Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dink eers voor jy iemand só skel
Leopold Scholtz
Leopold Scholtz.

Te oordeel na mense se skryfsels op die internet, begryp baie van hulle sekere basiese politieke begrippe nie. So meen ’n aantal dat die begrippe “regs”, “konserwatief” en “nasionalisties” identies of erg verwant is.

Die uitslag van die pas afgelope Ierse verkiesing het my neus egter opnuut op die feit gedruk dat dié drie begrippe kán saamval, maar heel dikwels in stryd met mekaar is.

Sinn Fein, wat in die verkiesing sy stempersentasie verdubbel het tot 24,5% en net een setel minder as die grootste groep behaal het, is ’n goeie illustrasie van die stelling in die eerste paragraaf.

Dié party was altyd die wettige front van die verbode Ierse Republikeinse Leër (IRL), wat terrorisme en moordaanslae gebruik het om die Ierse Republiek en Noord-Ierland (onder Britse heerskappy) te herenig. Sowel Sinn Fein as die IRL was fel nasionalisties en vír die Ierse volk se selfbeskikking. Maar jy sou om die dood nie kon beweer dat hulle ook regs of konserwatief is nie.

Met talle sosialistiese elemente in hul ekonomiese beleid, was hulle eerder behoorlik links. Daarby wou hulle Ierland revolusionêr transformeer, en dus was hulle ook nie konserwatief nie (die Latynse conservare beteken “bewaar”).

As die IRL of Sinn Fein ooit in Ierland aan die bewind gekom het, sou die land ’n fel nasionalistiese sosialistiese diktatuur geword het.

As die IRL of Sinn Fein ooit in Ierland aan die bewind gekom het, sou die land ’n fel nasionalistiese sosialistiese diktatuur geword het.

’n Tweede voorbeeld is Adolf Hitler en die Nazi’s. Hulle was sonder twyfel ekstreem nasionalisties en in sommige opsigte regs (behalwe vir hul ekonomiese benadering, waar hulle taamlik sosialisties was). Maar hulle was allesbehalwe konserwatief. Hulle wou die Duitse (en trouens die hele Europese) samelewing totaal op sy kop keer.

’n Mens sou in die derde plek na die Sowjetunie en China kon verwys, veral in die 1970’s en 1980’s. Nasionalisties was dié diktature nie, want die hele Marxisties-Leninistiese fondament van die staat was anti-nasionalisties. En, gesien hul ekonomiese benadering, was hulle ekstreem links.

Aanvanklik was sowel Moskou as Beijing nie konserwatief nie, want hulle wou alles radikaal verander. Maar namate die kommunisme die gevestigde orde geword het, het hulle wel deeglik konserwatief (en nasionalisties) geword. Toe was dit die dissidente wat dinge wou verander. En die bewindhebbers wat alles by die oue wou hou. Verstokte konserwatiewe, sou jy kon sê.

Waar pas die begrip liberaal hierby in? Dié woord is afkomstig van die Latynse liber (vry) en libertas (vryheid). Liberaal kan dus in een asem met die begrip demokrasie genoem word. En, wanneer dit gaan om ’n volk se selfbeskikkingsreg, kan dit ook met die begrip nasionalisme vereenselwig word.

In die 19de en vroeë 20ste eeu was die nasionalistiese bewegings wat onderskeidelik die Duitse, Italiaanse en Poolse volke wou verenig, immers uitgesproke liberaal van aard.

In Duitsland is dié liberale moment weliswaar deur ’n konserwatiewe nasionalisme doodgedruk, maar dit neem nie weg dat die Duitse nasionalisme deur ’n liberalistiese vonk aan die brand gesteek is nie. Net so is pres. Donald Trump nasionalisties en regs, maar beslis nie konserwatief nie.

’n Mens moet versigtig wees om die begrippe liberaal, regs, links, radikaal of nasionalisties as skelwoorde rond te gooi. Diegene wat dit doen (ek dink aan een persoon wat geen geleentheid laat verbygaan om van “liberale fasciste” te praat nie) wys bloot hul eie fundamentele onkunde oor politieke teorie.

Uiteindelik gaan dit daarom dat ’n mens maar jou gesonde verstand moet gebruik. Moenie agter ander se krete aanhardloop nie, veral nie as dit blyk dat die “ander” nie weet waarvan hulle praat nie.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Leopold Scholtz.  |  Ingeligtheid  |  Politieke Begrippe  |  Politiek  |  Skel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.