Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dis ’n voorreg om nie vir ’n baas te werk nie
Annelie Botes

Onlangs het daar fout gekom in my loodgieterswerk. Op dié beland ek in die hospitaal sodat ’n uroloog die los skroef kan vasdraai.

Behalwe papiersake by die mediese fonds, had ek nie nodig om ’n siekbrief by ’n werkgewer in te gee nie. Want ’n lewensvoorreg wat my toe­bedeel is, is om nie van agt tot vyf vir ’n baas te werk nie. As ek dag vir dag met die gelui van ’n wekker moet opspring, sal ek sekerlik in ’n dwangbaadjie beland.

In die 1980’s, toe ek die musiekjuffrou in Bedford was, het dit so hittete gebeur. Op ’n dag het ek begin siek voel. Hoofpyn. Maagpyn. ’n Naarheid wat my laat voel ek ry op ’n draaierige grondpad. Maar hoofpyn, maagpyn en naarheid is nie siektes waarvoor jy af siek geboek word nie. Niemand glo jy makeer régtig iets nie. Dis ’n eendagsiekte wat jy opdis as jy babelas het.

Ek bel die skoolhoof en sê ek dink ek het voedselvergiftiging. Middagtyd sleep ek na die Skotse dokter toe. Hy sê dis stres, of ’n galaanval, en boek my drie dae af. Só lê ek in die bed met digte gordyne. Die reuk van kos laat my bulk.

By die skool is chaos met sangklasse wat bewaak moet word. Die musiekleerlinge moet oefen vir die eisteddfod en skoolkonsert en komende musiekeksamen. Hoe bitter ook al, ek moet op en aan. Want ek het ’n baas aan wie ek moet beduie hoekom ek vanweë aansitsiektes nie kan werk nie.

Teen al my kragte probeer ek my dagtaak verrig. Een week word twee weke. Ek leef van limonade met suurlemoensap en verloor soveel gewig dat my skoene los sit aan my voete.

Ek leef van limonade met suurlemoensap en verloor soveel gewig dat my skoene los sit aan my voete.

Pousetye raak ek seesiek as ek sien hoe my kollegas hul toebroodjies eet. Ek weier botweg om Saterdae by sportwedstryde worsbroodjies te verkoop.

Die Skotse dokter hou by sy stresdiagnose. En die skoolhoof is omgekrap oor my gebrek aan insette. Ná drie weke van voortveg bly ek die Maandagoggend lê. Hulle kan die skoollied sonder begeleiding sing met saalbyeenkoms; die musiekleerlinge kan maar dop.

Die middag klop die skoolhoof aan die deur. Die báás. Ongenaakbaar. Volgens hom is my skete nié geldige siektes nie. Hy sal die situasie by Posbus 13, Kaapstad – dís nou die onderwysdepartement – moet aanmeld.

Eers ná twee maande het ek mens begin voel. Kans gesien om bloed te skenk toe die bloedskenkkombi in Bedford draai. Toe kry ek ’n brief om te sê ek het geelsug gehad en my bloed kan slegs vir plasma gebruik word. Of so iets.

Aanstons het ek bedank en padgegee uit die musiekklas.

Toe ek onlangs in die hospitaal lê, het ek halleluja gesing vir die voorreg om nié aan ’n baas verslag te doen nie. Maar ek wil tjank as ek dink wat my pensioen sou gewees het as ek nie so hondstaai was nie.

Nogtans, kopseer, naarheid en maagpyn is nie vir papperds nie. En tot vandag ly ek aan die nagevolge van onbehandelde geelsug.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Onderwysdepartement  |  Naarheidm Siekte  |  Baas  |  Geelsug
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.