Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dis al Junie en Kersversierings hang nog daar

Ons klein Oulyfie, Ouliefie, Olivia, wat so amper drie is, kuier laas naweek by ons van die plaas af, sit op die mat ’n legkaart en bou en sê sommer so uit die bloute: “Ek kan dit wraggies nie glo nie, dis Maandag al Februarie!”

Te ougat vir Oupa!

Blouwillem

Nou wel nie heeltemal in die kol met die maand nie, maar ja, my kindjie, dis presies soos Oupa voel oor die feit dat dit hierdie naweek al Junie gaan wees terwyl ons stadige ouens nog Kersversierings bêre of, erger nog, vergeet het om dit te doen.

My tannie Natie het so in haar 99ste jaar vir my gesê sy dink sy het Heimer, want sy vergeet nou wat sy vergeet het.

Heimer, Tannie?

Ja, my kind, dis wanneer jy net die helfte vergeet en darem nog nie alles nie.

Ek wonder toe nou die dag wat tannie Natie sou gesê het van die storie dat wetenskaplikes nou daarin geslaag het om ’n seeslak se geheue na ’n ander een oor te dra deur die inspuit van die eerste slak se ribonukleïensuur en dat hulle dié kennis nou wil gebruik in die behandeling van Alzheimer se siekte.

Sy sou waarskynlik iets gesê het soos: “Hygend hert, mens, maar sal so ’n slakinspuiting jou dan nie nóg stadiger maak nie?”

Wyle oom Kas het een dag aan my verduidelik hoe jy kan vergeet wat jy vergeet het: “Ek het gister besluit om my tuin nat te spuit, maar terwyl ek die tuinslang uithaal, sien ek dat my kar ’n was nodig het.

“Op pad motorhuis toe sien ek die pos wat vroeër afgelewer is wat op die stoeptafeltjie lê.

“Ek besluit om deur die pos te kyk voordat ek die kar was.

“Ek sit die karsleutels op die tafel, sit die gemorspos in die boks onder die tafel en sien dat hy vol is.

Teen sononder is die kar nog vuil, die rekeninge nie betaal nie, my koue koffie staan in die kombuis, die potplant is steeds droog, my bril, karsleutels en die ‘remote’ is weg en ek kan nie onthou waarom ek so moeg is nie

“Ek maak die boks leeg en besluit ek kan netsowel die rekeninge eers betaal. Ek vat my tjekboek wat op die tafel lê en sien daar’s net een blaadjie oor.

“Op pad na my nuwe tjekboek kry ek sommer die beker koffie wat ek aan ’t drinke was.

“Die koffie is koud en op pad kombuis toe om vars koffie te maak, tref die droë potplant my oog.

“Ek sit die koffie op die kombuistafel neer en ontdek my leesbril wat al heel oggend soek is.

“Ek sit die bril eenkant, vul ’n houer met water en sien skielik die TV se afstandbeheerder, wat ook soek was.

“Ek gooi water in die pot en probeer onthou wat ek daarmee wou doen.

“Teen sononder is die kar nog vuil, die rekeninge nie betaal nie, my koue koffie staan in die kombuis, die potplant is steeds droog, my bril, karsleutels en die ‘remote’ is weg en ek kan nie onthou waarom ek so moeg is nie.”

Ja, my oom, dis so na aan die waarheid dat dit nie eens snaaks is nie!

Meer oor:  Blouwillem  |  Kersversierings  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.