Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dis hoog tyd vir só ’n burokrasie

Supra Mahumapelo, die beleërde premier van Noordwes, wil maar net nie gaan lê nie.

Sy weiering om opsy te staan, nadat hy onderneem het om dit te doen, het pres. Cyril Ramaphosa gedwing om regstreekse nasionale beheer van die provinsie oor te neem.

Ramaphosa het gedoen wat baie mense in en buite Noordwes van hom verwag het. Die mense van Noordwes wys hul ontevredenheid met Mahumapelo deur voortslepende gewelddadigheid wat die provinsie in ’n politieke oorlogsone omskep. Dit vereis ferm optrede van die regering.

Só beskou is Ramaphosa se besluit om ingevolge die Grondwet regstreeks beheer oor te neem, die korrekte een.

Dit is belangrik dat premiers oral dié boodskap duidelik moet kry. Hulle het nie absolute mag nie en moet, soos wat van alle politici verwag word, regeer met ’n sin vir verantwoordbaarheid.

Die vraag is nou of Mahumapelo hom aan Ramaphosa se optrede gaan steur. Die vroeë aanduidings is nie goed nie. As hy hiermee volhard, sal die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) hom moet herroep as premier, soortgelyk aan wat met oudpres. Jacob Zuma gebeur het. Maar in hierdie geval is die uitdaging ’n bietjie meer kompleks.

Daar is nie eensgesindheid oor Mahumapelo in die Noordwes-wetgewer, die Noordwes-ANC en skynbaar ook nie in die NUK nie

Daar is nie eensgesindheid oor Mahumapelo in die Noordwes-wetgewer, die Noordwes-ANC en skynbaar ook nie in die NUK nie. Dit is ’n toets vir sowel Ramaphosa as die ANC. Die president kan nie net terugsit en kyk wat gebeur nie. Hy sal die ANC móét oorreed om Mahumapelo te herroep.

Intussen kan Noordwes nie vir té lank sonder ’n premier voortgaan nie. Dit sal net ’n reeds swak situasie wat dienslewering betref – van die ergste in die land – verder verdiep. Mahumapelo moet pa staan vir hierdie situasie en kan dus nie vertrou word om dit te beredder nie. Hy moet gepos word.

’n Ministeriële taakspan het al in ’n soortgelyke scenario in 2011 gehelp met ’n vrotsige situasie in Limpopo.

Sulke taakspanne het egter beperkinge. Iets meer drasties is nodig.

Dit beteken die aanstelling van ’n nuwe, bekwame premier. Nog ’n vereiste is om ontslae te raak van korrupte senior amptenare wat toegelaat het dat Mahumapelo en ander hul posisies misbruik vir eie gewin.

Die uitdaging vir die ANC is om te verseker dat sy interne prosesse in orde is vir die aanwys van geloofwaardige nuwe senior politieke en burokratiese amptenare in Noordwes.

Mahumapelo se oorblywende politieke greep op die provinsie sal eenvoudig gebreek móét word. Hy is op die oomblik die grootste uitdaging vir Rama­phosa se eie geloofwaardigheid in die ANC én die land. Sukses vir hom in Noordwes teen Mahumapelo kan sy eie posisie in die ANC aansienlik versterk.

Die hele sage in Noordwes beklemtoon weer eens die behoefte aan ’n professionele burokratiese korps, want staatsamptenare behoort nie ingesuig te word by die verwerplike speletjies van hul politieke meesters nie.

Wetgewing moet ook versterk word om amptenare teen politici te beskerm. Hulle moet bemagtig word om nee te kan sê vir optrede deur politici wat duidelik korrup, oneties en misdadig is.

’n Mens hoef net te kyk na wat in die Vrystaat gebeur het met die Estina-melkplaas-debakel. Dit blyk ’n geval te wees van politici wat hul hand oorspeel het en amptenare wat hulle gedweë laat mislei het.

’n Professionele, opgeleide burokrasie met ’n kultuur van etiese en eerlike diens kan ’n waardevolle buffer wees teen dié soort skadelike mistastings deur staatsamptenare én politici.

Waarom het ons nog nie ’n professionele burokrasie nie? Dit is ’n geldige vraag wat iemand – dalk Ramaphosa – moet beantwoord.

Meer oor:  Supra Mahumapelo  |  Politiek  |  Premier  |  Noordwes  |  Mag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.