Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dink nuut oor plakkers

Suid-Afrika is, naas Noord-Korea, waarskynlik die enigste land wat gratis huise aan mense verskaf, maar dit keer steeds nie dat plakkershutte soos sampioene opskiet nie. Flip Smit plaas die probleem in perspektief.

Die New Rest-plakkerskamp in Gugulethu buite Kaapstad.

Niks beeld die verskil tussen rykdom en armoede beter uit as die luukse woonbuurte aangrensend aan informele nedersettings met ongekende armoede nie.

Dié waarheid is onderstreep in pres. Cyril Ramaphosa se toespraak op Vryheidsdag vanjaar toe hy gesê het Covid-19 het “armoede en ongelykheid belig wat die Suid-Afrikaanse samelewing steeds definieer”.

“Die pandemie het nie dieselfde impak op almal nie. Sommiges kon die staat van inperking in ’n gerieflike huis met ’n vol yskas deurbring, maar vir sommiges was dit ’n maand van ellende,” het hy gesê.

Hierdie ellende word hoofsaaklik in die 2,3 miljoen informele nedersettings of plakkersgebiede gevoel waar tussen 6 en 7 miljoen mense woon. Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) woon 13% van Suid-Afrika se huishoudings van meer as 58 miljoen mense in dié woonbuurte.

Africa Check het bevind dat 5,4 miljoen mense in 2016 in dié gebiede gewoon het, van wie 5,1 miljoen swart was, 276 000 bruin, 11 600 Asiër en 13 000 wit. Volgens Solidariteit Helpende Hand was daar in dieselfde tydperk 84 wit plakkersgebiede. Sedert 2016 het die aantal informele nedersettings vinnig toegeneem.

Die pandemie het nie dieselfde impak op almal nie.

Plakkerboere

Behalwe wanneer brand- of oorstromingskade informele nedersettings se inwoners haweloos laat, word hul lewensomstandighede nie goed begryp nie. Suid-Afrika se informele nedersettings verskil van plek tot plek, maar in die algemeen voldoen hulle aan die definisie van die Verenigde Nasies (VN) van “residensiële huishoudings sonder basiese dienste, insluitend drinkwater, sanitasie, sekuriteit en titelaktes, gekenmerk deur oorbewoonde leefareas en onwettige strukture”.

Die veld is dikwels die inwoners se toilet, met groot gevare van besoedeling.

Benewens die gevare van die verspreiding van Covid-19 in digbewoonde nedersettings, het die volgende gebeure dié gebiede onder die vergrootglas geplaas:

  • Lindiwe Sisulu, minister van water, sanitasie en menslike nedersettings, se aankondiging dat 29 digbewoonde nedersettings in Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal na 17 gebiede verskuif gaan word. Verskuiwings is traumaties en groot weerstand word ondervind.
  • Kragtens ’n tussentydse hofbevel op 15 April 2020 deur die hooggeregshof in Kaapstad mag inwoners op die Kaapse Vlakte weer hul afgebreekte wonings herbou. Die inwoners word van onwettige grondbesettings en “shack farming” beskuldig omdat strukture na bewering opgerig en dan verhuur word. In Afrika is dié praktyk algemeen waar die “sons of the soil” op wettige en onwettige wyse grond aan mense verkoop en verhuur, en hulle dan uitbuit om lewensmiddele slegs van die eienaars te koop. Om met “plakkers te boer” is dikwels uiters lonend.
  • Die Rooimiere word dikwels, veral in Gauteng, ingeroep om onwettige grondbesetters te verwyder.
  • Die verskuiwing na Strandfontein van ongedokumenteerde migrante wat op die kerkterrein in die Kaapse middestad geplak het, ontlok baie weerstand.
  • Die versperring van paaie en die beskadiging van eiendom, soos by Hermanus, word alledaagse verskynsels.

’n Vloedgolf

Wat dryf die vinnige ontstaan van informele nedersettings?

Volgens die VN se behuisingsafdeling woon meer as 1 miljard mense van die wêreldbevolking van meer as 7 miljard in krotbuurte of slums. Die migrasie uit Afrika, die Midde-Ooste en Suidoos-Asië veroorsaak dat krotbuurte ’n algemene gesig buite baie Europese stedelike gebiede geword het. In baie stedelike gebiede in Afrika maak krotbewoners meer as 70% van hul stedelike bevolking uit.

Volgens die 2011-sensus was daar 1,9 miljoen informele nedersettings in Suid-Afrika. Dié syfer het, ondanks die voorsiening van 4,5 miljoen HOP-huise aan arm mense, intussen tot 2,3 miljoen toegeneem, wat tussen 6 en 7 miljoen mense huisves.

