Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dis soms bitter moeilik om die waarheid te lieg

Sigarette, besluit ek Donderdagoggend. Hierdie week wil ek oor onwettige sigarette in hierdie rubriek skryf.

Ek rook nie, maar ek hoor knaend hoe rokers sukkel om sigarette in die hande te kry sedert die wettige verkoop daarvan verbied is.

Miskien moet ek die storie in die derde persoon vertel, uit die oogpunt van ’n man, middeljarig en wit, besluit ek. Iemand soos ek. Iemand wat ’n gehoorsame landsburger wil wees en die virusregulasies probeer nakom. Maar met ’n alte menslike swakheid: sigarette.

Ek gaan sit voor my rekenaar en begin tik aan die storie: Hoe hierdie fiktiewe ou hoor van ’n winkeltjie in die rowwe gedeelte van die dorp waar onwettige sigarette glo verkoop word, soos dit deesdae is.

Hoe hy skrikkerig is om soontoe te gaan. Netnou word hy beroof. En sê nou die polisie vang hom? Hoe hy al twyfelende na die winkeltjie toe ry om sigarette te gaan probeer koop. Toe hou ek op met tik. Ek het al sulke winkeltjies gesien, maar ek was nog nie in een nie. Hoe ruik dit daar binne? Wat is op die rakke? Ek sal moet gaan kyk. As jy die waarheid wil lieg, moet jy akkuraat lieg.

Vredenburg is die naaste dorp aan Jacobsbaai waar jy moontlik onwettige sigarette kan koop. Ek ry soontoe. Links by die Ford-garage. Dit is nie ver van die dorp se taxistaanplek af nie. Hier naby kan die winkeltjie wees waar die ou in my storie sigarette gaan probeer koop.

Dit is die gedeelte van die dorp wat my laat dink: Afrika. Al wil ek dit nie dink nie. Ek is lief vir Afrika, ek wil nêrens anders woon nie, maar iets van sulke plekke maak my bang. Miskien is dit die lawaai: die toeters en harde stemme. Hier stap een rustig oor die straat – reg voor jou in. ’n Maer brak draf met swaaiende tepels verby.

Ek wil ook lag, maar is terselfdertyd kwaad oor regulasies wat van wetsgehoorsame burgers kriminele en jong mans smokkelaars maak.

Terwyl ek ry, skryf ek aan die storie in my kop: ’n Rastaman wat kruie en boomwortels verkoop. Teen ’n muur ’n advertensie vir veilige aborsies. Die ou in my storie besluit om eerder in Checkers se parkeerterrein te gaan stilhou. Dis veiliger daar.

Uit die menigte kom ’n jong man, al beduiende. Ek word koud, tot ek sien in sy hand is drie pakkies. Sigarette! Ek hou op die sypaadjie stil, druk my selfoon onder die sitplek in.

“Soek my larnie entjies?” kom sy stem nog voor die ruit oop is. “Net R50, my larnie.” JFK, staan op die pakkie. Nog twee outjies kom staan by hom, ook met pakkies sigarette in die hand.

Eintlik skryf ek net ’n storie, verduidelik ek. Die drie ouens kyk na mekaar, en lag. Die larnie skryf ’n storie.

Ek wil ook lag, maar is terselfdertyd kwaad oor regulasies wat van wetsgehoorsame burgers kriminele en jong mans smokkelaars maak. Ek haal R50 uit my beursie en koop ’n pakkie JFK vir die ou in my storie, en almal soos hy.

Oorkant die straat hou ’n Volvo stil. Die outjies draf soontoe met hul sigarette. Ek begin stadig terug huis toe ry. In hierdie land raak dit ál moeiliker om die waarheid te lieg.

Meer oor:  Menings  |  Sigarette  |  Dana Snyman  |  Van Alle Kante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.