Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dis tyd vir aksie, nie nog woorde
Henry Jeffreys

Pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat die Covid-19-inperkingsvlak van 3 na 2 verlaag word, was nie heeltemal ’n verrassing nie. Die tekens was ’n geruime tyd al daar dat die land genoeg gedoen het om die pandemie onder beheer te bring.

Om die inperking op vlak 3 te gehou het, sou net meer skade as goed doen. Op vlak 2 is die ekonomie byna heeltemal oopgestel en normale aktiwiteit kan hervat word.

Vlak 2 kan egter ook ’n baie gevaarlike tyd wees. Ons moet nou versigtig wees om nie oorboord te gaan soos wat ons deur die loop van die pandemie gedoen het nie. Dit is nou nóg belangriker dat ons hou by die basiese voorskrifte om te keer dat die pandemie nie met mening ’n terugkeer maak nie.

Vlak 2 beteken ook nie die pandemie is iets van die verlede nie. Inteendeel. Wat vorentoe gebeur, is in óns hande. Die druk verskuif van die regering na die burgers – óns optrede sal bepaal wat vorentoe gebeur.

Die omvang van die pandemie in Suid-Afrika is die vyfde ergste ter wêreld. Dit is nie ’n rekord wat enige land wil hê of iets om op trots te wees nie.

Laat ons nou maar eerlik wees: Suid-Afrikaners se gedrag in die ergste tyd van die pandemie was by tye eenvoudig roekeloos en het bygedra tot die ontploffing in die infeksiesyfers.

In sy aankondiging Saterdagaand het die president klem gelê op die groter verantwoordelikheid wat nou op die skouers van gewone burgers rus.

Laat ons nou maar eerlik wees: Suid-Afrikaners se gedrag in die ergste tyd van die pandemie was by tye eenvoudig roekeloos.

Die situasie kan verbeter indien ons dit met omsigtigheid benader. Oral in die wêreld kom mense tot die besef dat die dra van maskers nie ’n las is nie, maar ’n uitweg. Dit is tyd dat ons in Suid-Afrika tot dieselfde besef kom en ons kant dienooreenkomstig bring.

Die verslapping van die inperkingsmaatreëls word oral verwelkom as die regte stap onder die omstandighede. Ons moet egter op die uitkyk wees vir die koms van ’n moontlike tweede golf van Covbid-19-infeksies.

Dit is dus noodsaaklik dat ons nie die oog van die bal afhaal nie. Ons moet paraat bly om ’n opvolguitbreking af te weer. Dit kan inderdaad verhoed word as almal die regte dinge doen.

’n Tweede golf sal katastrofies wees en al die winste op die mediese front tot nou in die stryd teen die pandemie uitwis. Op die ekonomiese front moet die regering sy huis in orde kry en begin om die regte besluite te neem.

’n Prioriteit moet wees om korruptes wat die ekonomie rysmier met mening vas te vat. Veral die korrupsie met die aankoop van beskermende toerusting in die stryd teen Covid-19 moet sigbaar en met mening vasgevat word.

Korrupsie in Suid-Afrika het ’n verlammende uitwerking op die ekonomie en ons ekonomiese krisis kan in baie opsigte regstreeks toegeskryf word aan dade van korrupsie deur lede van die regerende elite.

Adv. Shamila Batohi, die nasionale direkteur van openbare vervolging, behoort teen hierdie tyd meer as voldoende prima facie-bewyse te hê om op te tree teen lede van die ANC wat hul hande in die kasregisterlaai druk.

Sy moet gesien word dat sy optree, al is dit net om ’n duidelike boodskap te stuur aan vermeende oortreders dat hul oomblik van afrekening aangebreek het.

Met Covid-19 het korruptes nuwe vlakke van onderduimsheid bereik. Die land kan dit eenvoudig nie bekostig dat die skaars en waardevolle hulpbronne wat bedoel is vir die verligting van menslike pyn en lyding uitgebuit word deur gewetenlose skurke vir hul eie gewin nie.

Die weg na ekonomiese herstel sal nie suksesvol genavigeer kan word terwyl dit besaai is met so baie struikelblokke van korrupsie nie.

Dit is tyd vir aksie, adv. Batohi, nie goedbedoelde dog leë woorde nie.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Inperkingsregulasies  |  Woorde  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.