Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dis ’n daad van verraad om nie te stem

Oor ’n week, op Woensdag 8 Mei, word alle kiesers gelyk – die gewaardeerde staatshoof, die sorgsame moeder, die nadenkende intellektueel, die kromgetrekte arbeider, die ryk sakeman, die uitdagende vakbondleier, die lui konstabel en die stowwerige skaapwagter?.?.?.

Wilhelm Jordaan

Dit is ’n gelykheid wat aan elke landsburger inherente waarde toeken. As ’n mens dink aan die lang geskiedenis daaraan verbonde om dié waarde te verwerf, hier en elders in die wêreld, is mense se voor­neme om weg te bly van die stembus en die miljoene wat versuim het om as kiesers te registreer, ’n vorm van uiterste sinisme.

Eintlik ’n daad van verraad teen ’n geskiedenis van ont­bering en ontneming. Ja, ’n mens kan sinies oor politieke verkiesings wees: Stem vir die party wat die minste beloof en jy sal die minste teleurgesteld wees!

Maar anderkant dié sinisme kom die verpligting om jou waarde te bevestig. Want daar is ’n ruimer be­tekenis, soos Winston Churchill dit verwoord het: “At the bottom of all the tributes paid to democracy is the little man, walking into the little booth, with a little pencil, making a little cross on a little bit of paper – no amount of rhetoric or voluminous discus­sion can possibly diminish the over­whelming importance of the point.

Wat ook sê die mense van Suid-Afrika is nie toevallig­hede in mekaar se leefruimtes nie. Elkeen is bestem om saak te maak. Dít is die toets wat die ANC-­regering skromelik gefaal het. Want die tekens van “nie saak maak nie” is skreiend volop: Dit maak nie saak dat mense met lekkende, stinkende riool moet saamleef nie.

Dit maak nie saak dat die staat gekaap word nie. Dit maak nie saak as jy ’n korrupte hand het wat net wil vat nie. Dit maak nie saak as jy onbeholpe bestuur, swak dienslewering en onvermoë eufemisties toeskryf aan “gebrekkige kapasiteit” nie. So kan ’n mens eindeloos voortborduur. 

Soos met apartheid is ’n mens opnuut skaam – nie om ’n Suid-Afrikaner te wees nie, maar oor maghebbers se gebrekkige morele leierskap, arrogansie, korrupsie, opportunisme, versuim en onvermoë om te luister na die armste van armes én na welmenende kundiges se raad.

’n Regering van dowe ore verdien nié om alleen te regeer nie. By die “klein mensies met hul klein kruisies” is genoeg frustrasie, wantroue, wrewel en woede oor hoe die beloofde beter lewe vir almal net ’n beter lewe vir sommige geword het.Daar sal ’n politieke herskikking moet kom – met nuwe energie wat sal toelaat dat die bont versameling mense wat ons is, werklik demokraties leef.

Om waar te maak wat die Franse skrywer Victor Hugo lank gelede gesê het: “Daar is een ding wat sterker is as ál die leërs van die wêreld – en dít is ’n idee waarvan die tyd aangebreek het.”Om jou stem uit te bring, te laat “hoor”, hou juis dié moontlikheid in. 

  • Jordaan is ’n buitengewone professor in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Rubriek  |  Mening  |  Stem  |  Politiek  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.