Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dís ook maar hande was, Cyril

Vir sy erkenning in ’n nasionale toespraak dat die regering foute gemaak het met die Covid-19-krisis, is pres. Cyril Ramaphosa tereg wyd geloof.

“Sommige van ons maatreëls was onduidelik, sommige teenstrydig, sommige is swak uiteengesit en sommige het baie woede en teenstand onder baie van u ontlok,” het Ramaphosa gesê.

Hy het bygevoeg dat die inwerkingstelling van sekere maatreëls te stadig was, en die afdwing daarvan by tye inkonsekwent en te kragdadig.

Dawie het self in dié ruimte Rama­phosa krediet gegee vir ’n welkome afwyking van die diepgewortelde ANC-geloof dat die party en sy ampsdraers onfeilbaar is. Maar terselfdertyd is uit-gewys dat daar nog heelwat vrae hang: Presies watter foute is gemaak? Wat is die gevolge? Wie het gefouteer? Gaan diegene verantwoordbaar gehou word? Wat word gedoen om die foute en die gevolge daarvan reg te stel?

Dit is nou reeds drie weke later, en geeneen van dié vrae is nog na behore beantwoord nie. Inteendeel, die vrae vermenigvuldig en raak al tergender.

Één so ’n vraag is byvoorbeeld waar Ramaphosa staan rakende die tragiese dood van Collins Khosa, wat oorlede is nadat hy ingevolge die inperking deur lede van die veiligheidsmagte by sy huis in Alexandra aangerand is.

Ná die striemende uitspraak van regter Hans Fabricius is daar ernstige vrae waarom die twee betrokke ministers, Nosiviwe Mapisa-Nqakula (verdediging) en Bheki Cele (polisie), nie ’n gedragskode met operasionele prosedures uitgevaardig het nie.

Indien nie, hoekom nie? Hy is immers die opperbevelvoerder van die veiligheidsmagte. Indien wel, gaan hy die twee betrokke ministers tot verantwoording roep?

Dat daar vergrype sou plaasvind, was immers redelikerwys heeltemal voorsienbaar. Waarom anders sou Rama­phosa die moeite gedoen het om in persoon voor die weermag en polisie te verskyn met die boodskap dat dié nie ’n tyd vir skop, skiet en donder is nie?

Het Ramaphosa naas dié mooiklinkende boodskap ook vir Cele en Mapisa-Nqakula onder vier oë geneem met die pertinente instruksie om te sorg dat daar op die vlak van bevel-en-beheer volkome duidelikheid is oor hoe opgetree moet word en wat die gevolge van oortredings sou wees?

Indien nie, hoekom nie? Hy is immers die opperbevelvoerder van die veiligheidsmagte. Indien wel, gaan hy die twee betrokke ministers tot verantwoording roep?

Dit val weliswaar uiters vreemd op dat hy Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie, blitsvinnig voor stok gekry het vir ’n middagete wat inperkingsregulasies verbreek het, maar steeds swye handhaaf oor die hele Khosa-aangeleentheid.

Dawie se kommer het verder verdiep met die lees van die regering se respons in die aansoek van Reyno de Beer en die Liberty Fighters Network om die inperkingsregulasies ongrondwetlik te laat verklaar.

Vergeet vir die oomblik dat die hof die maatreëls wel as irrasioneel bestempel het en die regering opdrag gegee het om dit te hersien. Die belangrikste hier is die regering se erg skouerophalende en ondeurdagte repliek in die aansoek waarluidens “die doel die middele heilig”. Hoe toondoof!

Gaan die regering ook vir Khosa se familie sê dat die doel die middele geheilig het? En hoe opreg is Ramaphosa dan werklik – enersyds met sy erkenning dat foute gemaak is, en andersyds met die onderneming dat dit reggestel sal word – as die doel nou maar die middele heilig?

Nogmaals: Dis een ding om mooiklinkende staatsman-toesprake te lewer, maar dis ’n ander ding om verantwoordbaarheid die hele regering en staatsmasjinerie te laat deursuur.

Sonder laasgenoemde is eersgenoemde maar net nog ’n manier om jou hande in onskuld te was.

Meer oor:  Dawie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.