Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dís hoekom SAL en ander sukkel
Leopold Scholtz

Dis altyd ’n dilemma vir enige politikus: In welke mate moet hy hom deur beginsels of ’n ideologie laat lei, en in welke mate deur die praktyk en gesonde verstand?

Dié vraag word gestel na aanleiding van ’n berig vandeesweek waarvolgens dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, daarop wys dat Eskom die afgelope dekade 12 verskillende uitvoerende hoofde gehad het.

Dis seker nie toevallig dat dié organisasie in dié tyd van krisis tot krisis gestrompel het en deesdae taamlik naby aan die afgrond staan nie. Soortgelyke uitlatings kan rakende heelparty staatsinstellings – waaronder die SAL, Transnet en ander – gemaak word.

As ons by Eskom kan bly, is die vraag waarom hierdie organisasie so dikwels van hoof verwissel het. Minstens ’n belangrike deel van die antwoord is in die ANC-ideologie oor verteenwoordigendheid te vinde.

In teorie kom dit daarop neer dat die rassesamestelling van die breë Suid-Afrikaanse bevolking op alle vlakke in die samelewing weerspieël moet word.

Daarvoor word kwotas ingestel, wat geld vir almal van sportspanne tot kabinetslede. Die praktyk is dikwels dat mense aangestel word in poste waarvoor hulle nie opgelei is nie en op terreine waarvan hulle min of geen ervaring het nie.

Agtereenvolgende hoofde van Eskom het niks of bitter min van elektrisiteitsvoorsiening geweet.

Agtereenvolgende hoofde van Eskom het niks of bitter min van elektrisiteitsvoorsiening geweet. Hoofde van die SAL se kennis van vervoerekonomie en die leiding van groot maatskappye was beroerd, om dit sag te stel.

Ja, die apartheidsverlede is mede-aandadig. Kom ons wees eerlik, dié beleid hét swart mense tot op ’n punt van onderwys- en opleidingsmoontlikhede weerhou.

Maar apartheid lê darem al ’n volle kwarteeu agter ons. Al kan daar nie ontken word dat die momentum steeds ’n sekere invloed uitoefen nie, raak dit nou darem te dik vir ’n daalder om dié beleid nog as die vernaamste rede vir agterstande aan te wys.

Nee, ’n ander faktor is veel meer invloedryk as ’n mens na ’n rede vir die swak vertoning van staatsinstellings soek. Kom ons noem die kind by sy naam: korrupsie. Nepotisme. Baantjies vir boeties. Die soustrein.

Die verhaal van Eskom en die SAL is tipies van wat op wyer vlak in Suid-Afrika aan die gang is.

As die ANC na ’n hoof van byvoorbeeld Eskom of die SAL soek, kyk hy nie na die kwalifikasies, ervaring of bewese bekwaamheid van die kandidate nie.

Daar word na iets oneindig belangriker gekyk: velkleur (swart), lidmaatskap van die regte politieke party (ANC), en ondersteuning van die regte faksie van die regte politieke party (tans die Ramaphosa-faksie, maar vroeër die Zuma- of die Mbeki-faksie).

Die gevolg is dat mense in poste aangestel word waar hulle eenvoudig nie die mas opkom nie. Erger nog, omdat hulle weet dat hulle nie lank gaan bly nie, “skep” hulle dikwels so vinnig as wat hulle kan terwyl hulle nog kan.

En dan kom die vakbonde nog as kompliserende faktor by. Soos pas in die geval van die SAL, eis hulle ook ’n groter deel van die maaltyd en staak as dit blyk die skottel is eintlik al klaar leeg geskep.

Die staking was heel moontlik die laaste strooi wat die vliegtuig se rug breek – alles dui daarop dat die SAL binne enkele weke kan omval.

Dis egter nie die vakbonde wat die hoofskuldige is nie, dis die ANC en die kaders wat hy kragtens sy ideologie van verteenwoordigende korrupsie in staat gestel het om alles leeg te suig.

Die verhaal van Eskom en die SAL is tipies van wat op wyer vlak in Suid-Afrika aan die gang is.

Pres. Cyril Ramaphosa, so lyk dit, besef die omvang van die probleem, maar dis nie maklik om die skip van koers te laat verander nie. Die probleem sal nog vir die afsienbare tyd met ons wees.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Korrupsie  |  Sal  |  Eskom  |  Kaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.