Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dis jammer efcharistó is Grieks vir ons

rolbos s.nw. ’n Ronde bossie met speekvormige takke en klein naaldvormige blaartjies wat deur die wind rondgerol word. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

Toe ek anderdag by die Topolino-kafee in Kloofstraat uitstap, het die aarde vir my woes en leeg gevoel. Daar was geen skeiding tussen lig en duisternis nie, net ’n kleurlose versugting. Die Griekse eienaar, Peter Tournas (82), sluit sy deure.

Ek ken hom vandat ek ’n klein seuntjie van vier in 1969 was, toe hy dié kafee gekoop het. Dit was die jaar van die eerste maanlanding, aardbewings in Tulbagh, Gé Korsten se “Sing, seeman, sing”, die rolprent Dirkie – en die Ontugwet het hoogty gevier.

Ek het gereeld by hom gaan lekkers koop en moes toe nog na hom opkyk terwyl hy die ­Jelly Tots in my kinderhande aangee. Vandag het hy ietwat gekrimp en is hy die een wat na my opkyk. Alles lyk kleiner.

Hy het my hand geskud. Ek het vir hom totsiens gesê. “I ­have known you for most of my life,” het ek genoem.

“I know,” het hy met sy Griekse aksent geantwoord. Dit was nie nodig om meer te sê nie, die stilte was kole wat vir oulaas gloei en dan doodgaan.

Amper ’n halfeeu het na my toe aangewaai, rolbosse oor vergete vlaktes. Elke herinnering het soos ’n manskap in stille gelid by ’n roudiens kom aantree. Hierdie is die laaste van dié soort outydse kafees wat finaal in Kloofstraat toemaak. Destyds was daar oor die 20. Dit is nou ’n straat vir fynkos, delikatessewinkels en infantiele speelgoed vir bejaarde trendoids wat soos winkelpoppe sonder gesigsuitdrukkings lyk.

Tog was Topolino op sy dag meer as sommer ’n hierjyplek, dit was ’n kafee-restaurant. Hulle het hamburgers en slaptjips met pienk, groen of geel melkskommels bedien.

Daar was ’n groot spieël waar die vroue vars grimering kon aansit: oranje lipstiffie wat sexy monde ’n ekstra tuit kon gee.
Die Coca-Cola-rooi kroegstoele kon ­rondomtalie.

In ’n vertrek agter het tienerseuns en hul meisies luide pinball-masjiene gespeel. Ook foosball, tafelsokker met kleurvolle miniatuursokkermannetjies wat aan ’n staalstaaf hang. Die seuns het hard geskree as een wen, die meisies se wimpers het skoenlapperagtig gefladder.

Buite was daar motorfietse. Daar is gedans. Harte is gebreek. Nuwe liefdes ontdek. Die blêrkas het die jongste musiek uit die 1960’s gespeel. Ek onthou hoe vroue met byekorfhaarstyle en minirokke dit uitgekap het op die maat van The Beatles en Elvis. Mans het stywe jeans, leerbaadjies en hare vol Brylcreem gedra.

Nou is dit die einde. Staan nader Pana­yiotis Tournas, jy wat die laaste van jou soort in hierdie straat is. Verbeel jou jy is op ’n strand terug by die huis in Griekeland. In die agtergrond begin die musiek van jou jeug, “Zorba the Greek”, te speel.

En ’n hele straat vol Topolino-mense uit die verlede kom nader en vat jou aan jou skouer, en ons dans en dans en dans . . . saam met jou tot in die niet. Antio sas.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.