Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dis ’n grondwetlike krisis
Polisielede op die toneel waar lt.kol. Charl Kinnear Vrydag voor sy huis in Bishop Lavis vermoor is. Foto: jaco marais

Op die Kaapse Vlakte word die topspeurder lt.kol. Charl Kinnear helder oordag vermoor.

Christo van der Rheede Foto: Argief

Naby Grabouw word Zameka Mfubesi, ’n toegewyde skoolhoof, koelbloedig geskiet. Die plaaseienaars Glen en Vida Rafferty, wat vir hul gemeenskap geleef het, word op hul plaas in Newcastle vermoor en beroof. So ook Lizette Deacon, ’n geliefde restauranteienaar, en haar ma, Hettie, wat uit hul meenthuis in Polokwane ontvoer en daarna wreed vermoor is.

Hulle is nie die enigstes nie. Dag ná dag verneem ons van weerlose mense in ons stede, dorpe en op plase wat deur misdadigers geteiken en vermoor word. Niemand word ontsien nie.

Die aanvalle is goed georganiseer. Gespesialiseerde sluipmoordenaars het kontakte wat hulle selfs toegang gee tot selfoonseintegnologie om polisie­beamptes te vermoor.

Plaasaanvallers hou die bewegings van plaaseienaars dop en slaan berekend toe. Huurmoordenaars word ingespan om mense uit te haal wat as ’n bedreiging gesien word. Allerlei ander misdadigers span saam en spits hulle toe op weerlose mense.

Aanvalle word fyn beplan. Maar daar is ook aanvalle wat op die ingewing van die oomblik plaasvind.

Inligting vervat in die polisie se misdaadstatistiekverslag wat in Julie uitgereik is, skets ’n prentjie van ’n land waarin misdaad buite beheer is. Luidens die verslag is 21 325 mense in die 2019-’20-boekjaar vermoor. Dit kom neer op sowat 58 mense per dag. In dieselfde tydperk is 42 289 vroue verkrag – dit is sowat 115 vroue per dag.

In die verslag word ook vermeld dat 49 plaasmoorde in dié boekjaar gepleeg is, en 621 282 gevalle van kontakmisdaad word aangedui.

In die verslag word ook vermeld dat 49 plaasmoorde in dié boekjaar gepleeg is, en 621 282 gevalle van kontakmisdaad word aangedui. Dit sluit onder meer in moord, poging tot moord en aanranding.

Dit is ’n nasionale grondwetlike krisis omdat dit die staat se plig is om sy burgers te beskerm.

As die staat daarin misluk, is dit in stryd met die Grondwet, wat dit baie duidelik stel dat elke burger die reg op lewe het.

Niemand mag dus die lewe van ’n ander mens beëindig nie. Die staat moet die allerbeste beskerming aan almal bied.

Hierdie verantwoordelikheid berus by die Suid-Afrikaans Polisiediens (SAPD) en dit is hul plig om elke saak behoorlik te ondersoek en die skuldiges vas te trek.

Hoe die land se veiligheidsdienste moet funksioneer, word in ons Grondwet uiteengesit. Dit is die hoogste reg van die land wat ons demokratiese bestel moet beskerm.

Die hoeksteen van ons demokrasie is die Handves van Menseregte. Dit verskans die regte van alle mense in ons land en bevestig die demokratiese waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid.

Die staat moet die regte in die Handves van Menseregte eerbiedig, beskerm, bevorder en verwesenlik.

Die staat moet die regte in die Handves van Menseregte eerbiedig, beskerm, bevorder en verwesenlik.

Vir hierdie grondwetlike krisis moet die staat daarom tot verantwoording geroep word.

Dit begin by die president as hoof van die nasionale uitvoerende gesag wat ’n lid van die kabinet as minister van polisie aanstel, asook ’n nasionale kommissaris van polisie, wat die polisiediens op ’n daaglikse grondslag moet beheer en bestuur.

Die nasionale kommissaris moet uitvoering gee aan die nasionale polisiëringsbeleid, en stel op sy beurt provinsiale kommissarisse aan.

Die minister van polisie, die kommissarisse en alle ander amptenare op grondvlak moet sonder vrees of guns uitvoering aan hierdie grondwetlike opdrag gee.

Op hul skouers rus daar dus ’n groot verantwoordelikheid om misdaad van watter aard ook al nooit te regverdig, onderspeel of te verpolitiseer nie.

“Who do you think you are . . .”, minister Bheki Cele, is daarom teen dié grein en onbetaamlik!

  • Van der Rheede is die uitvoerende hoof van Agri SA.
Meer oor:  Christo Van Der Rheede  |  Grondwet  |  Menseregte  |  Plaasmoorde  |  Moord  |  Bendegeweld  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.