Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dís die gevolg van slegte besluite vir verkeerde redes
Tony Weaver

Die hervestiging van wilde diere het so ’n belangrike instrument in bewaring in Afrika geword dat dit nou amper al roetine is.

Organisasies soos African Parks en die Vredesparke-stigting gebruik massaverskuiwings as ’n manier om wildernisgebiede soos Majete en Nkhotakota in Malawi en Zinave en Banhine in Mosambiek te herbevolk.

Maar dit is ook ’n manier om bedreigde spesies van stropers se gewere weg te hou.

Toe die Kenya Wildlife Service (KWS) en die Wêreldnatuurfonds (WWF Kenia) in Julie aangekondig het dat hulle 11 krities bedreigde swartrenosters van die Nakuru-meer en die Nairobi Nasionale Park in ’n geheime ligging in die reuse Tsavo Nasionale Park gaan hervestig, is dit stil-stil internasionaal toegejuig.

Maar sommige bewaringsbewustes in Suid-Afrika én Kenia het hul kommer uitgespreek oor die vermoë van die KWS om ’n ingewikkelde hervestigingsoperasie soos dié te hanteer.

Elkeen, van die helikoptervlieëniers tot dierkundiges en veeartse, het ’n spesialisrol om te speel in die groter prentjie van die grootwildhervestiging.

Die Suid-Afrikaanse veearts- en bewaringsgemeenskap is wêreldleiers in hierdie soort hervestiging, wat deur die destydse Natalse Parkeraad, nou Ezemvelo KZN Wildlife, ontwikkel is.

Ek het al saam met Ezemvelo en die Vredesparke-stigting sowel renosters as olifante aangekeer vir hervestiging. Dit is ’n hoogs komplekse proses wat nie net ’n hoë vlak van kundigheid vereis nie, maar ook spoed.

Elkeen, van die helikoptervlieëniers tot dierkundiges en veeartse, het ’n spesialisrol om te speel in die groter prentjie van die grootwildhervestiging.

Dit behels alles van ’n olifant wat aan die lewe gehou word deur ’n takkie in die punt van sy slurp te druk tot sy ore en kop wat nat gehou word om stres teen te werk.

As daar ’n hervestiging plaasvind, moet die span kundiges eers seker maak die bestemming is veilig, het die regte habitat en water, en dat daar geen onmiddellike bedreigings vir die diere is nie.

Tog verwag jy ’n klein aantal sterftes – dit is onvermydelik. Maar nie 100% nie. Al 11 die renosters wat na Tsavo verskuif is, het gesterf – ’n skandaal wat die Afrika-bewaringsgemeenskap geruk het.

Tien renosters het gesterf weens die inname van water wat so sout was dat geen ander dier daaraan wou raak nie. Die elfde renoster, verswak deur die soutwater, is dood toe hy deur leeus aangeval is.

Gevolglik is die hele topbestuur van die KWS afgedank, maar nie Najib Balala, die minister wat aan die voorpunt van dié operasie was, nie.

Dr. Richard Leakey, wêreldbekende bewaringskundige en voormalige voorsitter van die KWS-raad, het gesê: “Die kwessie van die Tsavo-renosterhervestiging het drie keer in drie jaar voor die raad gedien. By elke geleentheid het die raad kennis geneem van die kommer oor die gebrek aan plantegroei wat renosters kan onderhou. Ook die kwessie van beskikbare veilige water . . .”

Volgens WWF (Kenia) is hulle “gereeld die versekering deur die KWS gegee dat die terrein geskik en veilig is”. Die enigste koppe wat tot dusver gerol het, is dié van die KWS se senior personeel. Daar word beweer dat hulle die slagoffers van politieke en finansieringsdruk van Balala en die WWF was.

Die waarheid is dat dit ’n verhaal is van slegte besluitneming wat gegrond is op ’n begeerte om politieke en publisiteitspunte te kry. Dit is ’n absolute skande.

Meer oor:  Tony Weaver  |  Wild  |  Natuurbewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.