Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dis niks anders nie as anargie
Anton van Niekerk

Terwyl dit enersyds voel of ons terugreis­ na normaliteit te langsaam vorder, verander dinge tans tog ook vinnig. Die ekonomie toon tekens van beskeie herstel, ten spyte van die amper onberekenbare skade wat die inperking veroorsaak het.

Al is ’n wind gesluk met die Astra­Zeneca-entstof, word groot getalle gesondheidswerkers tans tog suksesvol ingeënt. Leerlinge is uiteindelik terug op skool; ’n mens sien selfs skoolkinders nauurs doenig op sportvelde. Dis net by die universiteite waar ons nog geen betroubare aanduiding het van hoe ons vanjaar moet aanpak nie.

Te midde van al hierdie woelinge verras min dinge ons nog. Tog het daar in die afgelope twee weke iets gebeur wat my maag behoorlik laat draai het van ontsteltenis. Ek verwys na die hoogedele oudpres. Jacob Zuma (pas ook gevolg deur die sakeman Auswell Mashaba), wat eensydig besluit het dat hy nie voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping sal getuig nie. Dit nadat die konstitusionele hof – die hoogste hof van die land – ’n bevinding gemaak het wat hom verplig om te getuig. Dit, daarby, ten spyte van die interessante feit dat Zuma self adjunkhoofregter Raymond Zondo aangestel het om korrupsie en staatskaping, veral ten tyde van Zuma se bewind, te ondersoek.

Dit, eweneens, ten spyte van die feit dat dit ’n ideale geleentheid vir Zuma sou wees om sy naam in ere te herstel (indien moontlik!) in die nadraai van die afskuwelike en verpletterende korpus van getuienis wat reeds voor die kommissie opgelaai het aangaande die eiewettigheid waarmee Zuma die land jare bestuur het.

’n Oudpresident van hierdie land ag homself bevoeg om self te besluit watter wette van die land (sommige waarvan hy self onderteken het) hy sal gehoorsaam.

Ek vind dit eweneens laakbaar dat pres. Cyril Ramaphosa en die hele ANC dié sirkus aanskou en in alle tale daaroor swyg. Die bewering word in die ANC gemaak dat Ramaphosa nie anders kan nie, anders word regterlike en uitvoerende gesag vermeng.

Dis eerstens nie Ramaphosa wat vir ’n moontlik sodanige vermenging van gesagstrukture verantwoordelik is nie, maar Zuma! Tweedens, as Zuma hom aan geen wet steur nie, word van die wetstoepassingsowerheid (lees: weermag en polisie), wat ’n arm van die uitvoerende gesag is, verwag om op te tree. Ergo: Ramaphosa kan die polisie inroep om wat wettig vereis word, af te dwing of die oortreder(s) aan die pen te laat ry.

Wat het hier gebeur? Eenvoudig die volgende: ’n Oudpresident van hierdie land (nou met niks meer status as dié van ’n gewone burger nie), ag homself bevoeg om self te besluit watter wette van die land (sommige waarvan hy self onderteken het) hy sal gehoorsaam. Die regsminagting van wat hier plaasvind, is dieselfde as die keer toe Julius Malema gedreig het om die polisie se huise aan te val as hulle reg en orde durf probeer handhaaf waar hy teenwoordig is.

Vergewe my as ek bly hamer op een ononderhandelbare aanspraak: Ons is ’n regstaat. In ’n regstaat regeer wette, gemaak deur legitieme volksverteenwoordigers en uitgevoer deur konstitusioneel aangewese owerhede in die land – nie mense wat self besluit wanneer hulle onderhewig is aan die wette van die land nie. Waar hierdie beginsel geminag of verwerp word, het die staat nie alleen misluk nie. Die staat bestaan dan nie meer nie. Anargisme het dan geseëvier.

Dit is ’n godskreiende skande dat die waardige Zondo weer ’n keer gedweë by die konstitusionele hof moes gaan pleit om ’n hofbevel wat sy (Zondo se) wetlik legitieme reëling sal afdwing. En dis ’n ewe groot skande dat die uitvoerende gesag van hierdie vermeende regstaat die petalje gelate aanskou en nie daadwerklik daaroor optree nie – al is dit net om iets te sê!

  • Van Niekerk is ’n professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Anton Van Niekerk  |  Anargie  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.