Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dinge verander én bly dieselfde
Gert Coetzee

As ’n veronderstelde objektiewe nuusmens, vat dit bieg om te erken die opskrif van Volksblad se hoofartikel gister “Al paadjie vir Ace nou is reguit hof toe” het ietwat van genoegdoening gewek.

Ek onthou die dag in 2015 toe die oproep gekom het. Ek was saam met my Noord-Kaapse vriend in sy bakkie op pad na die Hamilton-nywerheidsgebied in Bloemfontein waar ’n stoffeerder die sitplekke van my geërfde Mercedes-Benz 230S nuut oorgetrek het ná al die jare van sonskade waar dit doerie jare buite my ma se werk gestaan het.

Daardie dag in 1968 toe my pa die Benz, dit heet ’n fintail of hechtflosse onder connoisseurs verstaan ek, by die legendariese Chris Barnard, verkoopman van John Williams op die hoek van Hill- en Zastronstraat in wat toe nog die Rosestad was, gekoop het, was ek as ’n kannetjie by.

Saam met die handgeskrewe faktuur vir 1 x Mercedes-Benz mét venetian blinds teen R4 300, het ’n knipmessie gekom met die driester-embleem in die ivoorhef gegiet.

Dit was belangrike sake dus wat deur die selfoon se gelui onderbreek is. “Hold on for the premier,” sê ’n stem.

Die slotsom van die kort gesprek was dat ek akkoord gaan as hy sy prerogatief uitoefen om sy prokureur te nader.

Solank dit nie met staatsgeld is nie.

“Jis, is dit jul premier met wie jy so praat?” vra my vriend.

Die oproep is later opgevolg deur ’n afspraak – uittrapsessie? – in die premierskantoor waarheen Volksblad genooi – ontbied? – is met drie van ons wat teenoor die premier se uitgebreide span gesit het.

Die slotsom van dié langer gesprek was ons sóú berig (oor ’n sekere huis in Woodland Hills) en die premier hét kans om te reageer. Van tóé tot nóú het ons ’n ver pad gekom met die premier wat nie meer die premier is nie en eintlik ook nie meer die Es-Gee van die ANC nie, al glo hy, Carl Niehaus en die Vrystaatse ANC hy is.

Van tóé tot nóú het ons ’n ver pad gekom met die premier wat nie meer die premier is nie en eintlik ook nie meer die Es-Gee van die ANC nie, al glo hy, Carl Niehaus en die Vrystaatse ANC hy is.

Al lyk dit soms nie so nie, is al wat seker is daar sál verandering wees. En hoe meer verandering daar is, hoe meer bly dinge dieselfde. Soos die leser wat op ons brieweblad vandag ook in Covid-19-tyd trou sweer aan dr. Jan van Elfen se mediese handboek – en uitwys dit word jaarliks opgedateer.

En ’n jaar ná Covid-19 en die aanbreek van grendeltyd het by terugskoue ’n paar dinge in die sentrale hartland verander – én dieselfde gebly.

Volksblad as papierkoerant het verstryk, maar Volksblad verskyn steeds daagliks. Met ’n nuusaanbod wat skrik vir niks – soos eergister se voorblad met die Pofadder-scoop, wat ’n slangstorie met kinkels is, en die hartverskeurende ongeluk op die treinspoor by Lime Acres. Ace moes met pagina twee tevrede wees. Ons Matrikulant van die Jaar-kompetisie en die Ons gee om-fonds loop steeds – met bykans ’n kwartmiljoen rand ingesamel wat in oorleg met Engo vir welsyn gaan.

Die Cheetahs is uit die Pro-14-reeks gerangeer, maar klop gereeld die spanne­ wat ’n vrypas soontoe gekry het.

Die Universiteit van die Vrystaat se Rooiplein is minus die standbeeld van pres. M.T. Steyn, wat nou trots in die skadu van die Vrouemonument staan.

Van hier waar Afrikaans met makro-aggressie as onderrigtaal op die kampus gesneuwel het, word die Matie-taalstryd en die “mikro-aggressies” daar gevolg.

Verandering ís moontlik. Selfs ’n reuse vragskip wat in die Suez-kanaal vassteek, kan losgewikkel word. Al kwessie nou, is of dit twee Rangers, Amaroks of Hilux’e was wat dit losge­skarnier het.

En selfs ’n onaantasbare premier kan van korrupsie aangekla word.

Terwyl sommige dinge dieselfde bly.

Al item in my brandkluisie tuis, is daardie Benz-knipmessie.

Coetzee is Volksblad-redakteur.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Gert Coetzee  |  Korrupsie  |  Anc  |  Aantygings  |  Media  |  Veranderinge  |  Verander
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.