Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dis amptelik: Ek’s ’n militêre ‘suurstofdief’

In die 1960’s het ’n Amerikaanse lugmag-medikus, dr. Kenneth Cooper, begin vermoed die soldate in sy eenheid is nie behoorlik fiks nie. Hy het toe sy manskappe op ’n trapmeul laat draf om vas te stel presies wanneer begin hulle moeg raak.

Teen daardie tyd was dit reeds bekend dat iemand se uithouvermoë grootliks afhang van hoeveel suurstof sy liggaam kan absorbeer om aan sy spiere te lewer – sy “VO2 max” (“V” vir volume, “O2” vir suurstof en “max” vir maksimum). Wanneer jy draf, begin jy hyg om meer suurstof in jou liggaam te kry, maar sodra jy te vinnig of te ver hardloop, lewer jou asem nie meer genoeg “brandstof” nie en raak jy moeg.

Cooper se probleem was egter dat dit basies onmoontlik sou wees om duisende troepe een vir een op ’n trapmeul te laat toets. Maar in 1968 het hy ’n deurbraak gemaak. Daar kort eintlik net een syfer om enige mens se VO2 max te bereken: Hoe ver kan hy of sy binne 12 minute draf of stap? En volgens Cooper moes ’n fikse soldaat minstens 1,5 myl kon aflê.

Die resultaat was Cooper’s Test, “ ’n metode om vinnig die fiksheidsvlak van groot groepe mense te bepaal”. Jy laat ’n hele peloton troepe gelyk 1,5 myl hardloop, en dié wat ná 12 minute aankom, is (nog) nie fiks genoeg nie.

Vra maar vir enige oudsoldaat, die “two comma four” is ’n universeel gehate oefening.

Dit het dié standaard-fiksheidstoets in talle gevegsmagte geword, ook hier in Suid-Afrika, waar dit aanvanklik as ’n “one and a half” bekend was en later, met die oorskakeling na kilometers, die “two comma four” geword het.

Vra maar vir enige oudsoldaat, die “two comma four” is ’n universeel gehate oefening, juis omdat Cooper dit ontwerp het om jou net-net tot anderkant daardie grens te druk waar jou liggaam nie meer op asem alleen kan voortgaan nie. Jy moet maar net vasbyt en hardloop – in jou stewels, met ’n ammunisiebaadjie om jou lyf, ’n staalhelm wat op jou kop skommel, en ’n geweer van 4 kg in die hand.

Boonop moet die mense wat eerste by die eindstreep aankom, dadelik omdraai om die “suurstofdiewe” agter te gaan haal, sodat die hele groep die afsnytyd van 12 minute haal, anders gaan almal weer. En weer.

Verlede week het ek bloot uit nuuskierigheid gaan kyk of ek nog Cooper se toets kan slaag. Kan ek steeds 2,4 km binne 12 minute hardloop? Wel, toe nie. In gewone drafklere het ek op 12 minute 40 sekondes verby die 2,4 km-merk geskuifel. Ek bevind my dus nou amptelik in die geledere van destyds se suurstofdiewe en LSD’s – die lam, siek en dooies (maar darem nog ’n kerfie bo die jêm-stelers, hulle wat weens mediese redes nie mog draf nie).

Cooper word aanstaande jaar 90 en woon in Texas. Oor die jare het hy 18 boeke geskryf en 30 miljoen eksemplare verkoop. Een van sy eerste boeke was Aerobics, destyds ’n nuwe woord, maar ’n oefentegniek wat veel gewilder as Cooper’s Test sou word.

  • Booyens is ’n vryskutskrywer.
Meer oor:  Bun Booyens  |  Fiksheid  |  Oefen  |  Soldate  |  Oefening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.