Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dink nóg ’n keer oor universiteit
Anton van Niekerk

Die universiteit as idee is ’n onderwerp waaroor ons te min besin. Ek waardeer daarom die interessante onlangse artikel van prof. Danie Goosen daaroor. Terwyl ek akkoord kan gaan met ’n hele aantal van sy aansprake, het ek tog ook vrae oor die samehang van sy sentrale argument, in samehang met ander aspekte van sy denke oor die noodsaak van Afrikaans-medium-universiteite in Suid-Afrika, asook die gemeenskapsgerigtheid van universiteite.

Goosen identifiseer die belangrikste kenmerke van ’n legitieme universiteit soos volg: “Die vermoë om na die aard van die geheel te vra; om die verbande tussen verskillende sfere van die lewe raak te sien; om historiese gebeure binne hul groter historiese konteks te plaas; om geduld te hê met die feit dat ons nooit ’n volledige greep op die geheel kan verwerf nie”. En: “. . . die kritiese vermoë om eensydige beskouings bloot te lê.”

Kortom, waarom hy pleit, is die idee van ’n tersiêre opvoeding wat nie bloot vaardigheid-georiënteer is nie, maar wat “Bildung” aan studente verskaf – opleiding in die “denkende lewe­”; die vorming van volronde intellektuele wat nie alleen die waardes van rasionaliteit, objektiwiteit, balans en ’n volgehoue probleembewussyn nastreef nie, maar wat dit vermag deur selfontdekking sonder die houvas van ’n konformistiese ideologie wat alle universitêre vorming wil dwing in die keurslyf van ’n kleurlose konsensus.

Tot sover stem ek grootliks met Goosen saam. Tog val dit op dat die idee van die universiteit waarmee Goosen in dié artikel werk, nie alleen ’n taamlik algemene een is nie, maar bepaald ook ’n taamlik klassiek liberale idee is. Ek het geen vreeslike probleem daarmee nie. Maar ek wonder of Goosen self daarmee gemaklik sal wees as ’n mens hom daarop wys dat sy liberale onderrok hier opsigtelik uithang.

Weg is nou die idee van ons identifikasie met en gerigtheid op ’n gemeenskap as dit kom by die idee van die universiteit.

Soos ek Goosen en sy geesgenote se denke verstaan, is “liberaal” nie ’n eienskap waarmee hulle gemaklik is nie. Die sentrale waarde in sy denke (soos ek hom in elk geval lees) is dié van “gemeenskap”. Die kern van ons menslikheid, redeneer hy meermale (vergelyk sy boek Oor gemeenskap en plek), is ons verbondenheid aan ’n gemeenskap – meestal bedoel in ’n kultuur-politieke sin. Dit is opvallend dat hy in dié artikel die begrip “gemeenskap” net een keer terloops gebruik.

Weg is nou die idee van ons identifikasie met en gerigtheid op ’n gemeenskap as dit kom by die idee van die universiteit. Maar terselfdertyd identifiseer dié waarneming ’n belangrike spanning in Goosen se denke. Hy werk met ’n liberale opvatting van die universiteit waarin die soeke na kennis universeel dog altyd onvoltooid is. Terselfdertyd is hy een van die luidste apologete vir gemeenskapsgerigte universiteite en vir onderrig aan daardie universiteite in die “moedertaal” van die gemeenskapslede.

Nou, as u my ’n Engelse uitdrukking sal verskoon: “You can’t have your cake­ and eat it”! Nie eens Goosen, wat ek oor dekades heen goed ken en vir wie se denke ek groot respek het, kan daarmee wegkom om sowel ’n liberale idee van die universiteit as ’n volledig gemeenskapsgerigte opvatting van universitêre vorming in ewewig te hou nie. Is die gemeenskapsgerigte universiteit wat hy bepleit, soos dit ook gestalte probeer vind in die instelling waarvan hy die akademiese hoof is, te vrywaar van die dwingelandy van ’n “eenvormige ideologie”, wat hy (tereg) afwys?

Ek twyfel. Ek het ’n sterk vermoede dat die verwerkliking van Akademia spoedig te doen gaan kry met die veelheid van botsende kragte waarmee ’n instelling soos Stellenbosch reeds die afgelope 30 jaar moet worstel.

  • Van Niekerk is ’n professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Anton Van Niekerk  |  Universiteit  |  Leer  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.