Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dis nou régtig vyf voor twaalf

Normaalweg bekyk ek apokaliptiese voorspellings met ’n tikkie argwaan. Wanneer mense sê as jy nie A of B doen nie, beteken dit ons almal se ondergang, so is my ervaring, is dit meestal nie heeltemal só erg nie.

Maar die verslag van die interregeringspaneel oor klimaatsverandering wat vandeesweek uitgereik is, kan nie só nonchalant afgemaak word nie.

Die verslag is opgestel deur byna 100 van die wêreld se voorste klimaat­wetenskaplikes en bevat ’n noodkreet dat die mensdom drasties vinnig anders met sy planeet sal moet omgaan.

Dat die aarde warmer word, wys die koue statistiek duidelik. Skeptici sê dis óf nie die geval nie óf dis deel van ’n natuurlike siklus. Nóg ek nóg 99,9% van die lesers kan op grond van eie kundigheid ’n oordeel vel.

Maar dit is wel die oorweldigende konsensus onder diegene wat hulle op die onderwerp toespits, wat beteken jy móét dit ernstig opneem.

Die kern van die verslag is dat die verwarming van die atmosfeer binne 11 jaar tot 1,5 °C beperk moet word, anders steek die mensdom ’n kantelpunt verby wat wêreldwyd rampspoed kan meebring – droogte, oorstromings, storms, hongersnood, noem maar op.

Wat kan gedoen word? Die belangrikste is dat energievoorsiening groen moet word.

Tans is fossielbrandstof (steenkool, olie en aardgas) die belangrikste bron van energie. Die verbranding daarvan pomp miljarde tonne koolsuurgas en ander afvalstowwe die atmosfeer in, wat ’n kweekhuiseffek, en dus verwarming van die atmosfeer, veroorsaak.

Die probleem is dat die moderne wêreld volledig van energie-opwekking afhanklik is.

Die probleem is dat die moderne wêreld volledig van energie-opwekking afhanklik is. Voor die industriële revolusie was spierkrag grotendeels daarvoor verantwoordelik, maar sedertdien het fossielbrandstof dié taak oorgeneem.

Om dit te verander, is nie so maklik nie. Van die besware teen die noodsaaklike energie-omwenteling is dat dit verskriklik duur gaan wees. Toegegee.

Maar daar is twee argumente wat dit ontkrag. Een: As die vergroening van energievoorsiening nié ’n werklikheid word nie, gaan dit vele male duurder word om die katastrofale gevolge van aardverwarming die hoof te bied. Twee: Dalk moet ’n mens dit eerder as ’n belegging sien wat ’n rendement kan meebring as dat dit ’n dooie uitgawe is.

Daar is politici wat nie in staat is om in te sien dat ons nie meer in die 19de of 20ste eeu leef nie.

Selfs los van die verslag is dit al lank duidelik dat die ekonomiese toekoms groen is. Sonpanele, waterkrag, windenergie – dit alles is nie sonder probleme nie, maar dis wel in daardie breë rigting waarin die toekoms wag.

Daar is politici – pres. Donald Trump is die berugste voorbeeld – wat nie in staat is om in te sien dat ons nie meer in die 19de of 20ste eeu leef nie.

Ook China, wat verreweg die grootste lugvervuiler ter wêreld is, beplan luidens berigte die bou van tientalle nuwe steenkoolkragsentrales.

Gelukkig is daar ook positiewe ontwikkelings. In Amerika steur tientalle deelstate en munisipaliteite hulle nie aan Trump nie en gaan op eie houtjie voort met die vergroening van die gebiede onder hul beheer. Steeds meer motorvervaardigers ontwikkel beter elektriese motors of voertuie wat waterstof as brandstof gebruik en slegs waterdamp as uitlaatgas produseer.

In Nederland, waar ek woon, is hibriede of volledig elektriese motors al etlike jare ’n alledaagse gesig. Tientalle pale waar die batterye herlaai kan word, staan oral op parkeerplekke.

Die saak moet holisties beskou word. Indien die kantelpunt waaroor die navorsingsgroep bekommerd is, wel bereik word, kan dit mettertyd die internasionale spanning sodanig verhoog dat steeds meer oorloë, selfs ’n Derde Wêreldoorlog, ’n moontlikheid is.

Dis régtig vyf voor twaalf.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Opwekking  |  Omgewing  |  Krag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.