Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dís die raakpunt tussen Trump en Zuma

Daar is sekere aspekte wat aangevoer kan word waarom oudpres. Jacob Zuma die Donald Trump van Suid-Afrika is en pres. Donald Trump die Jacob Zuma van Amerika is.

Trump het natuurlik meer ondersteuners in die Afrikaanse gemeenskap van albei rasse as wat Zuma ooit sal hê, so beslis is daar nou ’n paar lesers wat (dalk opnuut) glo ek moet my kop laat lees.

Maar voordat jul bloed, liewe Trump-ondersteuners, rooier in jul are opstoot as dié van die kiesers in Wyoming, die rooiste rooi deelstaat, kom ons kyk eers hoe hulle verskil. Die doel is nie om enige bloedrooi Republikeinse leser of hul gunsteling-Yank te beledig of die hoenders in te maak nie.

Oudpres. Jacob Zuma

’n Mens moet toegee daar is nie tans dieselfde bewerings of aanduidings van staatskaping of selfverryking teen Trump as teen Zuma nie en Trump het nie sy land tot op die rand van ekonomiese ineenstorting gebring soos wat Zuma gedoen het nie.

Daar is sekerlik ook baie ander verskille en ’n mens het geen twyfel nie dat Trump-ondersteuners nouliks kan wag om dit uit te wys – hulle laat hulle mos nie graag onbetuig nie. Maar kom ons spaar almal baie moeite en kom by die groot ooreenkoms wat verduidelik waarom albei so skadelik is.

Nie Zuma of Trump gee om of hulle die pilare van hul onderskeie lande se regstelsels omtrek nie, solank hul eie belang net koning kraai. Hulle het weinig respek vir die regstaat of vir die gevolge van hul dade vir die kohesie en samehang van hul lande, solank hul posisies net onaangetas bly.

Wat Trump betref is daar sy patetiese weiering of onvermoë om te aanvaar dat hy die presidentsverkiesing verloor het. Soos die leier van ’n piesangrepubliek beweer hy korrupsie om elke hoek en draai, sonder enige bewyse hoegenaamd.

Pres. Donald Trump Foto: Reuters

In Wisconsin is elke stem oorgetel en is die tel van elke stem regstreeks uitgesaai, maar dit was nie genoeg nie. In die deelstate Pennsilvanië en Michigan was dit Republikeine wat die deurslag gegee het dat Joe Biden se oorwinnings as sulks afgeteken word en in die deelstaat Georgia het die Republikeinse goewerneur, Brian Kemp, die moeite gedoen om die deelstaat se wette in daardie verband mooi stadig uit te spel.

Maar toe Trump oor die naweek in Georgia ’n massavergadering toespreek – daar is op 5 Januarie twee tussenverkiesings in daardie staat wat sal bepaal of die Republikeine hul meerderheid in die senaat sal behou – was die enigste gevolg dat Trump nou vir Kemp ook hatig aanval.

Trump val alles en almal aan wat van hom verskil. Hy ondermyn die struktuur van die Amerikaanse demokrasie met sy aanval op die legitimiteit van die verkiesing. Daarmee ondermyn hy sy ondersteuners se geloof in die demokrasie op onaanvaarbare wyse, want hy het nie bewyse nie. Bewerings sonder bewyse kom naby aan lieg.

Jan-Jan Joubert

Zuma is hier te lande besig met dieselfde bose spel, eweneens in eiebelang, en die beste voorbeeld daarvan is sy hantering van adjunkhoofregter Raymond Zondo en die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.

Zuma het nou al elke slap streek in die boek uitgepluk om aan die noodwendige verloop van die geskiedenis – die gevolg van die feite – te ontkom. Alles is ’n samesweerdery teen hom, alles word gedoen om die gevestigde orde omver te werp en die instellings te ondermyn – in eiebelang.

Wat Trump en Zuma in gemeen het is dat hulle die bedenklike hoofkarakters is in ’n soortgelyke tafereel van selfverheerlikende prul. Hulle is vir ons van groot waarde want hulle leer ons presies wat ons nooit moet wees nie.

  • Joubert is ’n skrywer en onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Donald Trump  |  Jacob Zuma  |  Jan-Jan Joubert  |  Politici
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.