Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Dis ’n basiese behoefte’

Die verbod op die verkoop van drank en sigarette diskrimineer teen mense teen wie daar al reeds erg gediskrimineer word, het JP van Niekerk van die SA Drug Policy Initiative aan Murray La Vita gesê.

Foto ter illustrasie: istock

Die regering het nie deeglik gekyk na die moontlike nagevolge van die besluit om die verkoop van alkohol en sigarette in die tyd van inperking te verbied nie, sê prof. JP van Niekerk.

“Baie mense wat sigarette en alkohol gebruik, beskou dit as hulle basiese benodigdhede, soos kos, en dit word dan van hulle weggeneem. Die besluit diskrimineer ook erg teen mense teen wie daar al reeds erg gediskrimineer word – met ander woorde die armer mense.

“Dié van ons wat ons eie voorrade sigarette en alkohol kon opbou, het dit gedoen. En dan sit ons en kyk op TV hoe die polisie en die weermag mense donder omdat hulle drank misbruik – dit terwyl ons self sit en gemaklik daarvan gebruik maak.”

Mense sal nou die sigarette en alkohol kry deur byvoorbeeld bendes wat daarmee smokkel. Dus, in stede daarvan om dit goed te reguleer, is dit nou ongereguleer en dit lei daartoe dat mense nou misdadig optree, sê Van Niekerk.

“Ons het gesien drankwinkels word nou gestroop en so aan. Die meeste mense, selfs dié wat verslaaf is, gaan hulle goed kry, maar hulle gaan dit op ’n misdadige wyse in die hande kry – op die swartmark.

“Hulle gaan meer daarvoor betaal. En die staat verloor sy beheer daaroor, en die inkomstebelasting.”

‘Dit is soos prohibisiejare’

Johnny Moloto, hoof van openbare betrekkinge by British American Tobacco South Africa (Batsa), het vroeër aan Rapport gesê belastinginkomste uit wettige tabakverkope beloop tans sowat R1,5 miljard per maand. Dié inkomste is weens die verbod nou vir die staat verlore.

Daarby verloor die Suid-Afrikaanse Inkomstediens reeds sowat R8 miljard per jaar aan onbetaalde belasting weens die sluikhandel.

“ ’n Mens moet hierdie goed behéér, en om dit eenvoudig te verbiéd, maak dit dieselfde as wat ’n mens in die prohibisiejare in Amerika gehad het waar mense steeds drank in die hande gekry het, maar die hele ding word dan deur misdadigers bedryf en gereguleer,” sê Van Niekerk.

“Dan kry jy ook die polisie wat daarmee saamwerk, want hulle word daarvoor betaal en so aan. Dus is die nadelige gevolge baie erger as om te probéér om mense te verbied.”

‘Skep rasionele wette’

Van Niekerk is ’n voormalige dekaan van die mediese fakulteit van die Universiteit van Kaapstad en redakteur van die Suid-Afrikaanse Mediese Joernaal, waarin hy steeds bydraes lewer.

“As redakteur van die Suid-Afrikaanse Mediese Joernaal wou ek iets skryf oor tik in die Wes-Kaap omdat dit hier ’n groot probleem is.

“En hoe meer ek daarna gekyk het, hoe meer het ek verstaan tik is maar net ’n klein deeltjie van ’n baie groter probleem, en dít is die hele kwessie van dwelms wêreldwyd. Die oorlog teen dwelms net soos in die tyd van die prohibisie in die Amerika kan baie meer skade veroorsaak as wat die gebruik van dwelms doen.

“Een van my kollegas het dit gelees en het later gesê ons moet by die hele dwelmprobleem betrokke raak en beleid beïnvloed.

“En dít is toe ons hierdie organisasie gestig het. Die groepie van ons is ’n hele klomp mediese mense en ook regsgeleerdes wat almal tot dieselfde gevolgtrekking gekom het.

“Ons het intussen ook baie ander mense betrokke gemaak wat saam met ons werk, al is hulle nie noodwendig lede van die groep nie.

“Ons invloed het uitgekring, maar ons bly ’n klein groepie wat lig op die onderwerp skyn sodat mense kan sien wat die situasie is en ons daardeur ons invloed wyer laat uitkring.”

Die SA Drug Policy Initiative (SADPI) het in 2018 tot stand gekom en beywer hom vir die wettige regulering van alle dwelmmiddels en die skep van “menslike en rasionele wette” om die dwelmverwante skade en die toename in georganiseerde misdaad en bendebedrywighede te verminder.

’n Persoon wat nie sy sigarette en alkohol kan gebruik nie en dit nodig het, is baie meer geneig om kwaadwillig op te tree.

