Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dink daarom nuut oor klimaat
Johannes Froneman

Nie elke natuurramp dui op aardverwarming weens menslike aktiwiteite nie. Erge rampe het inderdaad deur die eeue voorgekom, lank voordat binnebrandenjins, byvoorbeeld, teen ’n tempo van miljoen per jaar vervaardig is.

Maar dat ons aarde in die moeilikheid is, is duidelik. Die video’s van ysberge wat smelt is tog nie fopnuus nie. En die talle ander wetenskaplike bewyse van klimaatsverandering is nie te versmaai nie. Behalwe as jy aan allerlei samesweringsteorieë glo en gister weer vir Elvis gesien het.

Een rede vir die ontkenning van die gevaarligte is gevestigde kommersiële belange (soos die oliebedryf). Of dit kan die misleiding van populistiese politici soos pres. Donald Trump wees (ondersteun deur siniese veldtogte op sosiale media). Voeg hierby die hardnekkige ontkenning van enige ongemaklike waarhede deur ’n beduidende aantal kiesers oor die wêreld heen.

Toegegee: Mense is nie sonder rede besorg oor ekonomiese uitdagings nie en vrees daarom stappe wat goed mag wees vir die omgewing, maar ekonomiese groei moontlik kan benadeel. Dis te sê as daar hoegenaamd groei is.

Die gevolg is dat sommige mense met entoesiasme probeer om huishoudelike afval te herwin en allerlei ander dinge doen om ten minste hul gewete te sus.

Die gevolg is dat sommige mense met entoesiasme probeer om huishoudelike afval te herwin en allerlei ander dinge doen om ten minste hul gewete te sus (indien dan nie ’n komende katastrofe af te weer nie); ander probeer net van dag tot dag oorleef en weet dalk nie eens waaroor die bohaai gaan nie.

Met laasgenoemde groep het ’n mens veel simpatie. Maar nie met ’n derde groep wat van beter behoort te weet nie en ’n veldtog voer om Greta Thunberg, die jong Sweedse aktivis, te verkleineer of enige ander waarskuwings oor ons omgewing belaglik te probeer maak.

Hierdie woordoorlog op sosiale media het reeds die debat afgesleep na ’n vlak waar rasionale gesprek baie moeilik is. Dit is op sigself ’n ramp. Die debat moet tog allereers op wetenskaplike gronde gevoer word. Die bekende feite maak dit nie moeilik vir selfs leke om te sien wat waarskynlik waar is nie. Behalwe as jy nie wil sien nie.

Maar sommige voorstanders van die wetenskaplike konsensus raak self alte ideologies. Dit help nie. Wanneer skeptiese wetenskaplikes vrae vra oor die konsensus, moet hulle ook aangehoor word. Dit is tog hoe die wetenskap funksioneer. Uiteindelik sal die feite seë­vier, dan nie? Die teenargument is seker dat ons nie tyd het vir lang debatte nie. Ons moet die feite in die oë kyk en vinnig optree, anders is dit te laat. Daarom moet die ontkenners van klimaatsverandering brandstapel toe.

So tree voorstanders van wetenskaplike rasionaliteit dan op soos godsdienstige fanatici. Hoe ironies.

So tree voorstanders van wetenskaplike rasionaliteit dan op soos godsdienstige fanatici. Hoe ironies.

Ek sal, as nie-natuurwetenskaplike, graag ’n ander weg naas die bewese wetenskaplike proses wil voorstel. Dit is ’n beroep op mense se morele bewussyn én gesonde verstand. Want hoe kan enige mens met ’n greintjie moraliteit dink dit is aanvaarbaar om op roekelose wyse die aarde te verwoes?

Uit hierdie hoek gesien, is die vraag nie soseer hoeveel koolsuurgas in die lug beland weens olie- en steenkoolgebruik nie (al is dit natuurlik belangrik), maar of die ignorering van die gevolge ooit eties geregverdig kan wees.

En al oortuig die wetenskaplike feite jou nie en al beskou jy enige morele argumente as iets wat ander kan najaag terwyl jy geld maak en lewe vir jouself, wat van ’n stukkie gesonde verstand?

Nou is gesonde verstand ook maar skaars, maar ons leef in desperate tye. Om die klaarblyklike risiko van klimaatsverandering te ignoreer, is tog nie in eie belang nie. Daarom kan selfs hierdie skeptici nuut dink oor ons omgewing. Al is dit dan in eie belang.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.