Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dís die beste bakkie wat nog ooit gebou is

My vriende wat hulle ry sal waarskynlik aanstoot neem, maar ek het nog nooit agter ’n Toyota-bakkie se stuurwiel ingeklim nie. Hulle sal my dalk beskuldig dat ek ’n reïnkarnasie van Rip van Winkel is, die kêrel wat vir honderd jaar in ’n diepe slaap was en nie sy oë kon glo toe hy wakker word nie.

Johan van Wyk

Miskien is dit hoekom ek Toyota se beroemde, eertydse klingel onthou: “Alles reg, altyd reg, Toyota!”

As ons dit maar van Suid-Afrika kon sê.

Moet ek ’n bekentenis maak? Ja, ek was totdat General Motors Suid-Afrika verlaat het ’n Chev-man, maar het Ford-bakkies gery toe in Chev-kringe gespot is Ford staan vir “foute oral, reparasies daagliks” – ’n jaloerse versinsel van die ou Bloedsappe. Daar was nog nooit weer ’n bakkie soos die Ford F100 nie, hoewel ek sal erken hierdie nuwe Ford Rangers is kookwater.

En mooi! Al is dit nie in ou Henry se geliefkoosde kleur nie – swart. Hy het mos gesê ’n Ford kan enige kleur wees, so lank dit swart is.

Ja, dis so dat elke petrolpomp in sig ’n F100 gesmeek het: “Gaan my nie verby!” Maar hy het soos ’n koets oor die sinkplaat van die eensame Karoovlaktes gewieg, jy kon twee beeste of 30 tweetandlammers op sy bak laai en sy sitbank kon twee groot mense, vier opgeskote koshuiskinders met hulle skoon wasgoed, ’n kosmandjie en ’n skaaphond gerieflik akkommodeer.

Plus, as onlangs gedoop is, ook nog ’n “carry cot” met ’n suigeling, dalk selfs ’n tweeling. Jy moes net nie oorkom soos die boer in oorle’ Tolla van der Merwe se storie nie. Die een van die benoude oomblikke toe die slapende baba se bottel ongesiens in die ry by ’n skerp draai onder die F100 se briekpedaal ingerol het nie.

Wat meer is, en dis belangrik, sy smelterboks (glove compartment) kon nie net ’n halfjekkie vat nie, maar inderdaad ’n volle bottel Mellowwood (vir slangbyt en moedskep), ’n draadtang vir running repairs, wat selde nodig was, jou tjekboek en jou .38 Special. Wat meer wil jy hê?

Jy moes net nie oorkom soos die boer in oorle’ Tolla van der Merwe se storie nie.

Die storie van die twee skelms wat ’n transformator by Transnet in die Kaap gesteel het, aldus Die Burger, en op ’n “perdekar” (getrek deur ’n perd met die verbeeldingryke naam Inspector) weggery en aan ’n skrootwerf probeer verkoop het, het my aan die nimlike Ford F100-bakkie herinner.

Dis wat jy eintlik nodig het om ’n swaar transformator te vervoer. Of ten minste ’n vierwielmolwaentjie, wat die “perdekar”, volgens die foto in die koerant, inderwaarheid was.

Hoe lank nog voordat niemand meer die verskil tussen ’n tweewielperdekar en ’n vierwielmolwaentjie, sal ken nie?

Gedagtig aan die perde onder ’n kragtige Ford F100 se enjinkap het ek gewonder hoe swaar Inspector moes gekry het. In my geestesoog het ek gesien hoe hy teen die borsplaat beur terwyl hy, stertjie omhoog bokant die spatbord, ligte windjies los.

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Bakkie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.