‘Die bedoeling was reg’

Van Niekerk meen die alternatief tot die kriminalisering van dwelmgebruik is “wettige regulering”.

“Op die oomblik word die dwelms gereguleer, maar deur die misdadigers. Wettige regulering kan vir verskeie middels verskeie dinge beteken. Dagga is byvoorbeeld nou in die proses om só gereguleer te word terwyl dit voorheen ’n strafregtelike oortreding was om dit te besit en te gebruik.

“Die feit dat dít gebeur het, is deels as gevolg van ons invloed.”

Oor die beskouing dat daar sedert die inperking en die gepaardgaande beperking op die verkoop van tabak en alkohol ’n afname in alkoholverwante beserings by die ongevalle-afdelings van hospitale waargeneem word, sê Van Niekerk dit is baie moeilik om sulke gevolgtrekkings te maak.

“In die eerste instansie is daar geen bewys dat minder alkohol nou gebruik word nie.

“En dan is daar die kwessie dat dit baie moeiliker is vir mense om misdadig op te tree terwyl hulle deur ander mense omring is omdat almal tuis en nie by die werk is nie. Ek sou dit dus betwyfel.”

Hy dink dus ook nie die beperking op die verkoop van alkohol as sulks gaan ’n afname in gesinsgeweld tot gevolg hê nie.

“Kyk, ek dink die bedoeling was heeltemal reg, maar ’n mens moet kyk na die gevolge daarvan.

“Maar, weer eens, ek sou dink dat daar geen vermindering in die alkohol- en sigaretgebruik is nie. Mense gaan na die spazas en hulle koop enkelsigarette vir R4 elk en dan koop hulle drank wat onwettig is.

“Almal in die gemeenskap is nou tuis en terwyl almal tuis is, is dit baie moeiliker om met sulke geweld voort te gaan.

“Wat ons wel sien, is dat die gemeenskappe die polisie aanval omdat die polisie – en ook die weermag – so erg optree.

“Ek twyfel dus of die regering uiteindelik in sy doel geslaag het. ’n Persoon wat nie sy sigarette en alkohol kan gebruik nie en dit nodig het, is baie meer geneig om kwaadwillig op te tree.”

‘Die uiteinde is die dood’

Daar is ’n klein persentasie van mense wat glád nie hul alkohol sal kan kry nie en dan mediese toestande soos delirium tremens gaan ontwikkel, sê Van Niekerk.

Die SADPI het vroeër in ’n verklaring gesê die beperking op die verkoop van alkohol en tabak neem nie in ag watter skade dit gaan aanrig aan mense wat daaraan verslaaf is nie.

“Mense wat skielik ophou om die middele te gebruik kan ’n verskeidenheid van simptome ervaar – dit sluit in psigose, toevalle en kan uiteindelik tot hul dood lei.

“Middelafhanklikheid is ’n mediese toestand wat dikwels voorkom by mense met sielkundige siektes of onderliggende psigo-sosiale probleme. Mediese kundiges kan dit beheer en behandel deur medisyne, psigiatriese sorg en ander ondersteunende maatreëls,” lui die verklaring.

Maar aangesien ons gesondheidsdienste nie genoeg personeel het nie en selfs in “normale tye” sukkel om hierdie toestande te behandel, is dit onwaarskynlik dat voldoende hulp en ondersteuning beskikbaar gaan wees vir mense wat hulle nou in ’n situasie bevind waar hulle afgesny is van die middele wat hulle nodig het nie.

‘Dit gaan nie skade verminder’

Dít gaan die druk op ’n reeds oorlaaide gesondheidstelsel verhoog, meen die SADPI.

“Die meeste mense wat middelafhanklik is, gebruik meer as een soort middel om hulle deur die dag te kry. Dus sal iemand wat byvoorbeeld aan heroïen verslaaf is, maar oor die weg kan kom met alkohol, dagga of tabak, nie die mas kan opkom indien hulle nie dwelms op die swartmark koop nie,” lui die verklaring voorts.

“Ek dink ons almal – ook die regering – se doel is om die skade te verminder. Ons groep het na ál die inligting gekyk en gesien: Nee kyk, om dit te verbied, gaan nié die skade verminder nie; dit gaan net die ding vererger, want vir daardie mense is dit hulle basiese benodighede,” sê Van Niekerk.

Die SADPI is in gesprek met kerke en ander gemeenskapsgroepe.

“Ons wil ook die mense se opinie daaroor verander. Dis baie maklik om te sê ’n ding is nie goed nie, verban dit, maar dis ’n baie meer gekompliseerde saak as dit.”

  • La Vita is ’n senior artikelskrywer by Netwerk24.
Meer oor:  Murray La Vita  |  Drank  |  Verbod  |  Sigarette  |  Verkoop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.