Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dis skaamtelose rassisme, Zindzi
Leopold Scholtz

Die twiet-tirade van Zindzi Mandela, dogter van wyle Nelson en Winnie Mandela en tans ambassadeur in Denemarke, vestig die aandag opnuut op die begrip rassisme.

Was die ambassadeur rassisties? Baie hang natuurlik daarvan af hoe jy die begrip definieer. Die geykte definisie is ’n oortuiging dat een – gewoonlik jou eie – ras meerderwaardig bo ander is.

Hitler het byvoorbeeld geglo die Ariese (of Germaanse) ras is biologies en kultureel meerderwaardig bo alle ander, dat dié dus voorbestem is om die wêreld te oorheers en dat die minderwaardiges óf moes uitsterf óf tot slawerny gedoem was.

Dus, oor hom kan daar geen meningsverskil wees nie – hy was ’n rassis.

Die laaste jare het ’n nuwe definisie uit Amerika oorgewaai. Rassisme, word gesê, gaan noodwendig met magsuitoefening gepaard – met die implikasie dat iemand sónder mag geen rassis kan wees nie.

Overgezet zijnde, in sowel die Amerikaanse as die Suid-Afrikaanse konteks: Slegs wit mense (die groep met die mag) kan rassisties wees; swart mense (sonder mag) kan dit nié wees nie.

Nou ja, as jy ’n begrip só herdefinieer dat dit jou pas, kan jy die argument natuurlik nie verloor nie. Laat ek my dus by wyse van spreke aan dieselfde sonde skuldig maak en dit ook herdefinieer.

Daar is ’n pragtige kortverhaal van Herman Charles Bosman waar ’n boer alles wat negatief is aan swart mense toeskryf. Maar as hy dink aan die swart individue wat hy persoonlik ken, ontdek hy geeneen voldoen aan die karikatuurbeeld wat hy aan swart mense kollektief toeskryf nie.

Dis die oortuiging dat álle swart mense lui is, dat álle wit mense bars en heerssugtig is, dat álle Jode skelm is, dat álle Duitsers bedekte Nazi’s is, noem maar op.

Hiermee illustreer Bosman die soort rassisme wat ek in gedagte het. Dis die oortuiging dat álle swart mense lui is, dat álle wit mense bars en heerssugtig is, dat álle Jode skelm is, dat álle Duitsers bedekte Nazi’s is, noem maar op.

Dis die houding wat nie in aanmerking neem dat jy verbý jou karikatuurbeeld van die groep moet kyk na die individu waarmee jy op ’n gegewe oomblik te make het nie.

Ja, sommige wit mense, om saam met Mandela te praat, wás gronddiewe. Die meeste was dit nie en het hul grond (en rykdom) volkome wettig en met harde werk gekry.

Ja, sommige Jode ís skelm. Die meeste is nie oneerliker as jy en ek nie (het jy – of ek – dan nog nooit ’n leuen vertel nie?) Ensovoorts.

Wat doen Zindzi Mandela? Sy skeer alle wit mense summier oor een kam – die groep is misdadig. Dis presies dieselfde as wat Julius Malema gereeld en met oorgawe doen, en dis dieselfde as wat agtereenvolgende geslagte Engelse met Afrikaners gedoen het.

En, laat ons eerlik wees, dis ook dieselfde wat Afrikaners alte dikwels met swart en bruin mense gedoen het.

Dis dalk maar eie aan die menslike natuur. Maar dit beteken nie dis rég nie. Egte volwassenheid vereis van ’n mens dat jy genuanseerd oor die lewe en die samelewing nadink, en dat jy ander mense (en groepe) behandel soos jy self behandel wil word. (Bekende woorde, nie waar nie?)

Daar is nog ’n logiese probleem met die oortuiging dat slegs diegene wat mag het rassisties kan wees. Die doel van die argument is immers om alle swart mense outomaties van rassisme vry te spreek.

Wel, Zindzi Mandela klink nie vir my na ’n magtelose iemand nie. In haar eie omgewing is sy die baas van die ambassade, iemand met aansienlike mag.

Bowendien is sy iemand van aansien in die ANC en in die regering, en as sodanig kan sy op geen denkbare manier as magteloos beskou word nie.

Die gevolgtrekking: Mandela se twiet-tirade teken haar as ’n skaamtelose rassis. Sela.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Zindzi Mandela  |  Leopold Scholtz  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.