Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Diktator het Trump soos ’n klavier bespeel

Die oggend voordat pres. Donald Trump bykans vier jaar gelede beëdig is, het oudpres. Barack Obama, sy voorganger, hom vir ’n beleefde gesprek in die Ovaalkantoor ontvang. Obama het hom toe gewaarsku dat die grootste internasionale probleem wat op hom wag, Noord-Korea en dié se ontwikkeling van kernwapens is.

Die kans dat Trump Joe Biden, sý opvolger, volgende Woensdag in die Withuis sal ontvang, is nul. Maar die probleem van Noord-Korea bly net so sterk as vier jaar gelede.

Kim Jong-oen, Noord-Koreaanse diktator, het pas ’n kongres van sy land se Kommunistiese Party afgesluit waarop hy triomfantelik verklaar het dat hy die ontwikkeling van kernwapens wil versnel. Dit sluit in die bou van nuwe missiele, meer kernplofkoppe en selfs kernaangedrewe duikbote.

Kim het, baie vriendelik, geen enkele millime­ter toegegee nie.

Hy het Amerika as “ons grootste vyand” bestempel, maar bygevoeg dat hy nie “diplomasie” uitsluit nie.

Die Noord-Ko­reaanse betrekkinge met Trump-Amerika het deur twee duidelik onderskeibare fases gegaan. Die eerste is gekenmerk deur enorme spanning en volgens ooggetuies het Trump se raadgewers hom meer as een keer met moeite aan sy broekriem van ’n aanval op Noord-Korea teruggepluk. Uiteindelik het dit by openlike oor-en-weer-dreigemente gebly.

Maar toe besluit Trump om tot die ander uiterste te gaan. Die gevolg was drie besonder vriendskaplike vergaderings tussen Trump en Kim in Singapoer, Hanoi en langs die grens tussen die twee Koreas. Die twee het baie geglimlag, mekaar hand gegee en vriendelike woorde gespreek – maar dit was al.

Kim het, baie vriendelik, geen enkele millimeter toegegee nie. Om die waarheid te sê, hy het Trump soos ’n klavier bespeel, want só het hy die bedreiging van ’n Amerikaanse aanval doeltreffend besweer.

Noudat Trump op die punt staan om – bowendien in skande – uit die Withuis te trek, begin Kim weer met sy dinge. Hy stel Biden voor ’n politieke keuse: Erken my as ’n gelyke onderhandelingsvennoot en sien af van drei­gemente of loop die risiko dat ek jou bondgenoot, Suid-Korea, in ’n smeulende puinhoop omskep.

Kim hoef nie eens met kernwapens te dreig nie. Die massale konvensionele artillerie en missielbatterye wat hy binne trefafstand van Seoel gereed het, kan die Suid-Koreaanse hoofstad binne ure verwoes. Aangesien die kanonne en missiellanseerders in diep grotte in die berge versteek word en binne minute uitgesleep en weer teruggestoot kan word, is dit vir die Amerikaners en Suid-Koreane bitter moeilik om hulle te neutraliseer.

Biden sal nie veel keuse hê nie; hy sal – al is dit op beperkte vlak – kontak met Kim moet maak. Die vraag is of hy ook so maklik soos Trump voor Kim se glimlag sal gaan lê.

  • Dr. Scholtz is ’n onafhanklike kommentator wat in Nederland bly.
Meer oor:  Wêreldburger  |  Leopold Scholtz  |  Meningsberig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.