Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dís hoe Oom Samie toe sy reuk gekry het
Martie Retief Meiring

Om te ruik is om te onthou. Die stofreuk anderkant Beaufort-Wes toe die kar oorgekook het. Koffie vroegmôre. Skoenpolitoer voor jy skool toe gaan. Jou ouma se 4711. Jou aspriskinders se gekskeer oor die salige reuk van boom. Droë bossies. Perdestalle. Ou waenhuise.

Dis ook die reuk wat die siel in daardie immer lewende algemene handelaar, Oom Samie se Winkel in Stellenbosch, gegee het.

Oor die wêreld is die winkel bekend. ’n Vriendin staan op ’n skip in ’n Noorweegse fjord. Die toeris langs haar vra van waar sy kom. Toe hy hoor, lag hy en sê: “Ach, ohm Samie!”

Nou word “Oom Samie” 38 jaar oud (in wese is die winkel al 104 jaar oud). En steeds is dit die reuk in Oom Samie wat “verkoop” (rooibostee is loshande die grootste regte kopie onder buitelanders). Loop verby bottels lekkers, laaie speserye, riempies, velskoene, krokodilleerhandsakke en oral “loop” die reuk van regte, eerlike ou algemene handelaars saam.

En daardie reuk? vra ek vir Annatjie Melck, die eienares – en ook die woelgees van die dorp en plase, ’n stigterslid van die bekende Isa Carstens-skoonheidinstituut, en ook onder meer ’n afvalkok van nasionale faam. Daarby is sy ’n verteller van nasionale faam ook.

Terwyl hul mans rugby sit en gesels, bedink die vroue allerlei planne.

Kom so: Hier in 1980 rond bevind sy en drie vriendinne, Sue Bayly, Riette Marais en Jeannie Jordaan, hulle skielik met ’n winkel. Terwyl hul mans rugby sit en gesels, bedink die vroue allerlei planne.

Dis die vroeg 1980’s en geskenkwinkels het begin opskiet. Terwyl hulle nog sit en dink, kom die Dippenaars se winkel te huur. Hulle huur. Toe sê die winkel: Nee, dit is nie vir ’n geskenk­winkel nie. Dis vir ’n ander soort winkel.

Nou begin hulle hoor van ’n groot winkeltoonbank te koop. Annatjie-hulle onthou toe ook van al die Mr Goldstucks, Mr Joffes en Mr Segals wat op die platteland die algemenehandelaar-kultuur gevestig het. Dis wat hul “geskenkwinkel” nou eintlik moet wees.

Prof. Frans Smuts, legendariese historikus, vertel dat die winkel oorspronklik in 1907 deur ene Samie Volsteedt begin is. Só kry Oom Samie se Winkel toe ook sommer sy naam.

Die vierstuks vaar die platteland in en bie op veilings. Word smouse. Kry allerlei voorstelle, koop voorraad en al wat ’n ou plakkaat en advertensiebord is op.

En dis toe hulle velle aankoop dat Annatjie besef het: Dít is wat hulle nodig het – dáárdie reuk.

Dis tóé dat hulle springbokvelle natmaak en onder die groot ou toonbank instoot om, kan ’n mens maar sê, te broei. En só het Oom Samie sy reuk gekry.

Dis daardie godsalige reuk as ’n mens die winkel inkom en ruikend, verwonderd na die handelsware kyk. Jy koop vandeesweek se gevriesde bobotie of afval. Jy koop sommer ’n sweep. Of ’n handvol lekkers. En pakkies speserye. Dalk ook ’n hoed uit die 1950’s.

En, genade, selfs ’n string bokkoms wat jy later aan moontlik onwillige eters sal voorsit.

Meer oor:  Martie Retief Meiring  |  Idees  |  Winkel  |  Vroue  |  Entrepreneurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.