Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dis tyd dat die koller en taai moet terugkom
Martie Retief Meiring

Jy ken die nagmerrie: Jy word na ’n deftige ete genooi en jy daag in jou pajamas op.

Nou wil ek, met verskoning, suggereer dat ’n soortgelyke nagmerrie dalk met die eeufeesviering van die Afrikanerbond (AB) gebeur het.

Dis nou nie dat ’n mens stylpolisie wil speel nie (daar is oorgenoeg van diesulkes), maar rêrig, waarom sal die agbare lede van hierdie baie ou instelling oopnekhemp opdaag by die swierige dinee?

’n Oopnekhemp is nie ’n sonde nie, maar is dit nie soms ook soos om te vergeet om sokkies by jou kerkskoene te dra nie?

Die voorgangers van die AB, die Broederbond, het nooit in die openbaar verskyn sonder pak, das, hoed en blink skoene nie.

Enersyds was dit deftig, andersyds nogal erg intimiderend (veral vir ons wat aan die ander kant van die draad was, bedoelende vroue). Maar die styl het gewerk. Hier was manne wat ernstig was. Dis die ding met oopnekhemde: Is dit jou erns?

Hoekom gekoller en getaai wees? Omdat die klere die man maak.

Die televisiedekking van die AB­-dinee was geskiedkundig in die opsig dat die president die dinee juis gekies het om ’n belangrike toespraak te maak by wat hy stellig as ’n baie invloedryke Afrikaner-instansie beskou. Onder meer om erkenning te gee aan die boere van die streek wat hard aan transformasie werk. (Goed, hy het nou wel nie vers en kapittel vertel hoe grondonteiening vorentoe gaan werk nie).

Wel het ’n bekende Stellenbosse geskiedkundige by die geleentheid sy gewone dasloosheid “gedra”. Maar professore bly professore en dié professor was, sover ek weet, nooit lid van die eens deftige Afrikanerbond nie.

Hoekom gekoller en getaai wees? Omdat die klere die man maak. Kyk juis hoe ons Springbokke van sweterige monsters op die veld na regopskouer, trotse skoongesig-manne in hul baadjies gekoller en getaai lyk wanneer hulle iewers amptelik optree.

Bheki Cele is voldoende bewys van die mag van die hoed.

Hoekom sou die man met die swakste smaak in truie juis gekoller en getaai as satirikus in TV se Die nare waarheid verskyn? Want selfs ’n Schalk Bezuidenhout kan dan gesaghebbend die draak steek met die ganse wêreld.

Natuurlik sal jy gekoller en getaai op jou stroper of agter jou skape of om jou braai soos ’n idioot lyk. Maar jy kan jou voorstel dat die EFF gekoller en getaai minder nonsens sou praat; of dat selfs vakbondbase meer oortuigend sal lyk en klink sonder al daardie borshare wat uitsteek.

Wie weet, as die das sy terugkeer maak, sal die hoed dalk ook. Bheki Cele is voldoende bewys van die mag van die hoed.

Mense – nie net misdadigers nie – sukkel nie met ’n man met ’n hoed op nie (om nie op Potchefstroom se prof. Dan Kgwadi se sensitiewe siel te trap nie, sal ek nie vergelykings met die verlede maak nie . . .).

Die das (en ’n hoed) kan dalk ’n verskriklike kolonialistiese ding wees (en dit is), maar wraggies, dit gee darem status. Stry?

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.