Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dis nou tyd vir Afrikaners en wittes om te luister

Ferial Haffajee vertel sy was nogal in die bors gestuit tydens navorsing vir haar nuwe boek toe sy besef wat die aard en omvang van landsdebatte in die swart gemeenskap is. “We wish there were no whites,” het baie vir haar gesê. “If they weren’t here things would have worked.”

Die bekroonde redakteur van City Press verduidelik verlede week by die bekendstelling van haar boek (“What if there were no whites in South Africa”) hoe meer sy vir diegene in haar handel en wandel verduidelik om wittes weg te wens niks gaan verander nie, hoe meer het die woede en frustrasie na die oppervlakte geborrel.

“They believe if the whites didn’t come work would have been better, there would have been less poverty, things would have worked. And I tell them: ‘But it’s not that simple’,” het sy in gesprek met Songezo Zibi, redakteur van Business Day, gesê.

Baie vind aanklank by Julius Malema se verklaring verlede week in Londen: dat Nelson Mandela die struggle ten gunste van 'n idealistiese droom van nie-rassigheid en versoening uitverkoop het. Mandela se idees is vir die jonger generasie verouderd, hulle identifiseer nie daarmee nie.

Die grootste nuusgebeurtenis van die jaar – een waarin daar omtrent elke maand die een of ander rasse-voorval was – was ongetwyfeld die studenteprotes wat deur #RhodesMustFall ingelei is. En net nog 'n manifestasie van frustrasie met die heersende orde (soos Marikana en diensleweringsbetogings vroeër).

“Dit was kritiek op die transformasieproses en die boodskap was: ‘Ons het iets meer gespierd, meer radikaal nodig. Waarom hou ons vir Louis Botha en Jan van Riebeeck op hul voetstukke?’ 

“Die grondleggers van ons demokrasie het gereken ons moet hulle hou, nie om hulle te vereer nie, maar om ons te herinner waar ons vandaan kom. Die nuwe generasie sê egter: ‘Nee, hulle moet waai.’”

Dié mense se frustrasie met hul wit landgenote word vererger deur wittes se wanbegrip of ontkennning van wit bevoorregting en heerskappy. Dit word volgens Haffajee, danksy die struktuur van ons samelewing en die institusionalisering van 'n wit kultuur, tradisies en gebruike, steeds voortgesit.

“Neem wittes deel aan die gesprek oor witwees, ras, bevoorregting, wit heerskappy, nie-rassigheid? My mening: sommiges ‘engage’, maar baie doen nie,” het sy gesê.

Die gevolg daarvan is dat swart Suid-Afrikaners volgens haar gebuk gaan onder 'n gevestigde en versmorende wit heersende orde. Dit onderdruk haar en haar swart landgenote “en mens raak verlore in dié narratief, sonder om 'n ontsnappingsroete te sien”.

Dit was nogal 'n stamp teen die bors om as wit man dié en baie ander uitlatings te hoor, ook ná die tyd in gesprek met kollegas van City Press, wat daagliks probeer om die draaikolk-debatte in die breë swart gemeenskap te verstaan en te verwoord. Ons is 21 jaar ná 1994 nog nie waar ons moet wees nie en die geduld van die oorgrote meerderheid van Suid-Afrikaners is besig om op te raak, was die deurlopende tema.

Politieke mag is nou in die hande van 'n demokraties verkose regering, ja, maar Suid-Afrika se norme, waardes en instellings is steeds geskoei op vaste tradisies en prosedure wat oor dekades en eeue heen gevestig is.

Dit skep outomaties 'n gevoel van uitsluiting onder swart Suid-Afrikaners wat bots met wit Suid-Afrikaners se eie frustrasies. Dit lei op sy beurt tot wedersydse wanbegrip. Voeg by eersgenoemde onverantwoordelike populisme en by laasgenoemde onverantwoordelike propaganda en ons sit met 'n giftige brousel van agterdog en nyd.

Daar is 'n gesofistikeerde (en fassinerende) debat oor rasseverhoudings wat in die breër samelewing woed – en ons almal moet daaraan deelneem. Dit is vir baie onthutsend en soms ontstellend om te sien hoe simboliek (taal of simbole) uit die verlede getakel word. Die “gespierde” optrede, waarna Haffajee verwys, is seker nie in pas met die gemaklike rit wat ons almal oorwegend sedert 1994 gehad het nie.

Dalk het dit nou tyd vir wittes en Afrikaners geword om fyn en vreesloos te luister; nie na onbeholpe politici en opportunistiese aktiviste nie, maar na landgenote: mense op grondvlak, in die werkplek, in die skool se parkeerterrein en in die stemme van meningsvormers. Verstaan ons werklik waar die pruttende frustrasie vandaan kom? Verstaan ons as voorheen-bevoordeeldes ons rol in die post-1994 samelewing (of selfs pre-1994)? Weet ons wat om daaraan te doen en waar om hande te vat?

Swart frustrasie het nie ten doel om wittes se toekoms te verydel nie. Maar ons sal moet erkenning gee aan die legitimiteit daarvan.

Dit help nie ons trek nou laer, soos die ATKV se Japie Gouws verlede week gewaarsku het, en hou ons met beuselagtighede op nie.

Wat maak dit saak of die minister van kuns en kultuur die Anglo-Boereoorlog tot die Suid-Afrikaanse Oorlog herdoop het? Dis al vir jare die akademiese gebruik.

En wil mense werklik na kwasi-historiese dokumentêre rolprente kyk om te sien hoe sleg die ANC voor 1994 was? Dis laergraad-propaganda.

Daar is 'n nasionale debat wat daarbuite woed. Ons kan nie bekostig om nie deel daarvan te wees nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.