Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
'Dis tyd dat rugbybase se koppe rol'

Suid-Afrikaanse rugby se probleme sal nie opgelos word deur net elke twee of vier jaar die Springbok-afrigter die trekpas te gee nie. Daarvoor is die krisis te erg, skryf Gert van der Westhuizen.

Die beleërde Springbok-afrigter Allister Coetzee. Foto: AP

Ná die Springbokke se onlangse rekordnederlaag teen Ierland, die soveelste skande die afgelope drie jaar, is uit verskeie oorde aangedring op die afdanking van die Bok-afrigter, Allister Coetzee, en sy bestuurspan.

Dit moet sommer so gou moontlik gebeur, is gevra. Nou lyk dit of die naweek se toets teen Wallis Coetzee se laaste een as afrigter kan wees. 

Maar die rugbykrisis strek veel verder as die Bokke se vertonings; dit was duidelik toe Suid-Afrika se bod misluk het om die 2023 Wêreldbeker-toernooi aan te bied.

Dit was die vierde agtereenvolgende keer dat Suid-Afrika onsuksesvol probeer het om gasheer vir die Wêreldbeker-toernooi te speel.

As Suid-Afrika dalk in 2027 die toernooi uiteindelik weer aanbied, sal dit beteken dat ’n land wat al twee keer wêreldkampioen was vir ’n hele 32 jaar nie gasheer kon speel vir ’n Wêreldbeker-toernooi nie.

Daar word nou baie gemaak van rugstekery met die stemmery en die feit dat Frankryk die jawoord as gasheer vir 2023 gekry het omdat meer wins gemaak sal word as die toernooi in Europa gehou word.

Lyk of die wêreld al hoe minder van ons dink

Dit mag dalk so wees, maar dui die besluit nie ook op gebreke in Suid-Afrikaanse rugby se topbestuur nie?

Die land se rugbybase moet Suid-Afrikaanse rugby in die res van die wêreld bemark, maar dit lyk nie of hulle dit regkry nie. Inteendeel, dit lyk of die wêreld al hoe minder van Suid-Afrikaanse rugby dink.

Die rugbybase het gehoop die aanbied van die Wêreldbeker-toernooi sal die finansiële krisis in Suid-Afrikaanse rugby verlig. Nou is hul hoop op die toer van die Britse en Ierse Leeus in 2021 om dit te doen, maar die Leeus het reeds geluide gemaak dat hulle die toer wil verkort weens die swak teenstand wat hulle in Suid-Afrika kan verwag.

Jurie Roux, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, met die bekendstelling van die Curriebeker-reeks in 2014. Foto: Deaan Vivier

Intussen duur die finansiële krisis in Suid-Afrikaanse rugby voort. Die Westelike Provinsie het al bankrot gespeel en die Blou Bulle moes al beamptes afdank weens geldknyp. Die Springbokke het vanjaar in ekonomiese klas via Doha na Brittanje gevlieg om geld te spaar. (’n Mens kan nie help om moedswillig te wonder of die beamptes en ministers wat minstens twee keer Londen toe en terug is vir die mislukte bod ook in ekonomiese klas ingeprop is.)

Mense gaan kyk nie meer Curriebeker-rugby nie, die Superreeks lok hulle nie meer nie, die Pro14-reeks is nog ’n nuutjie en selfs met Springbok-toetse word die leë sitplekke in paviljoene al hoe meer.

Die rugbybase sukkel ook om rugby behoorlik te transformeer sodat meer spelers én toeskouers na vore kan tree. Transformasie gaan oor meer as bloot getalle spelers van sekere velkleure in spanne. Dit gaan oor die skep en bevordering van ’n sterk rugbykultuur in veral die swart gemeenskap; as dit nie gebeur nie, sal die paviljoene leeg en die groep spelers beperk bly.

Verloorspanne lok nie mense na paviljoene

Boonop wil mense nie na verloorspanne gaan kyk nie. Die afgelope vier jaar het die Springbokke die een troostelose vertoning ná die ander gelewer: ’n eerste nederlaag ooit teen Argentinië, ’n tweede nederlaag ooit teen Wallis, ’n vernederende nederlaag teen Japan, ’n eerste tuisnederlaag teen Ierland, die eerste nederlaag sedert 2006 teen Engeland, die skandalige nederlaag teen Italië, die derde nederlaag ooit teen Wallis, nog ’n nederlaag teen Argentinië en rekordnederlae (twee) teen Nieu-Seeland en Ierland.

Dit is, nes die swak bestuur van rugby wat tot leë paviljoene en dreigende bankrotskap gelei het, nie die skuld van een afrigter nie. Coetzee was byvoorbeeld nie in 2015 die Bok-afrigter nie, nes Heyneke Meyer dit nie in 2016 was nie.

Handré Pollard, Eben Etzebeth en Jesse Kriel tydens die Bokke se onlangse rekordnederlaag teen Ierland. Foto: Gallo Images

Maar Jurie Roux was wel die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) in die tydperk van Springbok-skandes en ander mislukkings in die raadsale en met die onderskeie kompetisies. Die oninspirerende Mark Alexander is darem eers van 2016 president van die sukkelende Saru en kan seker nie pa staan vir alles nie. Tog maak dit ’n mens bekommerd dat hy nes Roux die onsinnige idee van twee Springbok-spanne geopper het; iets wat rugby-ondersteuners baie bekommerd moet maak, want as die “eerste span” met 0-57 teen die All Blacks verloor, wil ’n mens nie eens dink aan wat met ’n “tweede span” span sal gebeur nie.

Die afdanking van die Springbok-afrigter sal nie ons probleme oplos nie.

Dit het dalk tyd geword dat Saru se topbestuur verantwoording moet begin doen vir wat verkeerd loop. Ons kla elke dag oor die regering en dring gereeld daarop aan dat pres. Jacob Zuma vervang moet word. Probleme met die regering, staatskaping en korrupsie kan tog nie opgelos word deur ’n junior minister af te dank nie.

Net so sal die afdanking van die Springbok-afrigter nie ons rugbyprobleme oplos nie. In 2003 was Bok-rugby ook in ’n krisis en die afrigter en topbestuur is toe vervang en ’n nuwe goue era is ingelui.

Dalk moet daar weer na die topbestuur en nie net die afrigters gekyk word nie. En as koppe moet rol, moet dit gebeur.

Dalk eerder vroeër as later.

* Van der Westhuizen is ’n artikelskrywer vir Netwerk24 en voormalige sportredakteur van Beeld.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.