Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dis tyd dat Cyril wys wie is baas
Judith February
Judith February.

Op dieselfde dag dat Statistieke SA aangekondig het dat Suid-Afrika se ekonomie in die eerste kwartaal van die jaar met 3,2% gekrimp het, het die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, aan die media verklaar die party se nasionale uitvoerende komitee het besluit die mandaat van die Reserwebank moet verbreed word.

’n Deel van die aanloop is ’n resolusie wat in 2017 op die ANC se verkiesingskonferensie geneem is dat die Reserwebank ten volle deur die staat besit moet word, dit wil sê genasionaliseer moet word. Die resolusie het egter nie die bank se mandaat aangesny nie.

Om met die Reserwebank te wil lol, is al lank die uitgediende mantra van hulle in die ANC wat ook in die koor van “radikale ekonomiese transformasie” sing. Ons weet nou al dat dit eintlik maar net op die radikale stroping van die staat neerkom.

Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, het die mandaat en onafhanklikheid van die bank heftig verdedig. Hy weet waarskynlik dat waaraan die kansvatters in die ANC raak vinnig tot niet kan gaan.

Die argument oor die rol en mandaat van die Reserwebank is nie nuut nie. Dit was nog altyd Cosatu se mening dat dit weer bekyk moet word. Trouens, sowel Cosatu as die EFF het in 2016 daarop aangedring dat die Reserwebank genasionaliseer word.

Wanneer ’n situasie ellendig is, behoort ons te kan verwag dat die regering moet lei en nie sake vererger nie.

Nog ’n opmerking van Magashule dat werkloosheid ’n “nasionale noodtoestand” is en binne vyf jaar met 13% verminder sal word, is loutere onsin wat nie deur iemand in sy posisie kwytgeraak moet word nie. Nog minder behoort hy hom oor die ekonomie – iets waarvan hy min verstaan – uit te laat.

Hy is wel reg dat die ekonomie in ernstige nood verkeer. Die kuur daarvoor is egter ontwykend en daar is nie kitsoplossings vir werkloosheid en ’n stagnante ekonomie nie.

Wanneer ’n situasie ellendig is, behoort ons te kan verwag dat die regering moet lei en nie sake vererger nie.

Onmiddellik ná Magashule se uitlatings het die minister van finansies, Tito Mboweni, hom na sosiale media gewend om te sê dat die regering die mandaat van die Resewebank bepaal.

Intussen het die ANC se hoof van ekonomiese transformasie, Enoch Godongwana, gesê geen besluit is geneem om die Reserwebank se mandaat te verbreed nie, en dat Magashule se uitlatings oor kwantitatiewe versagting “onakkuraat” is.

Wie moet ’n mens glo? Mboweni, Kganyago of die ANC – en watter deel van die ANC? En daar lê die ding.

Die ANC kan nie met ’n enkele stem praat nie omdat Magashule en sy faksie aktief probeer om pres. Cyril Ramaphosa te ondermyn. Dít is duidelik vir almal, en die verwarring moet deur dié lens gesien word.

Die verwarring is eindelik tot in ’n mate deur ’n verklaring van Ramaphosa as president van die ANC besweer. Dit het dalk egter ’n bietjie laat gekom.

Dis tyd dat Ramaphosa lei met die mandaat wat op 8 Mei aan hom gegee is. Hy kan nie meer ligvoets trap om diegene wat besig is om ’n ekonomie wat reeds aan flarde is verder te vernietig nie. Dit veroorsaak onsekerheid wat die land allermins kan bekostig.

Hy moet sy teenstanders in die ANC die stryd aansê op sterkte van sy verkiesingsoorwinning. Dit sal onder meer beteken dat hy alliansies oor die breë gemeenskap, waaronder die sakewêreld en burgerlike samelewing, moet smee om die Magashule-faksie so ver moontlik uit te druk.

Ramaphosa sal hopelik met sy staatsrede op 20 Junie genoeg helderheid verskaf om die vraag oor wie in beheer van die land is te beantwoord. Hy kan nie bekostig om vaag te wees nie, want dié toespraak sal die toon vir die volgende baie moeilike vyf jaar aangee.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Cyril Ramaphosa  |  Judith February  |  Werkloosheid  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.