Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dís hoekom ek nie roomys op straat koop nie

Daar is één geluid wat my altyd beneuk maak – die eentonig-hoë, melankoliese musiek, kompleet asof uit ’n Alfred Hitchcock-riller, miskien ’n toneel waarin ’n apie met melkerige ogies ’n draai-orreltjie bedryf: die roomysverkoper met sy Kombi wat onderlangs hees-bassig prut.

Francois Verster, skrywer van Die Groot Drie. Foto: Edrea du Toit

Ek bejammer sulke mense, hierdie naïewe entrepreneurs wat net een trappie laer is as onderwysers wat met hul pakket-geld ’n biltongwinkel iewers in ’n mall probeer float.

Maar ek vermoed my gevoelens oor roomysverkopers kom uit my kinderherinneringe, aan die oorspronklike model van hierdie spesie – die middeljarige swart man in ’n swart langbroek en wit oorjas wat verbete in die skroeiende son teen die steil bult na ons huis bo in Chamberlainstraat opslinger en met elke derde, vierde trap ’n ou koperklok lui: trap, trap, trap-klieng, trap, trap-trap, trap-tingeling.

Uiteindelik kom die desperate trapper bo. ’n Kleuter gil: “Maaaa, ek soek ’n Zoom-sucker, daai een wat soos ’n skyrocket lyk!” En Ma kom traag agterna. Miskien is sy self lus vir ’n koue sorbet met ’n sjokoladekorsie.

Skielik verskyn ’n vlegselkoppie bokant die tuinmuur oorkant die straat. ’n Stemmetjie vra ’n roomys, een van daai in die ronde kartonbakkies met die houtspaantjie waarmee jy dit uitskep. En die buurvrou kom wys dat sy darem ook ’n roomys vir haar telgie kan bekostig.

Maar meestal tingelingeling die arme sukkelaar tevergeefs oor bult en dal, sekerlik verskeur tussen beelde wat in sy kop klop – hoe lekker so ’n yskoue roomys moet wees teenoor die drang om die verdomde kontrepsie teen die heuwel af te laat gaan.

Ek het op die dwarspyp gesit, bene opgetrek, en toe hardloop ’n kind voor ons in en die voorwiel se speke stroop die velle van my voet af.

My helderste herinnering is egter die slag toe ek en Pa op sy swart 28 Raleigh teen daardie bult af is op pad na ouma Truida in Eyssenstraat, so 2 km verder. Ek het op die dwarspyp gesit, bene opgetrek, en toe hardloop ’n kind voor ons in en die voorwiel se speke stroop die velle van my voet af.

Die ergste is dat dit die tweede maal was wat dit gebeur het. Die vorige keer het ek ’n koejawel laat val en toe ek daarna gryp, druk ek my voet in die speke en ons tref die teerstraat met ’n hengse geweld.

En nou was dit daardie bekkige rooikoplaaitie, die enigste Engelse kind in ons straat, wat altyd vir my skreeu “I wanna smack you, rockspider!” op pad na die roomyskarretjie. Wéér slaat ons neer en dié keer tel Pa die ou fiets bo sy kop op en gooi hom teen die randsteen. Hy het my huis toe ge-abba en die wrak later gaan verwyder, waarna dit in ons garage met pap wiele en ’n gebuigde raam bly staan het.

Sedertdien verpes ek koejawels en het ek nie weer op ’n Raleigh gery voordat ek in st. 4 ’n pers Chopper gekry het nie. En roomysverkopers? Ek sal nooit roomys op straat koop nie, om dieselfde rede waarom ek geld aan die DBV skenk, maar nie hul dierehokke kan besoek nie.

  • Verster is ’n skrywer en argivaris.
Meer oor:  Roomys  |  Herinneringe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.