Plakkershutte grens aan ’n woonbuurt in Moreletapark in Pretoria. Foto: Theana Calitz

Op ’n behuisingsindaba op 6 Maart vanjaar het dr. Nkosazana Dlamini Zuma, die minister van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede, gesê: “Ons stede en dorpe bars uit hul nate en is eenvoudig nie ontwerp om die groeiende getalle te absorbeer nie.”

Op dieselfde geleentheid het Sisulu gesê “die vloedgolf is oorweldigend”.

Statistieke Suid-Afrika (SSA) raam dat Gauteng in die volgende vyf jaar 1 miljoen migrante vanaf Limpopo, Noordwes en Mpumalanga, asook 500 000 buitelanders, sal moet akkommodeer.

Die Wes-Kaap sal 300 000 migrante uit veral die Oos-Kaap en 100 000 uit Afrika moet huisves. Voeg die natuurlike aanwas van 1,5% per jaar hierby en die getalle word oorweldigend.

Maar in die laaste paar jaar skiet skuilings van sinkplate en plastiek feitlik oornag rondom alle dorpe en stede op. Die groeiende getalle oorspan die waterbronne wat die voorsiening van plastiekwatertenks nodig maak, maar wat nie volhoubaar is nie.

grafika

Plaasgrond en myne

Die afskaffing van instromingsbeheer in 1986, demokrasie in 1994, die onwilligheid om teen onwettige immigrante uit Afrika op te tree, die oopstelling van die landsgrense in 1999 en die langdurige droogtes het die sluise oopgetrek vir grootskaalse toestroming na stedelike gebiede.

Benewens bogenoemde faktore was daar egter ’n aantal beleidsbeslissings met onbedoelde gevolge wat momentum aan die vinnige groei van informele nedersettings gegee het, naamlik:

  • Die afskaffing van plaasskole.
  • Minimum lone, wat tot meganisasie en die uitdiensstelling van plaasarbeiders gelei het.
  • Die uitsprake dat heeltydse plaaswerkers grondregte op plase kan bekom, wat daartoe gelei het dat werkers en hul gesinne na dorpe verskuif is en nou na plase moet pendel.
  • Grondeise en die moontlike onteiening van grond sonder vergoeding wat beleggings in landbou verlangsaam.
  • Trekarbeiders in mynkampongs wat toegelaat is om “uitwoon-vergoeding” te ontvang. Hulle het in informele nedersettings naby die myne gevestig en is spoedig deur hul gesinne gevolg. Marikana is ’n goeie voorbeeld hiervan.

Die ANC-regering het ná 1994 geen keuse gehad as om die behuisingsagterstande wat veral in die apartheidsjare ontstaan het, te verlig nie.

Die ANC-regering het ná 1994 geen keuse gehad as om die behuisingsagterstande wat veral in die apartheidsjare ontstaan het, te verlig nie.

Ná 2009 is op groot skaal gepropageer dat alle plakkersgebiede teen 2014 (20 jaar ná demokrasie) opgeruim sou wees.

Dié gebiede het egter snel toegeneem. Op 28 Mei 2019 het Risenga Maluleke, die statistikus-generaal, gesê dat “die behuisingsprojekte nie die groot getalle mense en informele nedersettings beperk nie”.

Gratis huise

Ideologie en politiek loop soos ’n goue draad deur die geskiedenis van verstedeliking en veral die voorsiening van behuising aan swart mense.

Die Britse koloniale regering het oor die hele Afrika heen geglo dat stedelike gebiede “nie geskikte plekke vir swart mense is nie” en vir wit mense gereserveer moet word.

Só is die kampongstelsel ná die ontdekking van diamante in 1867 in die lewe geroep om die tydelikheid van trekarbeiders te vestig. Die Wet op Plaaslike Besture se uitgebreide magte (no. 30 van 1895) het dorpe verplig om ’n aandklokreël tussen 21:00 en 04:00 in te stel om swart mense te verbied om tussen hierdie ure in die “blanke” deel van die dorp te wees.

Dié ideologie is ná 1948 verpolitiseer, geïnstitusionaliseer en in sement gegiet. Die ANC-regering se beleid is sosialisties polities gerig om behuisingvoorsiening in sentrale staatsbeheer te plaas.

Só is die kampongstelsel ná die ontdekking van diamante in 1867 in die lewe geroep om die tydelikheid van trekarbeiders te vestig.

