sal saamstem.

Meer oor:  Bun Booyens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.