Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dis asof vrede nooit weer sal terugkom nie
Annelie Botes

Vandag 17 jaar gelede het miljoene mense wêreldwyd in verbystering toegekyk hoe Al-Kaïda se selfmoordvlieëniers in die World Trade Center in New York vasvlieg.

Daardie Dinsdag was ek op my knieë met die matborsel besig om die gryse se kamer skoon te maak. Die televisie in sy kamer was klankloos aan en dit was blote toeval dat ek omgedraai het om ’n ander hoek te borsel. Juis tóé speel die helse verskrikking af.

Duisende is dood en vermink. Gesinne is aan flarde geruk. Sedertdien kan ek nie ’n tyd onthou dat daar nie êrens in die wêreld ’n tweespalt of afmaaiing was nie. En dis nie net kulture en godsdienste en nasies wat mekaar haatdraend in die aarde in boor nie.

Elke dag bring sy eie klein oorloë. Padwoede. Skeihofoorloë. Gesinsoorloë. Buurmanoorloë. Bendeoorloë. Oorloë by die werk. Kerke en gemeentemense baklei. Sportkomitees baklei. Onderwysers en leerlinge baklei.

Dit is asof baklei ’n modegier of statussimbool geword het.

Dit is asof baklei ’n modegier of statussimbool geword het. As ek die saak so bekyk, wil dit lyk asof die mensdom behae daarin vind om mekaar se oë uit te pik. Is dit nie veel makliker om van dag tot dag in vrede en naasteliefde te leef nie? As jy van iets of iemand nie hou nie, los hulle net uit. Om hulle met die gevelde bajonet te bestorm, gaan alles vererger.

Soos Psalm 37 sê: “Woon en werk rustig voort. Moenie kwaad word nie, laat staan die woede, moet jou nie ontstel nie: dit bring net ellende.”

Dit herinner my aan die ware storie van ’n klompie rare ure van vrede midde-in die Eerste Wêreldoorlog.

Die Pous het gevra vir ’n wapenstilstand oor Kerstyd in 1914, maar dis afgekeur. Op Oukersaand, toe Europa in wintersneeu gehul is, lê die soldate in die nat loopgrawe. Soms was die loopgrawe so min as 100 jaart uitmekaar, met die gebied tussenin bekend as niemandsland. Hulle kon letterlik mekaar se koskokery ruik.

En uit die donker klink vanuit ’n loopgraaf ’n Kersliedkoor op. Wanneer die lied eindig, eggo die vyandige loopgraaf met ’n ander Kerslied.

Toe die geallieerde magte met “O Come, All Ye Faithful” begin, val die Duitsers spontaan sáám in met “Adeste Fideles”. Dit moes hoendervleismooi gewees het. As die indoenas wat die oorlog verklaar het dit kon hoor, sou hulle straks dadelik vrede verklaar het.

Kersoggend het die Duitsers ’n banier opgesteek: “You no shoot, we no shoot.” Toe kom almal uit die loopgrawe en vergader in die niemandsland. Ruil kos, knope, veters, geldstukke. Help mekaar om dooies te begrawe. Flans sokkerballe saam en speel soos kinders.

Teen skemertyd is hulle terug na hul loop­grawe. Op Welwillendheidsdag het hulle mekaar weer doodgeskiet.

Uiteindelik het die Eerste Wêreldoorlog 15 miljoen lewens geëis. Tot vandag klink die god­verlate trompetgeskal van “The Last Post” op.

Maar dis asof niemand meer daarna luister of daaroor huil nie.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Geweld  |  Terroriste  |  Aanval  |  Oorlog  |  Vrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.