Daar is geen twyfel nie dat gratis behuisingvoorsiening die lewe van miljoene mense dramaties verbeter het. Suid-Afrika is waarskynlik die enigste land ter wêreld, uitgesonderd Noord-Korea, wat gratis behuising verskaf.

Die voorsiening van gratis huise het egter die volgende nadele:

  • Dit skep ’n afhanklikheidskultuur omdat begunstigdes waarskynlik lewenslank vir die ANC sal moet stem, terwyl dit werkgewers van die verpligting onthef om huisvesting aan werkers te verskaf.
  • Ongeveer 40% van die begunstigdes leef slegs van maatskaplike toelaes en is nie in staat om vir dienste te betaal nie, met gevolglike laste op plaaslike owerhede.
  • Ongekende korrupsie vind plaas met die toekenning van kontrakte, plekke op waglyste en swak boumateriaal. Baie begunstigdes verkoop of verhuur die huise; woon in agterplase of gaan plak weer in informele nedersettings en plaas weer hul name op waglyste.
  • Baie protesaksies is die gevolg van onvervulde beloftes om gratis huisvesting te verskaf.

Nuwe denke nodig

Tradisioneel is plakkersgebiede wêreldwyd as broeiplekke van misdaad, geweld en maatskaplike verval beskou wat platgestoot en die inwoners met groot sosiale ontwrigting hervestig moet word.

Plakkersgebiede is egter belangrike brughoofde vir die groot sprong van tradisionele na stedelike gebiede. Gemeenskappe vorm netwerke van ondersteuning wat die gom bied om hulle te laat voortbestaan.

Die nuwe denke is opgradering en selfbouskemas waar mense gehelp word om hul huisvesting te verbeter of nuwe huise te bou. Dit moet met die noue samewerking van plakkers, die owerheid en aangrensende gemeenskappe geskied.

Dit word ook deur studies bevestig dat mense vir niks so graag spaar as om ’n eie huis te besit nie.

Veral in die Wes-Kaap is die fokus sterk op die erf-en-diensskema, en word goeie vordering gemaak. Daar is ook ’n sterk denkskool wat pleit dat Westerse standaarde nie op plakkersgebiede toegepas word nie.

Huisvesting met titelaktes is die beste wyse om welvaart te skep. Die VN en die Wêreldbank het getoon hoe maklik mense opgelei kan word om self huise te bou. Dit word ook deur studies bevestig dat mense vir niks so graag spaar as om ’n eie huis te besit nie.

Oop stukke grond, veral nader aan werkplekke, moet van basiese dienste voorsien word waar migrante hulself ordelik kan vestig, met voldoende toegangsroetes om basiese dienste te verskaf en rampe, soos brande, te bestry.

Daar is voorvereistes vir opgradering- en selfbouprojekte op ’n erf-en-diensgrondslag:

  • Wettig die informele nedersettings of plakkersgebiede en erken die regte van die inwoners.
  • Verskaf titelaktes ten opsigte van gedienste erwe.
  • Betrek die gemeenskappe van die informele nedersettings en die aangrensende (meestal wit) gemeenskappe, en maak dit só gemeenskapsontwikkelingsprojekte.

Toekomskeuse

Dit is duidelik dat die plaaslike owerhede nóg die vermoë nóg die kundigheid het om die toestroming van migrante en onwettige grondbesetting te hanteer. Die sentrale, provinsiale en plaaslike regerings sal saam met die private sektor moet hande vat.

Oor die jare heen was daar ’n gebrek aan ’n nasionale verstedelikingstrategie en die uitstekende voorstelle wat in die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) van 2012 vervat is, word nie in werking gestel nie.

Flip Smit

Wanneer mense gemobiliseer en gehelp word om hul eie huise te bou, soos wat in baie lande gebeur, sal dit ekonomiese vermenigvuldigingseffekte ontketen wat na alle sektore sal deursypel en werkloosheid help bekamp.

Dit is onwaarskynlik dat gratis huisvesting in die heersende ekonomiese klimaat op die huidige skaal kan voortgaan. Dit sal sterk leierskap verg om dit te kommunikeer aan mense wie se name reeds vir jare op waglyste vir behuising is.

Suid-Afrika staan voor ’n keuse: Beplan vir migrante wat na die dorpe en stede stroom of hanteer toenemende onwettige grondbesetting en informele nedersettings wat soos paddastoele opskiet.

Genl. Jan Smuts het die verstedeliking van swart mense in 1938 na “die breër skouers van die nageslag” verwys.

Kan die huidige krisis die polities onmoontlike van die verlede die polities onvermydelike van die toekoms maak?

  • Prof. Flip Smit doen navorsing oor demografie.
Meer oor:  Plakkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.