Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dink prakties oor grond in SA

Die politieke gesprek in Suid-Afrika sentreer tans om die kwessie van grondbesit. Natuurlik is grondbesit slegs die simbool; in wese gaan dit oor veel meer.

As jy dieper krap, kom jy by iets anders uit, naamlik mentaliteit. En dis hiéroor dat ek vandag wil besin.

Hopeloos oorvereenvoudig, kan jy enige probleem onder die son op twee maniere benader – rigied ideologies of pragmaties. En natuurlik ’n miljoen skakeringe tussenin.

Die sentrale probleem in die Suid-Afrikaanse politieke gesprek is dat ons dit te ideologies benader en nie genoeg ons gesonde verstand gebruik nie. Dit gebeur aan alle kante van die gesprek.

Ons Afrikaners het die kwessie van rassebetrekkinge te lank deur ’n ideologiese apartheidsbril benader. Die apartheidsideologie het voorgeskryf dat verskillende rasse bots as hulle te veel kontak met mekaar het. Die oplossing was dus verbluffend eenvoudig: Hou die mense uit mekaar, dan kan hulle goeie buurskap in vrede bedryf.

Ons Afrikaners het die kwessie van rassebetrekkinge te lank deur ’n ideologiese apartheidsbril benader.

Die probleem is dat dit, soos alle rigiede ideologieë, enkele onoorkombare praktiese probleme geïgnoreer het.

Ten eerste het dit in hul koloniaal-rassistiese arrogansie nie by die apartheidsideoloë opgekom dat swart mense se waardigheid in die praktyk – afgesien van die bedóéling – tot in hul diepste kern aangetas is nie. Dis onder meer daardie belediging wat hom van die swart kant in die gronddebat tans op ons wreek.

Ons het ook nie besef dat ons strewe om ons land ekonomies te ontwikkel en die apartheidsideologie regstreeks teen mekaar ingedruis het nie. Vir ekonomiese ontwikkeling het ons arbeid nodig gehad, en dus wou ons nie wérklik die toestroming van swart mense na die “blanke” gebiede keer nie.

Só het apartheid gestrand op die rotse van die ekonomie en die demografie. Die werklikheid oorwin alles. Iets soortgelyks geld vir die ideoloë in die EFF en die linkervleuel van die ANC.

Aan daardie kant lui die ideologiese redenasie min of meer só: Ons is die oorspronklike inwoners van die land, die regmatige besitters van die grond. Die wit kolonialiste – indringers – het die grond by ons gesteel en nie gebodder om ons daarvoor te vergoed nie.

Uiteindelik gaan dit dus om ’n rigied-ideologiese teenoor ’n pragmatiese mentaliteit.

Oplossing: Vat die grond terug, en vergeet van vergoeding. Basta! Hulle moet dankbaar wees dat ons hulle nie almal uitmoor nie.

Die probleem is dat ook dié ideologiese benadering sekere onoorkombare praktiese probleme ignoreer.

Pres. Cyril Ramaphosa – gelukkig ’n taamlike pragmatikus – het reeds meermale twee voorwaardes aan die onteiening van grond gekoppel: Dit mag nie ekonomiese groei of voedselvoorsiening benadeel nie. Maar dit spreek vanself dat presies dít gaan gebeur indien die swart nasionalistiese ideoloë hul sin kry. Trouens, het ons dit nie sedert 2000 net oorkant die Limpopo in Zimbabwe voor ons oë sien gebeur nie?

Die onteiening van grond sonder vergoeding gaan onherroeplik gepaard met grootskaalse wetteloosheid. En in daardie omstandighede het die swaargewigte rondom Robert Mugabe die swakker swart kleinboere genadeloos eenkant toe gedruk en die grond vir hulself gevat. Hoe kan dit anders loop by ons?

Uiteindelik gaan dit dus om ’n rigied-ideologiese teenoor ’n pragmatiese mentaliteit.

Dit wil nie sê dat jy in die politiek geen beginsels mag hê nie. Maar jy moet soepel genoeg dínk om te sien waar jou beginsels teen die praktyk bots, en dan die moed hê om jou beginsels te herformuleer, pleks van om te dink dat jý die praktyk kan verander.

Vra maar vir Adolf Hitler en Wladimir Lenin. 

Scholtz is ’n onafhanklike politieke kommentator.

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Grondonteiening  |  Plase  |  Grondbesit  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.