Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dis rustyd vir skolesport – én vir Pieter

Skolesport was nog altyd ’n integrale deel van die opvoedingsproses. Dit bied ’n uitlaatklep aan kinders om van oortollige energie ontslae te raak. Dit leer hulle om saam te werk as ’n span, hul spanmaats te vertrou en jou opponent te respekteer. Hulle leer dat sukses net moontlik is as elkeen sy deel doen. Dit kweek leierskap en dissipline: vaardighede wat hulle in die toekoms met vrug sal gebruik.

Om dié rede het ek betrokke geraak by skolesport. Ek het immers self aan nierassige sport deelgeneem. Om tyd saam met leerlinge op die sportveld te bestee, was ’n vreugde. Dit het ons nader aan mekaar gebring en wedersydse re­spek gekweek. Die dissipline op die sportveld het oorgespoel na die klaskamer.

Nadat ek my rugby- en krieketstewels weggepak het, is ek genader om by die bestuur van die Boland Skolesportunie vir hoërskole betrokke te raak. Saam met die Boland Laerskole (onder leiding van Pieter Lourens) is 18 sportkodes aangebied in voorheen benadeelde skole. Om vir die nasionale toernooie te kwalifiseer, is meegeding in ’n weeklikse liga in krieket, tennis, sagtebal, swem, bofbal (somertoernooi), atletiek (herfstoernooi), tafeltennis, netbal, sokker, hokkie, vlugbal, rugby (winter), gimnastiek, landloop, basketbal, trompoppies en skaak.

Op dié manier is lewenslange vriendskappe gesluit én kinders het hul land leer ken.

Geld en borge was daar nie. Omdat deelname belangrik was, moes skole hard werk vir leerlinge se sportuitrustings en die vervoer na toernooie. Kinders het by die plaaslike gemeenskap tuisgegaan. Op dié manier is lewenslange vriendskappe gesluit én kinders het hul land leer ken. Die jaarlikse sportbanket waar leerlinge vereer is, was ’n hoogtepunt op die sportkalender. Boland is meer as een keer aangewys as die top-skolesport-provinsie.

Ek verstaan dus die teleurstelling toe kontaksport verlede week opgeskort is. Statistieke toon dat infeksies voorgekom het by skole in die Wes-Kaap, Gauteng, Noordwes en die Vrystaat – meestal onder leerlinge wat aan sport deelgeneem het. Dit is jammer dat kinders daaronder moet ly. Dikwels is dit nie hulle nie, maar omstanders wat die Covid-19-regulasies verontagsaam. Maar vir eers kom kinders en onderwysers se veiligheid eerste.

Dis nie net kontaksport wat verpligte rustyd neem nie. In die twee dekades wat ek en Pieter Lourens saamgewerk het, was ek getuie van sy passie vir skolesport. Ek was daar toe hy in 1994 onverskrokke baklei het dat die arm kind van die townships dieselfde regte geniet as die bevoorregte kind. Sy sukses kan gemeet word aan die talle sportlui uit arm gemeenskappe wat Suid-Afrika tans op die internasionale verhoog verteenwoordig.

Toe dié voormalige Saru-slotvoorspeler onlangs aankondig dat hy as hoof van die Laerskool William Lloyd (en by implikasie ook uit skolesport) uittree, het ek ’n gevoel van déjà vu ervaar. Dis die einde van ’n era. Skolesport in die Boland sal nooit weer dieselfde wees nie.

Meer oor:  Michael Le Cordeur  |  Skolesport  |  Onderwys  |  Virus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.