Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dinge raak lelik verby as hulle kerke brand
Blou Willem

Nee, kyk, as hulle kerke begin brand, raak dinge lelik.

Eintlik lelik verby.

En om dan nog die arme ou liedboekies en Bybels ook aan te val!

Hulle het seker maar net ’n blaadjie uit ou Ace se boekie geneem (om te skeur en te verbrand), en dis al erg genoeg, maar Die Woord!

Nee, mense, wat gaan die ander mense van ons dink? Sies, man! (Oukei, ek weet julle lees nie Afrikaanse vermanings in gesinspublikasies nie, maar sies vir julle in elk geval!)

Ja nee, soms dink ek dis ook maar beter dat ouma Tinkie en oupa Piet betyds weg is na waters waar rus is.

Dat 41 000 onderwysers elke liewe dag stokkiesdraai (en ons praat nie nou van vakansiedae nie), sou ouma net eenvoudig nie geglo het nie.

Ons het Breekdit en die Britte Brexit.

Sy, wat haar lewenslank afgesloof het om graadeentjies en -tweetjies te leer lees en skryf, sou net haar grys koppie geskud en baie beslis gesê het: “Maar dit lieg hulle!” en dan as die ware werklikheid haar later tref: “Hygend hert, der jagt ontkomen!”

Oupa Piet, eerbare geregsdienaar (met die klem op dienaar) wat hy was, sou weer net sy kop in sy hande laat sak en na ’n Disprin gesoek het as hy moes hoor dat meer as 4 000 van ons ou geknelde en beroofde landjie se polisiebeamptes, van wie 32 senior bestuurslede is, ’n misdaadgeskiedenis het.

En as hy uiteindelik weer sy hartklop onder beheer gekry het, sou hy waarskynlik die baie geldige vraag gevra het: “Maar Boeta, is ’n misdaadgeskiedenis dan deesdae ’n vereiste om in die Mag te kan dien, of is daar net nie ander aansoekers nie?”

En dan sou ek hom nie kon antwoord nie, want wat sou ek sê?

Maar nou ja, so het elke plekkie maar sy eie probleempies.

Ons het Breekdit en die Britte Brexit.

Oom Johnny kamp laasweek langs ’n ou stoere Ingelsman reg uit Ingeland in die Willetuin en terwyl hy die oukêrel leer om reg vuur te maak en te braai, vra hy hom uit oor die Brexit-gemors, waarvan niemand kop of stert op ’n pond uitmaak nie.

Toe verduidelik die Ingelsman so (oom Johnny sê hy hoop hy het dit reg onthou): “Our parliament said no to Theresa’s deal and they said no to no deal.

“But some of them said yes to no deal but no to Theresa’s deal. But not as many as those who said no to no deal and no to Theresa’s deal and the people who want the deal can’t deal with that.”

En toe hy vra of oom Johnny verstaan, toe sê die oom maar ja.

Amper soos met ons komende verkniesing. Stem jy vir ’n klein party met jóú groot stem of vir ’n groot party met jou pieperige, onhoorbare stemmetjie?

Al wat ek weet, is dat ek self gaan besluit waar mý stem nutteloos moet wees.

Meer oor:  Blou Willem  |  Brandstigting  |  Brexit  |  Oos-Kaap Naweek  |  Afbrand  |  Betogers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.